SAGARIA 11:4-17
SAGARIA 11:4-17 Bybel vir almal (ABA)
My God die Here het gesê: “Jy moet die slagskape oppas. Die mense wat die skape gekoop het, slag hulle en die mense is nie jammer daaroor nie. Die mense wat die skape verkoop, sê: ‘Prys die Here, ons word ryk.’ Die skaapwagters is ook nie jammer vir die skape nie.” Die Here sê: “Ja, Ek sal nou ook nie meer jammer wees vir al die mense in die land nie. Ek laat hulle nou doen wat hulle wil met mekaar en Ek laat hulle koning doen wat hy wil met hulle. Hulle sal die land verwoes, en Ek sal niemand red nie.” Ek, Sagaria, het toe die slagskape opgepas vir die mense wat hulle koop en verkoop. Ek het twee kieries geneem en ek het die skape opgepas. Ek het die een kierie “Vriendelikheid” genoem en die ander kierie “Saamwees.” Ek het in die eerste maand drie skaapwagters weggejaag. Maar ek het ongeduldig geword met die skape, en hulle het ook nie van my gehou nie. Ek het toe gesê: “Ek sal julle nie oppas nie. Dit maak nie saak nie: Die skape wat wil vrek, moet vrek, en die skape wat wil verdwaal, moet verdwaal. As daar skape oorbly, dan kan hulle mekaar opvreet.” Ek neem toe my een kierie, Vriendelikheid, en ek breek dit. Die Here het gesê Hy sal sy verbond ook so breek, die verbond wat Hy met al die volke gemaak het. Die verbond het daardie dag gestop. Die mense wat die skape koop en verkoop, het gesien wat ek doen, en hulle het geweet die Here praat met hulle. Ek het vir hulle gesê: “Julle moet my betaal, maar as julle nie wil betaal nie, los dit.” Hulle het my toe 30 stukke silwer gegee. Hulle het gedink dit is hoeveel ek moet kry. Die Here het toe vir my gesê: “Gooi die silwer vir die man wat dit kan smelt.” Ek het die 30 stukke silwer geneem en ek het dit in die tempel vir die man gegooi wat silwer smelt. Daarna het ek my ander kierie, Saamwees, gebreek om te wys dat die mense van Juda en Israel nie meer saam sal wees nie. Die Here het toe vir my gesê: “Jy moet weer vir jou kieries neem om skape op te pas, maar jy moet dit nou doen soos 'n skaapwagter wat nie weet hoe om skape op te pas nie. Want Ek sal nou 'n skaapwagter kies en aanstel hier in die land. Hy sal nie bekommerd wees oor die skape wat wegraak nie. Hy sal nie die lammers soek nie, hy sal nie die skape help wat seergekry het nie, en hy sal nie die gesonde skape oppas nie. Hy sal die vet skape op-eet en ook hulle pote. Dit sal sleg gaan met die skaapwagter wat nie weet hoe om sy skape op te pas nie en wat die skape alleen los. 'n Swaard sal in sy arm en ook in sy regter-oog steek. Sy arm sal heeltemal gebreklik word, en sy regter-oog sal heeltemal blind word.”
SAGARIA 11:4-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SO sê die HERE my God: Wees herder van die slagskape — hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die HERE; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle nie. Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek die HERE; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle hand nie red nie. En ek het die slagskape — waarlik ellendige skape! — opgepas; en ek het vir my twee stawwe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas. En ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van my afkerig geword het. Daarop het ek gesê: Ek wil julle nie meer oppas nie — wat sterwend is, laat sterwe; en wat verlore gaan, laat verlore wees, en laat die wat oorbly, mekaar se vleis verslind! Toe het ek my staf Lieflikheid geneem en dit verbreek, om my verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. En dit is op dié dag verbreek. En so het die ellendiges onder die skape wat op my ag gegee het, bemerk dat dit 'n woord van die HERE was. Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer. Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker — die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi. Toe het ek my tweede staf, Samebinding, verbreek, om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek. Daarop sê die HERE vir my: Neem weer vir jou die gereedskap van 'n herder, van 'n dwase. Want kyk, Ek sal 'n herder verwek in die land; na wat verlore is, sal hy nie omkyk nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie; en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy eet en selfs hulle kloue afruk. Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word!
SAGARIA 11:4-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
So het die Here my God gesê: Gaan wees 'n herder vir die slagskape. Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: “Prys die Here, ek word ryk!” Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie. Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie. Ek het toe 'n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape 'n herder geword. Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak. Ek het gesê: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet.” Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek. Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het. Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.” Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer. Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker! En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi. Ek slaan toe ook my ander kierie, Vereniging, stukkend om so die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek. Toe sê die Here vir my: Vat weer vir jou herdersgereedskap, maar nou dié van een wat alles verkeerd doen. Ek gaan nou 'n herder in die land aanstel wat niks omgee vir dié wat wegraak nie, nie die lammers soek nie, nie dié wat seergekry het, dokter nie en die gesondes nie kos gee nie, maar wat die vleis van die vetstes eet en die ander se kloue afruk. Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, mag sy regteroog heeltemal blind word!
SAGARIA 11:4-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So sê die HERE my God: “Pas die kleinvee op wat geslag gaan word! Hulle kopers maak hulle dood sonder om daarvoor te boet, en hulle verkopers sê, ‘Prys die HERE, ek word ryk!’ Hulle herders het nie medelye met hulle nie. Ja, Ek sal nie langer medelye met die inwoners van die land hê nie,” is die uitspraak van die HERE. “Kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy medemens en van sy koning. Hulle sal die land vernietig en Ek sal niemand uit hulle hande red nie.” Ek het die kleinvee wat geslag gaan word, en aan die kleinveehandelaars behoort, opgepas. Ek het vir my twee herderstokke geneem; die een het ek Welwillendheid genoem en die ander een Samehorigheid. So het ek die kleinvee opgepas. Van drie herders het ek in een maand ontslae geraak. Ek het ongeduldig geraak met hulle; ook hulle het 'n afkeer in my gekry. Toe sê ek: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat sterf, maar sterf; laat dié wat wegraak, maar wegraak; en laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het my herderstok, Welwillendheid, geneem en dit in stukke gebreek, om so die verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. Dit is op daardie dag verbreek. Die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het toe besef dat dit die woord van die HERE was. Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dit goedvind, gee dan my loon; maar indien nie, laat dit daar.” Hulle het my loon afgeweeg: dertig sikkel silwer. Toe sê die HERE vir my: “Gooi dit vir die smelter! Dit is die kosbare prys waarmee Ek deur hulle na waarde geskat is.” Ek het die dertig sikkel silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die smelter gegooi. Ek het my tweede herderstok, Samehorigheid, in stukke gebreek om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek. Daarop sê die HERE vir my: “Neem weer die gereedskap van 'n dwase herder. Want kyk, Ek gaan 'n herder in die land laat opstaan – dié wat wegraak, sal hy nie probeer opspoor nie, die jonges sal hy nie soek nie, dié met gebreekte bene nie gesond maak nie en dié wat uitgeput is, nie voer nie. Maar die vleis van die vet diere sal hy eet; selfs die hoewe sal hy afruk. “Wee die nuttelose herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, en sy regteroog heeltemal blind word!”
SAGARIA 11:4-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So sê die HERE my God: Voed die kudde van die slagting; Wie se besitters maak hulle dood en hou hulle onskuldig; en die wat hulle verkoop, sê: Geloofd sy die HERE! want Ek is ryk, en hulle eie herders ontferm hulle nie. Want Ek sal die inwoners van die land nie meer ontferm nie, spreek die HERE; maar kyk, Ek gee die manne, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning, en hulle sal die land verslaan en uit hulle hand sal Ek hulle nie red nie. En Ek sal die slagskape laat wei, julle, armes van die skape. En ek het vir my twee draaghoute geneem; die een het ek Skoonheid genoem, en die ander het ek Bande genoem; en ek het die skape gevoed. Ek het ook drie herders in een maand uitgeroei; en my siel het 'n afsku gehad van hulle, en hulle het ook 'n afsku gehad van my. Toe sê ek: Ek sal julle nie voed nie; en wat uitgeroei moet word, laat dit uitgeroei word; en laat die ander elkeen die vleis van die ander eet. En ek het my staf, Skoonheid, geneem en dit stukkend gekap, om my verbond te verbreek wat ek met die hele volk gesluit het. En dit is op dié dag gebreek, en so het die armes van die skape wat op my gewag het, geweet dat dit die woord van die HERE was. En ek het vir hulle gesê: As julle goed dink, gee my my prys; en indien nie, laat staan. So het hulle vir my prys dertig silwerstukke geweeg. En die HERE het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker; En ek het die dertig silwerstukke geneem en dit vir die pottebakker in die huis van die HERE gegooi. Toe het ek my ander staf, die bande, stukkend gesny, om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek. En die HERE het vir my gesê: Neem nog die gereedskap van 'n dwase herder vir jou. Want kyk, Ek sal 'n herder in die land verwek, wat die uitgeroeides nie sal besoek nie, en die kleintjie nie sal soek en wat gebroke is, nie genees en wat stilstaan nie sal wei nie; maar hy sal die vleis van die vet, en skeur hulle kloue in stukke. Wee die afgodsherder wat die kudde verlaat! die swaard sal oor sy arm en oor sy regteroog wees; sy arm sal skoon verdroog en sy regteroog heeltemal verduister word.
SAGARIA 11:4-17 Die Boodskap (DB)
Die Here, wat die God is wat ek aanbid, het vir my gesê: “Pas hierdie volk op soos ’n herder sy skape oppas. Wat met hierdie skape gaan gebeur, is erg; hulle is op pad slagpale toe om geslag te word. Die mense wat hierdie skape koop, voel nie eers ’n tikkie sleg om hulle te slag nie. As hulle die skape nie slag nie, verkoop hulle hulle en sê: ‘Prys die Here, nou is ons ryk.’ Die herders gee ook niks vir die skape om nie.” Die Here sê: “Ek gee ook nie meer om vir die mense wat in die land bly nie. Ek gaan mense met mekaar laat maak nes hulle wil. Ek gaan hulle ook aan die koning oorgee om met hulle te maak net soos hy lus het. Hierdie leiers sal die land verwoes, maar Ek is nie van plan om enigiemand te beskerm nie.” Ek het die mense begin oppas en versorg net soos ’n herder die vee van die veehandelaars sou oppas. Hierdie vee was bedoel om geslag te word. Vir dié takie het ek vir my twee kieries in die hande gekry waarmee ’n mens skape oppas. Ek het die een kierie Vriendelikheid genoem en die ander een Saamwees. Sommer in die eerste maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar nie lank nie of ek het begin moeg raak vir die mense wat ek versorg. Maar hulle het ook nie veel ooghare vir my gehad nie; om die waarheid te sê, hulle het my gehaat. Ek het toe vir hulle gesê: “Ek stel nie langer daarin belang om julle oppasser te wees nie. As julle doodgaan, is dit nou maar daarnatoe. En as julle wegraak, is dit nou maar julle lot. In elk geval sal die mense wat oorbly, mekaar uitroei.” Ek het toe my kierie met die naam Vriendelikheid gevat en dit middeldeur gebreek. Ek het dit gedoen om vir hulle te wys dat ek die ooreenkoms wat ek met die volke gemaak het, nie langer gaan hou nie. Op dié manier is die ooreenkoms met hulle daarmee heen en verbreek. Die veehandelaars het alles so gekyk en besef dit is eintlik die Here self wat deur alles wat gebeur het, met hulle praat. Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink ek is dit werd, gee my my betaling vir die werk wat ek gedoen het. As julle nie wil nie, los dit dan.” Hulle het my toe 30 silwermuntstukke betaal. Die Here het vir my gesê: “Gooi die geld in die geldhouer van die tempel.” Die sommetjie geld was al wat hulle gedink het ek werd is. Ek het die 30 silwermunte gevat en dit in die geldhouer van die tempel van die Here gegooi. Daarna het ek die ander kierie met die naam Saamwees gebreek. Van saamwees tussen Juda en Israel sou daar nie langer gepraat kon word nie, want die band tussen hulle is verbreek. Toe sê die Here vir my: “Gaan speel weer die rol van ’n herder, maar hierdie keer as een wat niks werd is nie. Ek gaan vir hierdie volk ’n leier gee wat nie vir hulle omgee nie. Hy sal net soos ’n slegte herder wees. Dit sal hom nie pla as sy mense wegraak nie. Hy sal ook nie die jonges soek wat afdwaal nie. Verder sal hy ook nie dié verpleeg wat seerkry nie. Hy sal ook nie sorg dat dié wat gesond is kos kry nie. Hy sal net kyk wat hy vir homself uit alles kan kry. Hy sal mense gebruik en misbruik tot sy eie voordeel. Hy laat sy mense in die steek; daarom is swaarkry sy voorland. Mag ’n swaard sy arm en sy regteroog wond! Mag dit so wees dat hy nie weer sy arm kan gebruik nie en dat hy blind in sy regteroog sal wees!”
SAGARIA 11:4-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is wat die HERE my God sê: “Gaan en sorg vir ’n trop slagskape. Die kopers sal hulle skape slag sonder enige skuldgevoel. Die verkopers sal sê: ‘Prys die HERE, nou is ek ryk!’ Selfs die herders het geen meegevoel met hulle nie. Net so sal Ek ook nie meer meegevoel hê met die inwoners van die land nie,” sê die HERE. “Ek laat hulle in mekaar se kloue val en in die kloue van hulle koning. Hulle sal die land in ’n wildernis verander en Ek sal hulle nie red nie.” Ek het toe die skape wat bedoel is om geslag te word, opgepas – veral die onderdrukte skape. Ek het twee herderskieries gevat, die een het ek Guns en die ander een Eenheid genoem. In een maand het ek van drie slegte herders ontslae geraak. Ek het ongeduldig met die skape geword en hulle het ook vir my moeg geword. Ek sê toe vir hulle: “Ek wil nie meer julle herder wees nie. Dié wat wil doodgaan, moet doodgaan. Laat dié wat wegraak, wegraak. Laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het toe my herderskierie “Guns” gevat en dit middeldeur gebreek. Daarmee wou ek wys dat ek die verbond wat ek met al die nasies gehad het, verbreek. Dit was die einde van die ooreenkoms met hulle. Dié wat skape gekoop en verkoop het, het my dopgehou en geweet dat die HERE deur my handelinge met hulle gepraat het. Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink dit is reg, gee my my regmatige loon, maar net as julle wil.” Hulle het toe 30 stukke silwer as my loon afgetel. Die HERE het toe vir my gesê: “Gooi dit vir die pottebakker!” Dit was die buitengewone prys waarmee hulle my geëvalueer het! Ek het toe die 30 muntstukke geneem en dit in die tempel van die HERE vir die pottebakker gegooi. Toe breek ek my ander herderskierie, “Eenheid”, om daarmee te wys dat die verbond van eenheid tussen Juda en Israel verbreek was. Die HERE het vir my gesê: “Gaan weer en maak soos ’n nikswerd herder. Dit sal wys hoe Ek vir die nasie ’n herder sal gee wat nie omgee vir skape wat vergaan nie, wat nie die lammers gaan soek, of die beseerde skape versorg, of die gesonde skape kos gee nie. Inteendeel, hierdie herder sal die vleis van die vetste skaap eet en die ander se kloue afruk. “So ’n nikswerd herder wat sy trop verlaat, sal verseker veroordeel word! Mag die swaard sy arm afkap en sy regteroog deurboor! Sy arm sal onbruikbaar word en sy regteroog heeltemal blind!”