ROMEINE 9:19-23 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
ROMEINE 9:19-23 AFR83 (Afrikaans 1983)
Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?” Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê.
ROMEINE 9:19-23 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid
ROMEINE 9:19-23 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Jy sou nou kon vra: “Hoe kan God mense nog blameer as hulle nie luister nie? Hulle het tog maar net gedoen waartoe God hulle verplig het. Hulle kan tog nie teen sy besluit ingaan nie.” O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?” As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie? Net so het God ook die volste reg om die voorwerpe van sy oordeel, wat vir ondergang gereedgemaak is, nog met groot geduld te verdra sodat Hy uiteindelik sy oordeel en sy mag bekend kan maak. Net so het Hy die volste reg om sy oorvloedige heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy voorberei het om sy heerlikheid te ontvang.
ROMEINE 9:19-23 DB (Die Boodskap)
Jy sal dalk nou vir my sê: “Maar waarom blameer God ons dan vir alles wat hier op aarde verkeerd loop? Hy is tog in beheer van alles. Wie kan sy planne dwarsboom?” Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?” Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is, en ook iets waarvan hy net mooi niks hou nie. God kan dieselfde met ons doen. Sommige mense hier op aarde is soos kleipotte waarvan God net mooi niks hou nie. Hy staan reg om hulle met sy groot krag te vernietig. Tog verdra Hy hulle geduldig. Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit.
ROMEINE 9:19-23 ABA (Bybel vir almal)
Jy sê nou miskien: “God doen wat Hy wil doen, en mense kan dit nie keer nie. Hoekom is Hy ontevrede met dit wat ek doen?” Maar jy moet onthou jy is net 'n mens en jy kan nie teen God praat nie. Dit is dieselfde wanneer iemand iets maak. Daardie ding kan nie vir die persoon wat hom gemaak het, vra “Hoekom het jy my só gemaak?” nie. Jy kan ook dink aan 'n pottebakker. 'n Pottebakker kan enige iets van sy klei maak, enige iets wat hy wil. Hy kan van dieselfde stuk klei een ding maak wat baie spesiaal is en hy kan 'n ander ding maak wat nie spesiaal is nie. God doen dieselfde: Daar is party mense vir wie God moes gestraf het, en Hy wou hulle straf. God wou wys hoe sterk Hy is. Ja, Hy moes hulle gestraf het, Hy moes hulle vir altyd laat sterf het, maar Hy was geduldig, Hy het hulle nie gestraf nie. Hy het hulle nie gestraf nie, want Hy wou hê almal moet weet dat Hy, die Koning, baie goed is vir die mense wat Hy gereedgemaak het om eendag ook soos konings te wees.
ROMEINE 9:19-23 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog 'n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie?
ROMEINE 9:19-23 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Jy sal dan vir my sê: Waarom vind hy nog skuld? Want wie het sy wil weerstaan? Nee, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Sal die vorm aan hom wat dit gevorm het, sê: Waarom het U my so gemaak? Het die pottebakker nie mag oor die klei, van dieselfde deeg om een voorwerp tot eer te maak en 'n ander tot oneer nie? Wat as God, wat gewillig was om sy toorn te toon en sy krag bekend te maak, met lankmoedigheid die voorwerpe van die toorn verdra het wat geskik was vir vernietiging? En dat Hy die rykdom van sy heerlikheid kon bekend maak op die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy vantevore tot heerlikheid voorberei het