SAGARIA 11:1-11

SAGARIA 11:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Libanon-berg, maak oop jou deure, sodat die vuur kan inkom en jou sederbome kan afbrand. Die sipresboom moet huil, want die sederboom het omgeval en die mooiste bome het afgebrand. Die skaapwagters huil, want die mooi veld waar die skape wei, het afgebrand. Die leeus brul, want die bosse by die Jordaan-rivier het afgebrand. My God die Here het gesê: “Jy moet die slagskape oppas. Die mense wat die skape gekoop het, slag hulle en die mense is nie jammer daaroor nie. Die mense wat die skape verkoop, sê: ‘Prys die Here, ons word ryk.’ Die skaapwagters is ook nie jammer vir die skape nie.” Die Here sê: “Ja, Ek sal nou ook nie meer jammer wees vir al die mense in die land nie. Ek laat hulle nou doen wat hulle wil met mekaar en Ek laat hulle koning doen wat hy wil met hulle. Hulle sal die land verwoes, en Ek sal niemand red nie.” Ek, Sagaria, het toe die slagskape opgepas vir die mense wat hulle koop en verkoop. Ek het twee kieries geneem en ek het die skape opgepas. Ek het die een kierie “Vriendelikheid” genoem en die ander kierie “Saamwees.” Ek het in die eerste maand drie skaapwagters weggejaag. Maar ek het ongeduldig geword met die skape, en hulle het ook nie van my gehou nie. Ek het toe gesê: “Ek sal julle nie oppas nie. Dit maak nie saak nie: Die skape wat wil vrek, moet vrek, en die skape wat wil verdwaal, moet verdwaal. As daar skape oorbly, dan kan hulle mekaar opvreet.” Ek neem toe my een kierie, Vriendelikheid, en ek breek dit. Die Here het gesê Hy sal sy verbond ook so breek, die verbond wat Hy met al die volke gemaak het. Die verbond het daardie dag gestop. Die mense wat die skape koop en verkoop, het gesien wat ek doen, en hulle het geweet die Here praat met hulle.

SAGARIA 11:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OPEN jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer! Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is! Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is. Hoor! die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes. Hoor! die geknor van die jong leeus, want die pronkbosse van die Jordaan is verwoes. SO sê die HERE my God: Wees herder van die slagskape — hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die HERE; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle nie. Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek die HERE; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle hand nie red nie. En ek het die slagskape — waarlik ellendige skape! — opgepas; en ek het vir my twee stawwe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas. En ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van my afkerig geword het. Daarop het ek gesê: Ek wil julle nie meer oppas nie — wat sterwend is, laat sterwe; en wat verlore gaan, laat verlore wees, en laat die wat oorbly, mekaar se vleis verslind! Toe het ek my staf Lieflikheid geneem en dit verbreek, om my verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. En dit is op dié dag verbreek. En so het die ellendiges onder die skape wat op my ag gegee het, bemerk dat dit 'n woord van die HERE was.

SAGARIA 11:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maak oop jou poorte, Libanon, dat 'n vuur jou seders kan verteer! Huil, sipres, want 'n seder het geval, die grootste bome is verwoes! Huil, groot bome in Basan, want die ondeurdringbare bos het geval! Luister hoe huil die herders omdat hulle beste weiveld verwoes is! Luister hoe brul die leeus omdat die pragtige bos langs die Jordaan verwoes is! So het die Here my God gesê: Gaan wees 'n herder vir die slagskape. Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: “Prys die Here, ek word ryk!” Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie. Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie. Ek het toe 'n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape 'n herder geword. Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak. Ek het gesê: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet.” Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek. Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het.

SAGARIA 11:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maak oop jou deure, Libanon, sodat vuur jou sederbome kan verteer! Huil, sipres, want 'n seder het geval, die magtige bome is verwoes! Huil, eike van Basan, want die digte bos is afgekap! Hoor die gehuil van die herders; want hulle aansien is verwoes! Hoor die gebrul van die jong leeus, want die trots van die Jordaan is verwoes! So sê die HERE my God: “Pas die kleinvee op wat geslag gaan word! Hulle kopers maak hulle dood sonder om daarvoor te boet, en hulle verkopers sê, ‘Prys die HERE, ek word ryk!’ Hulle herders het nie medelye met hulle nie. Ja, Ek sal nie langer medelye met die inwoners van die land hê nie,” is die uitspraak van die HERE. “Kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy medemens en van sy koning. Hulle sal die land vernietig en Ek sal niemand uit hulle hande red nie.” Ek het die kleinvee wat geslag gaan word, en aan die kleinveehandelaars behoort, opgepas. Ek het vir my twee herderstokke geneem; die een het ek Welwillendheid genoem en die ander een Samehorigheid. So het ek die kleinvee opgepas. Van drie herders het ek in een maand ontslae geraak. Ek het ongeduldig geraak met hulle; ook hulle het 'n afkeer in my gekry. Toe sê ek: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat sterf, maar sterf; laat dié wat wegraak, maar wegraak; en laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het my herderstok, Welwillendheid, geneem en dit in stukke gebreek, om so die verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. Dit is op daardie dag verbreek. Die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het toe besef dat dit die woord van die HERE was.

SAGARIA 11:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maak jou deure oop, o Líbanon, dat die vuur jou seders kan verteer. Huil, sipresboom; want die seder het geval; want die magtiges is verwoes. Huil, o terpentynbome van Basan! want die woud van die oesjaar het afgekom. Daar is 'n stem van die gehuil van die herders; want hulle heerlikheid is verwoes: 'n stem van die brul van jong leeus; want die trots van die Jordaan is verwoes. So sê die HERE my God: Voed die kudde van die slagting; Wie se besitters maak hulle dood en hou hulle onskuldig; en die wat hulle verkoop, sê: Geloofd sy die HERE! want Ek is ryk, en hulle eie herders ontferm hulle nie. Want Ek sal die inwoners van die land nie meer ontferm nie, spreek die HERE; maar kyk, Ek gee die manne, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning, en hulle sal die land verslaan en uit hulle hand sal Ek hulle nie red nie. En Ek sal die slagskape laat wei, julle, armes van die skape. En ek het vir my twee draaghoute geneem; die een het ek Skoonheid genoem, en die ander het ek Bande genoem; en ek het die skape gevoed. Ek het ook drie herders in een maand uitgeroei; en my siel het 'n afsku gehad van hulle, en hulle het ook 'n afsku gehad van my. Toe sê ek: Ek sal julle nie voed nie; en wat uitgeroei moet word, laat dit uitgeroei word; en laat die ander elkeen die vleis van die ander eet. En ek het my staf, Skoonheid, geneem en dit stukkend gekap, om my verbond te verbreek wat ek met die hele volk gesluit het. En dit is op dié dag gebreek, en so het die armes van die skape wat op my gewag het, geweet dat dit die woord van die HERE was.

SAGARIA 11:1-11 Die Boodskap (DB)

Libanon, maak jou grense oop sodat vreemde mense kan inkom en jou grond kom verniel. Hulle sal soos ’n vuur wees wat die seders verbrand tot net die as oorbly. Huil, sipresbome, want baie van die sederbome het in die slag gebly. Die mooiste en beste bome is vernietig. Huil, akkerbome van Basan, want net stompe het in die digte bos oorgebly. Hoor hoe huil die leiers. Alles waarop hulle so trots was, is daarmee heen. Hoor hoe brul die leeus. Die bosse langs die Jordaan waar hulle altyd kon wegkruip, is nou verwoes. Die Here, wat die God is wat ek aanbid, het vir my gesê: “Pas hierdie volk op soos ’n herder sy skape oppas. Wat met hierdie skape gaan gebeur, is erg; hulle is op pad slagpale toe om geslag te word. Die mense wat hierdie skape koop, voel nie eers ’n tikkie sleg om hulle te slag nie. As hulle die skape nie slag nie, verkoop hulle hulle en sê: ‘Prys die Here, nou is ons ryk.’ Die herders gee ook niks vir die skape om nie.” Die Here sê: “Ek gee ook nie meer om vir die mense wat in die land bly nie. Ek gaan mense met mekaar laat maak nes hulle wil. Ek gaan hulle ook aan die koning oorgee om met hulle te maak net soos hy lus het. Hierdie leiers sal die land verwoes, maar Ek is nie van plan om enigiemand te beskerm nie.” Ek het die mense begin oppas en versorg net soos ’n herder die vee van die veehandelaars sou oppas. Hierdie vee was bedoel om geslag te word. Vir dié takie het ek vir my twee kieries in die hande gekry waarmee ’n mens skape oppas. Ek het die een kierie Vriendelikheid genoem en die ander een Saamwees. Sommer in die eerste maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar nie lank nie of ek het begin moeg raak vir die mense wat ek versorg. Maar hulle het ook nie veel ooghare vir my gehad nie; om die waarheid te sê, hulle het my gehaat. Ek het toe vir hulle gesê: “Ek stel nie langer daarin belang om julle oppasser te wees nie. As julle doodgaan, is dit nou maar daarnatoe. En as julle wegraak, is dit nou maar julle lot. In elk geval sal die mense wat oorbly, mekaar uitroei.” Ek het toe my kierie met die naam Vriendelikheid gevat en dit middeldeur gebreek. Ek het dit gedoen om vir hulle te wys dat ek die ooreenkoms wat ek met die volke gemaak het, nie langer gaan hou nie. Op dié manier is die ooreenkoms met hulle daarmee heen en verbreek. Die veehandelaars het alles so gekyk en besef dit is eintlik die Here self wat deur alles wat gebeur het, met hulle praat.

SAGARIA 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maak oop jou deure, Libanon, sodat vuur jou sederbome kan verbrand. Huil, sipresbome, want die sederboom het geval, die grootste en die mooiste van almal. Huil, eikebome van Basan, as jy toekyk hoe digte bosse afgekap word. Luister na die gehuil van die herders, want hulle rykdom is weg. Luister na die gebrul van jong leeus, want hulle pragtige bosse langs die Jordaanvallei is verwoes. Dit is wat die HERE my God sê: “Gaan en sorg vir ’n trop slagskape. Die kopers sal hulle skape slag sonder enige skuldgevoel. Die verkopers sal sê: ‘Prys die HERE, nou is ek ryk!’ Selfs die herders het geen meegevoel met hulle nie. Net so sal Ek ook nie meer meegevoel hê met die inwoners van die land nie,” sê die HERE. “Ek laat hulle in mekaar se kloue val en in die kloue van hulle koning. Hulle sal die land in ’n wildernis verander en Ek sal hulle nie red nie.” Ek het toe die skape wat bedoel is om geslag te word, opgepas – veral die onderdrukte skape. Ek het twee herderskieries gevat, die een het ek Guns en die ander een Eenheid genoem. In een maand het ek van drie slegte herders ontslae geraak. Ek het ongeduldig met die skape geword en hulle het ook vir my moeg geword. Ek sê toe vir hulle: “Ek wil nie meer julle herder wees nie. Dié wat wil doodgaan, moet doodgaan. Laat dié wat wegraak, wegraak. Laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het toe my herderskierie “Guns” gevat en dit middeldeur gebreek. Daarmee wou ek wys dat ek die verbond wat ek met al die nasies gehad het, verbreek. Dit was die einde van die ooreenkoms met hulle. Dié wat skape gekoop en verkoop het, het my dopgehou en geweet dat die HERE deur my handelinge met hulle gepraat het.