ROMEINE 6:15-23

ROMEINE 6:15-23 Bybel vir almal (ABA)

Ja, die wette regeer nie oor ons nie, die genade van God regeer oor ons. Kan ons nou sê ons mag aanhou sonde doen? Nee, nooit nie! Julle moet dit weet: Wanneer julle doen wat ander mense vir julle sê, dan is julle soos slawe. Maar wanneer julle doen wat die sonde sê, dan is julle slawe van die sonde, en dan sal God julle vir altyd laat sterf. Wanneer julle doen wat God vir julle sê, dan is julle slawe van God, en dan sal God julle vryspreek. Ek sê vir God dankie, want julle was voorheen slawe van die sonde, maar nou is dit vir julle lekker om die dinge te doen wat julle geleer het. Die sonde regeer nie oor julle nie, God het julle vrygemaak van die sonde, en nou is julle God se slawe en julle doen nou wat reg is. Ek weet dit is nie maklik om te verstaan wat ek vir julle sê nie, en daarom gaan ek dit nou vir julle só verduidelik: Voorheen was julle slawe van die sonde, julle het julle liggame gebruik om meer en meer slegte dinge te doen, dinge wat teen God se wette is. Maar God het julle vrygespreek, julle is nou God se slawe. Daarom moet julle nou julle liggame gebruik om die regte dinge te doen. Dan sal julle heeltemal aan God gewy wees. Toe julle slawe van die sonde was, het die sonde oor julle regeer. Julle het nie gedoen wat God wil hê nie. Maar dit was nie goed vir julle nie. Julle het dinge gedoen waaroor julle nou skaam is. As julle aangehou het om daardie dinge te doen, dan sou God julle vir altyd laat sterf het. Maar nou het God julle vrygemaak van die sonde, en julle is God se slawe. Julle dien nou vir God en julle sal iets kry wat goed is: God sal julle heeltemal aan Hom wy en Hy sal vir julle die ewige lewe gee. As mense slawe van die sonde is, dan sal God hulle vir altyd laat sterf. Maar God is goed vir ons, Hy sal vir ons die ewige lewe gee, vir ons wat behoort aan Christus Jesus, ons Here.

ROMEINE 6:15-23 Die Boodskap (DB)

Beteken dit nou dat ons maar kan sondig omdat ons nie meer die wet hoef te gehoorsaam nie? Kan ons leef soos ons wil omdat God ons uit genade red? Nee, natuurlik nie. Julle weet mos hoe dit gaan: jy dien die een in wie se diens jy staan. Wat ek bedoel, is dit: as jy in die mag van die sonde is, sal jy aanhou sonde doen. Dan is die dood jou voorland. Maar aan die ander kant, as jy God dien, sal jy doen wat Hy sê. Dan wag die ewige lewe op jou. Ek sê vir God dankie dat Hy julle, wat julle hele lewe lank vir die sonde gewerk het, heeltemal vrygemaak het. Dit is hoekom julle nou luister na alles wat Hy deur die apostels en sy ander dienaars vir julle leer. Julle is nie meer slawe van die sonde nie. Nee, julle is nou God se slawe. Nou kan julle leef soos Hy dit wil hê. Verskoon maar dat ek so ’n alledaagse beeld gebruik. Dalk help dit julle om te begryp wat ek sê. Vroeër het julle julle oorgegee aan al wat sonde is. Met groot oorgawe het julle alles gedoen wat boos en sleg is. Nou moet julle met dieselfde oorgawe doen wat reg is. Leef soos mense wat eenkant geplaas is om God voltyds te dien. Vroeër was julle verslaaf aan die sonde. Julle kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Dink ’n bietjie: Was dit die moeite werd om so in die sonde rond te lê? Wat het dit julle in die sak gebring? Net mooi niks nie! Kry julle nie skaam as julle terugdink aan wat julle alles aangevang het nie? Om in sonde te leef is niks anders as ’n doodloopstraat nie. Gelukkig het God julle hier kom uithaal. Julle is nou voltyds in sy diens. Hy verander julle lewens nou al hoe meer tot sy eer. Boonop wag daar ’n wonderlike toekoms op julle. Die dood is nie meer julle voorland nie. Nee, julle gaan vir altyd in God se splinternuwe wêreld bly. Ek sê weer: as ’n mens jou hele lewe lank vir die sonde werk, is die dood jou beloning. So eenvoudig is dit. God gee egter aan ons die ewige lewe verniet. Dit is sy geskenk aan ons wanneer ons in Christus Jesus as ons Here glo.

ROMEINE 6:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Aangesien God se genade ons vrygemaak het van die wet, beteken dit dat ons nou maar kan voortgaan met sonde doen? Hoegenaamd nie! Besef julle nie dat dít waarvoor ’n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe. Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is. Verlos van die sonde het julle nou slawe geword van dit wat reg is voor God. Ek praat op hierdie manier van slawe en base omdat dit makliker is om te verstaan. Voorheen het julle julle liggaamlike vermoëns diensbaar gemaak aan onreinheid en wetteloosheid en ’n wilde lewe gelei; net so moet julle nou al julle liggaamlike vermoëns aan die geregtigheid diensbaar maak en ’n lewe lei wat aan God toegewy is. Destyds toe julle slawe van die sonde was, het julle julle nie gesteur aan wat reg is voor God nie. En wat was die resultaat? Julle skaam julle nou daaroor, want wat julle destyds gedoen het, eindig in die ewige dood. Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat daarvan ’n lewe van toewyding aan God en die eindresultaat – die ewige lewe! Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here!