Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

RUT 3:1-18 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

RUT 3:1-18 AFR83 (Afrikaans 1983)

Rut se skoonma Naomi het vir haar gesê: “My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou 'n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer. Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen.” Toe antwoord Rut: “Ek sal doen wat u gesê het.” Sy het na die dorsvloer toe gegaan en alles gedoen wat haar skoonma vir haar gesê het. Nadat Boas geëet en gedrink het, was hy baie vrolik en het hy langs die mied gaan lê. Rut het toe stilletjies gekom, sy voete oopgemaak en by sy voete ingekruip. Toe hy in die middel van die nag wakker skrik en omdraai, was hy baie verbaas toe hy 'n vrou by sy voete gewaar. Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” en sy antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.” Hy sê toe: “Mag die Here jou seën, my dogter! Wat jy nou doen, naamlik dat jy agter geen jongman, arm of ryk, aanloop nie, is baie beter as die liefde wat jy aan die begin aan jou skoonma bewys het. Moet nou nie verder bekommerd wees nie, my dogter. Alles wat jy my vra, sal ek doen, want al die mense weet dat jy 'n goeie vrou is. Dit is waar dat ek jou losser is, maar nou is dit ook so dat daar 'n ander losser is wat nader familie is as ek. Slaap vannag hier. As hy dan môreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed, maar as hy nie wil nie, sal ek so seker as die Here leef, as losser optree. Bly hier tot môreoggend.” Sy het toe by sy voete bly lê tot die oggend, maar voordat dit lig genoeg was om iemand te herken, het sy opgestaan, “want,” het Boas gesê, “dit moenie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer toe gekom het nie.” Hy het ook gesê: “Bring die tjalie wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses en twintig kilogram gars vir haar daarin afgemeet en dit op haar rug getel. Hy is toe stad toe, en sy het na haar skoonma toe gegaan. Sy vra toe vir Rut: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar vertel wat Boas alles vir haar gedoen het en gesê: “Hy het vir my hierdie ses en twintig kilogram gars gegee, want hy het gesê ek mag nie met leë hande by my skoonma aankom nie.” Naomi sê toe: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter. Die man sal beslis nie vandag rus voordat die saak afgehandel is nie.”

RUT 3:1-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

TOE sê haar skoonmoeder Naómi vir haar: My dogter, sal ek nie vir jou 'n rusplek soek, dat dit goed met jou kan gaan nie? Nou dan, is Boas by wie se diensmeisies jy gewees het, nie ons bloedverwant nie? Kyk, hy wan vannag op die vloer gars uit. Was jou dan en salf jou en trek jou klere aan, en gaan af na die vloer toe; laat jou deur die man nie herken totdat hy klaar geëet en gedrink het nie. Maar as hy gaan slaap, let dan op die plek waar hy gaan slaap; kom dan nader, maak sy voetenent oop en gaan lê; en hy sal jou te kenne gee wat jy moet doen. En sy antwoord haar: Alles wat u sê, sal ek doen. Daarop het sy afgegaan na die vloer en gedoen net soos haar skoonmoeder haar beveel het. Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê. En die man het teen middernag geskrik en vooroor gebuig en — daar lê 'n vrou aan sy voetenent. En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser. En hy sê: Geseënd is jy deur die HERE, my dogter! Jy het jou laaste liefde beter gemaak as die eerste, omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop het nie. Wees dan nou nie bang nie, my dogter; alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want die hele stadspoort van my volk weet dat jy 'n deugsame vrou is. Nou dan, dit is sekerlik waar dat ek die losser is, maar daar is nog 'n losser, nader as ek. Bly vannag oor; en as hy jou môre wil los, goed, hy kan los; maar as hy nie lus het om jou te los nie, dan sal ék jou los, so waar as die HERE leef! Bly lê tot môre. En sy het tot die môre aan sy voetenent bly lê. Maar nog voordat een die ander kon herken, het sy opgestaan; want hy het gesê: Dit mag nie bekend word dat die vrou op die vloer gekom het nie. Daarna sê hy: Gee die tjalie wat jy om het, en hou dit oop. En sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars afgemeet en dit op haar gesit en die stad ingegaan. Toe sy by haar skoonmoeder kom, het dié gevra: En toe, my dogter? En sy het haar alles vertel wat die man aan haar gedoen het, en gesê: Hierdie ses mate gars het hy my gegee, want hy het gesê: Jy moet nie met leë hande by jou skoonmoeder kom nie. En sy antwoord: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie.

RUT 3:1-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Naomi het vir haar skoondogter Rut gesê: “My dogter, dis tyd dat ek vir jou ’n vaste woonplek kry sodat jy in die toekoms versorg sal wees. Jy was mos saam met Boas se diensmeisies. Boas is ’n naby bloedverwant van ons. Kyk, hy gaan vannag gars op die dorsvloer dors. Gaan bad, sit reukwater aan en trek mooi klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. Let mooi op waar hy gaan slaap. Gaan dan soontoe, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om dan te doen.” “Ek sal presies so maak soos Ma vir my sê,” antwoord Rut. Sy het dié nag na die dorsvloer toe gegaan en gemaak soos haar skoonma gesê het. Nadat Boas klaar geëet het, was hy baie vrolik. Hy het langs die hoop graan gaan lê om te slaap. Rut het stilletjies nadergekom, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. Omtrent middernag skrik Boas wakker en draai om. Groot was sy verbasing toe hy agterkom dat ’n vrou daar by sy voete lê. “Wie is jy?” vra hy. “Ek is Rut, u diensmeisie,” antwoord sy. “Ontferm u tog oor my, want u is my losser.” “Die HERE seën jou, my dogter!” sê hy. “Jou lojaliteit en getrouheid aan jou skoonma is nou nog meer as voorheen. Jy het nie agter enige jong mans, ryk of arm, aangeloop nie. Wees verseker: Jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, my dogter. Ek sal doen wat nodig is, want almal in die dorp weet jy is ’n eerbare vrou. Daar is egter één probleem. Dit is so dat ek een van die lossers is, maar daar is ’n ander man wat nader verwant aan jou is as ek. Bly vannag hier. Môre-oggend sal ek met hom praat. As hy gewillig is om vir jou as losser op te tree, sal hy dit doen. Maar as hy nie gewillig is nie, dan sal ek so waar as die HERE leef met jou trou. Bly nou lê tot môre-oggend.” Rut het by Boas se voete bly lê tot die oggend toe. Voordat dit lig genoeg was dat mense mekaar kon herken, het sy opgestaan. Boas het vir haar gesê: “Niemand moet weet dat hier ’n vrou by die dorsvloer was nie.” Boas het ook vir haar gesê: “Bring die mantel wat jy aan het en hou dit oop.” Hy meet toe ses mate gars vir haar daarin af en help haar om dit op haar rug te tel. Daarna is Boas dorp toe. Toe Rut by haar skoonma aankom, vra Naomi: “Wat het gebeur, my dogter?” Rut vertel toe vir Naomi alles wat Boas gedoen het. Sy voeg by: “Hy het my selfs ses mate gars gegee en gesê: ‘Jy kan nie met leë hande by jou skoonma aankom nie.’” Naomi sê toe vir haar: “My dogter, wees maar geduldig totdat ons hoor wat verder gebeur. Die man sal nie rus voordat hy die saak vandag nog opgelos het nie.”

RUT 3:1-18 DB (Die Boodskap)

Op ’n dag sê Naomi vir Rut: “Ons moet vir jou ’n man kry, sodat jy versorg kan word en jou eie huis en ’n huisgesin kan hê. Jy onthou vir Boas, die man saam met wie se werkers jy are opgetel het? Ek het mos vir jou gesê hy is familie van ons. Luister nou, hy gaan later die gars op die dorsvloer uitslaan en dan moet hy dit vir die nag oppas. Gaan bad en sit parfuum aan en trek jou mooiste klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar moenie dat Boas agterkom jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. As hy dan later gaan slaap, kyk mooi waar hy gaan lê, en as hy aan die slaap geraak het, tel die komberse op en gaan lê by sy voete. Hy sal verstaan dat jy versorging nodig het en vir jou sê wat jy moet doen.” Rut antwoord toe: “Ek sal doen wat Ma gesê het.” Rut is toe dorsvloer toe en het gedoen wat Naomi gesê het. Toe Boas klaar geëet en gedrink het, was hy baie opgeruimd en vrolik. ’n Rukkie later het hy langs die hoop gars gaan lê en aan die slaap geraak. Rut het stilletjies soontoe gegaan, die kombers opgelig en by sy voete gaan lê. Gedurende die nag het Boas wakker geword. Toe hy wou omdraai, was hy verbaas om te sien dat daar ’n vrou by sy voete lê. “Wie is jy?” wou hy weet. “Ek is Rut,” antwoord sy toe. “Omdat u familie van my skoonpa is, is u ook verplig om my te help versorg. Trou met my, asseblief.” “Mag die Here goed wees vir jou,” sê hy toe. “Wat jy nou doen, is ’n nog groter liefdesdaad as die liefde wat jy aan jou skoonma bewys het. Jy kon maklik vir jou ’n jong- man gaan soek het, of hy nou ryk of arm was, dit maak nie saak nie. Maar jy het dit nie gedoen nie. Moenie jou verder bekommer nie, ek sal doen wat jy vra. Almal in die dorp ken jou in elk geval as ’n eerlike en goeie vrou. Daar is net een probleem. Dit is waar dat ek ’n familielid is wat ’n plig het om jou en jou skoonma te versorg, maar daar is iemand anders wat nog ’n nader familielid is as ek en hy is in die eerste plek vir julle verantwoordelik. Bly vannag hier. Môreoggend sal ons uitvind of hy vir jou wil sorg of nie. As hy dit wil doen, is dit goed so. So nie, sal ek met jou trou, so seker as die Here lewe, ek belowe dit. Bly nou maar hier tot môreoggend, dis veiliger.” Sy het toe daar gebly en by Boas se voete gelê en slaap tot die volgende oggend. Vroeg, nog voor sonop, het sy opgestaan en huis toe gegaan voordat iemand haar dalk kon herken. Want Boas wou in elk geval nie hê die mense moes weet ’n vrou was by die dorsvloer nie. Voor sy loop, het Boas vir haar gesê om die los baadjie wat sy bo-oor haar klere aangehad het vir hom te bring en dit op die grond oop te gooi. Hy het toe ongeveer twintig kilogram gars daarin gesit, dit toegedraai en haar gehelp om dit op te tel. Sy is toe terug dorp toe. By Naomi aangekom, vra dié: “En toe, Rut, hoe het dit gegaan?” Rut het vir Naomi alles vertel wat Boas gedoen het, en bygevoeg: “Hy het ook vir my hierdie klomp gars gegee sodat ek nie met leë hande hier by Ma aankom nie.” Naomi sê toe vir haar: “Wees nou maar net geduldig totdat ons sien wat gebeur. Boas sal nie rus voordat hy hierdie saak vandag nog opgelos het nie.”

RUT 3:1-18 ABA (Bybel vir almal)

Eendag het Rut se skoonma Naomi vir haar gesê: “My dogter, ek moet vir jou 'n man kry wat vir jou kan sorg. Ek sal vir jou sê wat ons moet doen. Jy was saam met die vroue wat vir Boas werk, en hy is familie van my. Hy gaan vannag die gars op die dorsvloer in die lug opgooi, sodat die wind die kaf wegwaai. Jy moet jou was en lekkerruik-olie aan jou smeer en jou mooi aantrek, en dan moet jy na die dorsvloer gaan. Maar jy moenie dat Boas sien wie jy is nie. Wanneer hy klaar geëet en gedrink het en gaan slaap, dan moet jy kyk waar hy gaan lê, en dan moet jy die kombers optel en by sy voete gaan lê. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen.” Rut het vir Naomi gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê.” Rut het na die dorsvloer gegaan en sy het alles gedoen wat haar skoonma gesê het. Boas het lekker geëet en gedrink en hy het gelukkig gevoel. Hy het gaan lê en slaap langs die hoop gars. Rut het saggies gekom en sy kombers opgetel en by sy voete gaan lê. Toe Boas in die middel van die nag wakker word, het hy gesien daar lê 'n vrou by sy voete. Hy het gevra: “Wie is jy?” Rut het gesê: “Ek is Rut, en jy moet vir my sorg, want jy is 'n losser.” Boas sê toe: “Dogter, die Here sal jou seën. Jy het by jou skoonma gebly, en nou wil jy ook in die familie bly. Jy kon 'n jongman gekies het, 'n arm of 'n ryk jongman, maar jy het dit nie gedoen nie. En nou, dogter, jy moenie bekommerd wees nie. Ek sal alles doen wat jy gevra het, want almal in my stad weet dat jy 'n goeie vrou is. Dit is waar dat ek 'n losser is, maar daar is 'n ander man wat nader familie is en wat ook 'n losser is. Bly vannag hier, en as hy môre sê hy sal vir jou sorg, dan is dit goed. Maar as hy dit nie wil doen nie, dan sal ek dit doen. Ek belowe dit en die Here is die getuie. Slaap nou tot môre.” Rut het by Boas se voete gelê tot die volgende oggend, maar sy het opgestaan toe dit nog donker was, want Boas het gesê niemand moet weet dat daar 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie. Boas het gesê sy moet die doek bring wat om haar lyf is, en sy moet dit vashou. Sy het dit gedoen, en hy het ses kruike vol gars op die doek gegooi en dit op haar skouers getel. Sy het na die stad gegaan, en toe sy by haar skoonma kom, vra Naomi vir haar: “My dogter, hoe het dit gegaan?” Rut het vir haar alles vertel wat Boas vir haar gedoen het en sy het gesê: “Hierdie ses kruike gars het hy vir my gegee en hy het gesê ek mag nie by my skoonma kom en niks vir haar saambring nie.” Naomi het gesê: “Nou moet jy wag totdat jy weet wat gebeur. Die man sal nie ophou voordat hy vandag gedoen het wat hy gesê het nie.”

RUT 3:1-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou 'n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? Nou ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons. Hy gaan vanaand by die dorsvloer gars uitwan. Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan. Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.” Rut het geantwoord: “Ek sal alles doen wat u sê.” Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonmoeder haar voorgesê het. Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nader gegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê 'n vrou by sy voete! “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser. ” Hy sê toe: “Mag jy geseën word deur die HERE , my dogter. Jou trou aan die familie blyk nou nog duideliker as voorheen, aangesien jy nie agter jong mans, of hulle arm of ryk is, aanloop nie. Moet dus nie bang wees nie, my dogter. Alles wat jy vra, sal ek doen. Al my mense in die dorp weet immers dat jy 'n deugsame vrou is. Dit is nou wel waar dat ek 'n losser is, maar daar is ook 'n losser wat nader familie is as ek. Bly vannag hier. En môreoggend, as hy jou wil loskoop, goed, laat hy jou dan loskoop. Maar as hy jou nie wil loskoop nie, dan sal ek, so waar as die HERE leef, dit self doen. Bly nou maar lê tot môreoggend.” Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê. Nog voordat 'n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” Boas sê toe vir haar: “Gee die sjaal wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in. Toe sy by haar skoonmoeder kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê, ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonmoeder aankom nie.’ ” Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.”

RUT 3:1-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe sê Naomi, haar skoonmoeder, vir haar: My dogter, sal ek nie rus soek vir jou, dat dit met jou goed kan gaan nie? En nou is Boas nie uit ons geslag nie, by wie se meisies jy was nie? Kyk, hy wen gars vanaand op die dorsvloer. Was jou dan en salf jou en trek jou klere aan en gaan af op die vloer; maar maak jou nie aan die man bekend nie, totdat hy klaar geëet en gedrink het. En as hy gaan lê, moet jy die plek merk waar hy moet lê, en jy moet ingaan en sy voete ontbloot en jou neerlê; en hy sal jou vertel wat jy moet doen. En sy sê vir haar: Alles wat jy vir my sê, sal ek doen. En sy het afgegaan na die vloer en gedoen net soos haar skoonmoeder haar beveel het. En toe Boas geëet en gedrink het en sy hart vrolik was, het hy gaan lê by die punt van die hoop koring; en sy het sag gekom en sy voete oopgemaak en haar neergelê. En teen middernag het die man bang geword en hom omgedraai, en daar lê 'n vrou aan sy voete. En hy sê: Wie is jy? En sy antwoord: Ek is u dienares Rut; sprei dan u rok oor u dienares; want jy is 'n naaste bloedverwant. En hy sê: Geseënd is jy deur die HERE, my dogter, want jy het aan die einde meer guns bewys as aan die begin, omdat jy nie die jongmanne, arm of ryk, gevolg het nie. En nou, my dogter, vrees nie; Ek sal aan jou alles doen wat jy vra, want die hele stad van my volk weet dat jy 'n deugsame vrou is. En nou is dit waar dat ek jou naaste bloedverwant is; maar daar is 'n bloedverwant nader as ek. Bly in hierdie nag, en dit sal in die môre wees, dat as hy die deel van 'n bloedverwant aan jou verrig, goed; laat hy die deel van 'n losser doen; maar as hy nie die deel van 'n losser aan jou doen nie, dan sal ek die deel van 'n losser aan jou doen, so waar as die HERE leef; lê tot die môre toe. En sy het aan sy voete gelê tot die môre toe, en sy het opgestaan voordat die een die ander kon leer ken. En hy sê: Laat dit nie bekend word dat 'n vrou op die vloer gekom het nie. Hy het ook gesê: Bring die sluier wat jy oor jou het en hou dit vas. En toe sy dit vashou, het hy ses mate gars gemeet en dit op haar gelê; en sy het in die stad gegaan. En toe sy by haar skoonmoeder kom, sê sy: Wie is jy, my dogter? En sy het haar alles vertel wat die man aan haar gedoen het. En sy sê: Hierdie ses mate gars het hy my gegee; want hy het vir my gesê: Gaan nie leeg na jou skoonmoeder toe nie. Toe sê sy: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak sal uitkom; want die man sal nie in rus wees voordat hy vandag die saak voltooi het nie.