RUT 1:6-14 - Compare All Versions

RUT 1:6-14 ABA (Bybel vir almal)

Toe hoor Naomi die Here was weer goed vir sy volk, Hy het vir hulle reën gegee, en daar was weer kos in hulle land. Sy en haar twee skoondogters het gereedgemaak om terug te gaan uit die land Moab. Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda. Naomi het vir haar skoondogters gesê: “Julle moet teruggaan na julle ma's se huise. Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle, soos julle goed was vir my oorlede seuns en vir my. Ek bid dat die Here weer vir julle elkeen 'n man sal gee in wie se huis julle veilig kan woon.” Naomi het hulle gesoen, maar toe begin hulle huil. Hulle het vir haar gesê: “Maar ons wil saam met jou gaan na jou mense toe.” Naomi het gesê: “Nee, my dogters, julle moet teruggaan. Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek kan nie nog seuns kry wat julle mans kan word nie. Julle moet teruggaan, my dogters, julle moet gaan, want ek is te oud om weer te trou. En ook, as ek dink ek kan miskien nog kinders kry, en ek slaap vannag by 'n man en ek kry seuns, dan sal julle nie kan wag totdat hulle groot is nie. Julle sal wil trou. Nee, my dogters, die Here laat my swaarkry, die lewe is bitter vir my, meer bitter as vir julle.” Naomi se twee skoondogters het weer begin huil. Orpa het vir Naomi gegroet en sy het gegaan, maar Rut het styf vasgehou aan Naomi.

RUT 1:6-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee. So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan, sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het. Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk. Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word? Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar — sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is. Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.

RUT 1:6-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle 'n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.” Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.” Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by 'n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s'n: die Here het teen my gedraai.” Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly.

RUT 1:6-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die HERE julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. Mag die HERE gee dat julle elkeen 'n tuiste vind in die huis van 'n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag 'n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die HERE het immers sy hand teen my uitgestrek. ” Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou.

RUT 1:6-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe het sy haar klaargemaak met haar skoondogters om terug te keer uit die land van Moab; want sy het in die land van Moab gehoor dat die HERE sy volk besoek het deur aan hulle brood te gee. Daarom het sy uitgegaan uit die plek waar sy was, en haar twee skoondogters saam met haar; en hulle het op pad gegaan om terug te keer na die land Juda. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: Gaan, gaan terug, elkeen na haar moeder se huis; die HERE bewys julle goed soos julle ook aan die dooies en aan my gedoen het. Die HERE gee julle dat julle rus kan vind, elkeen van julle in die huis van haar man. Toe soen sy hulle; en hulle het hul stem verhef en geween. En hulle sê vir haar: Ons sal sekerlik saam met jou na jou volk terugkeer. En Naomi sê: Keer terug, my dogters, waarom sal julle saam met my gaan? is daar nog seuns in my skoot, dat hulle jou mans kan wees? Draai om, my dogters, gaan weg; want ek is te oud om 'n man te hê. As ek sou sê: Ek het hoop, as ek ook vannag 'n man sou hê en ook seuns sou baar; Sou julle vir hulle vertoef totdat hulle groot is? sou jy vir hulle bly om mans te hê? nee, my dogters; want dit is vir my baie bedroef om julle ontwil dat die hand van die HERE teen my uitgegaan het. En hulle het hul stem verhef en weer geween, en Orpa het haar skoonmoeder gesoen; maar Rut het haar aangehou.

RUT 1:6-14 DB (Die Boodskap)

’n Rukkie later het Naomi, wat nog steeds in Moab gebly het, gehoor dat die Here dit weer beter laat gaan het in Juda en dat daar weer genoeg kos was. Sy en haar skoondogters besluit toe om terug te gaan na haar eie land. Op pad terug Juda toe sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans. Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.” Toe sy hulle groet, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.” Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie! Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan? Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.” Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai.

RUT 1:6-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Naomi het daar in Moab gehoor dat die HERE sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek. Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe. Naomi sê toe vir haar twee skoondogters: “Moenie verder saam met my gaan nie. Gaan liewer terug na julle ouerhuise toe. Mag die HERE julle beloon vir die liefde wat julle aan my en my seuns betoon het. Mag die HERE weer vir julle elkeen ’n man en ’n huis gee.” Toe sy van hulle afskeid neem, het hulle in trane uitgebars. Die skoondogters sê toe: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u mense toe.” Maar Naomi antwoord: “Gaan tog terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my gaan? Ek kan tog nie meer seuns in die wêreld bring wat kan grootword om julle mans te wees nie. Nee, my dogters, gaan eerder terug na julle ouerhuise toe, want ek is te oud om weer te trou. Selfs al sou dit moontlik wees en ek vanaand by ’n man slaap en geboorte gee aan kinders, sal julle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle tot dan toe ongetroud kan bly? Natuurlik nie, my dogters! Dit is vir my baie swaarder as vir julle, want die HERE het baie swaarkry oor my laat kom.” Die skoondogters het weer begin huil. Orpa het van haar skoonma afskeid geneem, maar Rut wou nie gaan nie.