Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

RUT 3:14-18 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

RUT 3:14-18 AFR83 (Afrikaans 1983)

Sy het toe by sy voete bly lê tot die oggend, maar voordat dit lig genoeg was om iemand te herken, het sy opgestaan, “want,” het Boas gesê, “dit moenie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer toe gekom het nie.” Hy het ook gesê: “Bring die tjalie wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses en twintig kilogram gars vir haar daarin afgemeet en dit op haar rug getel. Hy is toe stad toe, en sy het na haar skoonma toe gegaan. Sy vra toe vir Rut: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar vertel wat Boas alles vir haar gedoen het en gesê: “Hy het vir my hierdie ses en twintig kilogram gars gegee, want hy het gesê ek mag nie met leë hande by my skoonma aankom nie.” Naomi sê toe: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter. Die man sal beslis nie vandag rus voordat die saak afgehandel is nie.”

RUT 3:14-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En sy het tot die môre aan sy voetenent bly lê. Maar nog voordat een die ander kon herken, het sy opgestaan; want hy het gesê: Dit mag nie bekend word dat die vrou op die vloer gekom het nie. Daarna sê hy: Gee die tjalie wat jy om het, en hou dit oop. En sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars afgemeet en dit op haar gesit en die stad ingegaan. Toe sy by haar skoonmoeder kom, het dié gevra: En toe, my dogter? En sy het haar alles vertel wat die man aan haar gedoen het, en gesê: Hierdie ses mate gars het hy my gegee, want hy het gesê: Jy moet nie met leë hande by jou skoonmoeder kom nie. En sy antwoord: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie.

RUT 3:14-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Rut het by Boas se voete bly lê tot die oggend toe. Voordat dit lig genoeg was dat mense mekaar kon herken, het sy opgestaan. Boas het vir haar gesê: “Niemand moet weet dat hier ’n vrou by die dorsvloer was nie.” Boas het ook vir haar gesê: “Bring die mantel wat jy aan het en hou dit oop.” Hy meet toe ses mate gars vir haar daarin af en help haar om dit op haar rug te tel. Daarna is Boas dorp toe. Toe Rut by haar skoonma aankom, vra Naomi: “Wat het gebeur, my dogter?” Rut vertel toe vir Naomi alles wat Boas gedoen het. Sy voeg by: “Hy het my selfs ses mate gars gegee en gesê: ‘Jy kan nie met leë hande by jou skoonma aankom nie.’” Naomi sê toe vir haar: “My dogter, wees maar geduldig totdat ons hoor wat verder gebeur. Die man sal nie rus voordat hy die saak vandag nog opgelos het nie.”

RUT 3:14-18 DB (Die Boodskap)

Sy het toe daar gebly en by Boas se voete gelê en slaap tot die volgende oggend. Vroeg, nog voor sonop, het sy opgestaan en huis toe gegaan voordat iemand haar dalk kon herken. Want Boas wou in elk geval nie hê die mense moes weet ’n vrou was by die dorsvloer nie. Voor sy loop, het Boas vir haar gesê om die los baadjie wat sy bo-oor haar klere aangehad het vir hom te bring en dit op die grond oop te gooi. Hy het toe ongeveer twintig kilogram gars daarin gesit, dit toegedraai en haar gehelp om dit op te tel. Sy is toe terug dorp toe. By Naomi aangekom, vra dié: “En toe, Rut, hoe het dit gegaan?” Rut het vir Naomi alles vertel wat Boas gedoen het, en bygevoeg: “Hy het ook vir my hierdie klomp gars gegee sodat ek nie met leë hande hier by Ma aankom nie.” Naomi sê toe vir haar: “Wees nou maar net geduldig totdat ons sien wat gebeur. Boas sal nie rus voordat hy hierdie saak vandag nog opgelos het nie.”

RUT 3:14-18 ABA (Bybel vir almal)

Rut het by Boas se voete gelê tot die volgende oggend, maar sy het opgestaan toe dit nog donker was, want Boas het gesê niemand moet weet dat daar 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie. Boas het gesê sy moet die doek bring wat om haar lyf is, en sy moet dit vashou. Sy het dit gedoen, en hy het ses kruike vol gars op die doek gegooi en dit op haar skouers getel. Sy het na die stad gegaan, en toe sy by haar skoonma kom, vra Naomi vir haar: “My dogter, hoe het dit gegaan?” Rut het vir haar alles vertel wat Boas vir haar gedoen het en sy het gesê: “Hierdie ses kruike gars het hy vir my gegee en hy het gesê ek mag nie by my skoonma kom en niks vir haar saambring nie.” Naomi het gesê: “Nou moet jy wag totdat jy weet wat gebeur. Die man sal nie ophou voordat hy vandag gedoen het wat hy gesê het nie.”

RUT 3:14-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê. Nog voordat 'n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” Boas sê toe vir haar: “Gee die sjaal wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in. Toe sy by haar skoonmoeder kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê, ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonmoeder aankom nie.’ ” Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.”

RUT 3:14-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En sy het aan sy voete gelê tot die môre toe, en sy het opgestaan voordat die een die ander kon leer ken. En hy sê: Laat dit nie bekend word dat 'n vrou op die vloer gekom het nie. Hy het ook gesê: Bring die sluier wat jy oor jou het en hou dit vas. En toe sy dit vashou, het hy ses mate gars gemeet en dit op haar gelê; en sy het in die stad gegaan. En toe sy by haar skoonmoeder kom, sê sy: Wie is jy, my dogter? En sy het haar alles vertel wat die man aan haar gedoen het. En sy sê: Hierdie ses mate gars het hy my gegee; want hy het vir my gesê: Gaan nie leeg na jou skoonmoeder toe nie. Toe sê sy: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak sal uitkom; want die man sal nie in rus wees voordat hy vandag die saak voltooi het nie.