ROMEINE 6:9-13
ROMEINE 6:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.
ROMEINE 6:9-13 Bybel vir almal (ABA)
Ja, God het vir Christus weer laat lewe, en ons weet dat Christus nooit weer sal sterf nie, want die dood is nie sterker as Hy nie. Hy het een maal gesterf, Hy kan nie weer sterf nie. Die sonde kan Hom nie oorwin nie, nooit nie. Hy lewe en Hy lewe nou vir God. Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort. Julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom moet julle nie tevrede wees dat die sonde oor julle liggame regeer nie, dit is liggame wat sal sterf. Ja, julle moenie die slegte dinge doen wat julle wil doen nie. Julle moenie julle liggame gebruik om verkeerde dinge te doen nie, julle moenie die sonde dien nie. Nee, julle moet julle liggame gebruik om God te dien, want julle was dood, maar God het julle weer laat lewe. God het julle vrygespreek, daarom moet julle julle liggame gebruik om te doen wat reg is.
ROMEINE 6:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.
ROMEINE 6:9-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God. Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God.
ROMEINE 6:9-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Omdat hy weet dat Christus, wat uit die dode opgewek is, nie meer sterf nie; die dood heers nie meer oor hom nie. Want deurdat hy gesterf het, het hy een maal vir die sonde gesterf; maar deurdat hy lewe, leef hy tot eer van God. Net so reken julle ook dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God deur Jesus Christus, onse Here. Laat die sonde dan nie heers in julle sterflike liggaam, dat julle daaraan gehoorsaam sou wees in sy begeerlikhede nie. En moenie julle lede stel as werktuie van ongeregtigheid vir die sonde nie, maar stel julleself aan God oor as die wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid vir God.
ROMEINE 6:9-13 Die Boodskap (DB)
Ons glo dit omdat ons weet dat Jesus, nadat Hy uit die dood opgestaan het, nooit weer sal doodgaan nie. Die dood het nie meer ’n houvas op Hom nie. Toe Hy doodgegaan het, het Hy vir altyd ’n einde aan die mag van die sonde gemaak. Nou leef Hy as oorwinnaar daar by God. Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ’n houvas op julle kry terwyl julle nog hier op aarde leef nie. Moenie dat ’n enkele liggaamsdeel van julle ooit in diens van die sonde staan nie. Nee, gee julle lewens vir God, van kop tot tone. Onthou: Hy het julle saam met Jesus uit die dood laat opstaan. Doen net wat God sê met elke krieseltjie krag in elke liggaamsdeel van julle.
ROMEINE 6:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is. Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie. Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.