SAGARIA 8:1-13

SAGARIA 8:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom. So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg. So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand. Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel. So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê. So sê die Here die Almagtige: Ek gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom. Ek gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid. So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here die Almagtige gelê is sodat dit herbou kan word. Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het al die mense mekaar se vyande gemaak. Maar nou is my houding teenoor die oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige. Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee. Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed!

SAGARIA 8:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Die Here wat oor alles regeer, het met Sagaria gepraat. Hy het gesê: “Ek is baie lief vir die stad Jerusalem, en Ek is baie kwaad vir die vyande wat Jerusalem verwoes het. En nou sê Ek: Ek sal terugkom na Jerusalem en Ek sal weer daar woon. Die mense sal sê Jerusalem is die stad waar die mense doen wat die Here wil hê, en hulle sal sê die berg van die Here wat oor alles regeer, is die gewyde berg.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Daar sal weer ou mans en ou vroue sit op die oop plekke in Jerusalem, en hulle sal almal hulle kieries in hulle hand vashou omdat hulle baie oud geword het. En kinders sal oral op die oop plekke in Jerusalem speel.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Die mense wat in daardie tyd nog lewe, sal miskien dink dit kan nie gebeur nie. Moet Ek dan ook dink dit kan nie gebeur nie? Nee.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal my volk red uit die lande waar hulle nou woon, die lande in die ooste en die lande in die weste. Ek sal hulle terugbring, en hulle sal in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en net Ek sal hulle God wees. Ek sal sorg dat alles reg is tussen My en hulle.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moenie nou moedeloos wees nie. Julle het gehoor wat die profete gesê het toe die mense begin het om my tempel te bou. Voorheen was daar nie geld om mense of diere te huur om die werk te doen nie, en niemand was veilig in die stad nie, want Ek het vyande gestuur. Maar Ek sal dit nie nou weer doen nie. Dit sal nou goed gaan met die mense wat nog lewe. Daar sal druiwe wees aan die wingerdstokke en koring op die lande. Die dou uit die lug sal die grond natmaak. Ek sal dit alles gee vir die mense wat nog lewe. Mense van Juda en Israel, almal het geweet dat die Here julle vervloek het. Nou sal Ek, die Here, julle red, en almal sal weet die Here seën julle. Julle moenie bang wees nie, julle moenie moedeloos wees nie.”

SAGARIA 8:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die woord van die HERE van die leërskare het gekom en gesê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Sion met 'n groot ywer, ja, Ek ywer met groot grimmigheid daarvoor. So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg. So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit — elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel. So sê die HERE van die leërskare: As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in dié dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees? spreek die HERE van die leërskare. So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste en hulle aanbring; en hulle sal midde-in Jerusalem woon. Dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ék sal vir hulle 'n God wees, in trou en geregtigheid. So sê die HERE van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe die fondament gelê is van die huis van die HERE van die leërskare, die tempel, om gebou te word. Want vóór hierdie dae het die mense geen loon getrek nie, ook vir die diere was daar geen loon nie; en vir die wat uit- en ingaan, was daar weens die teëstander geen veiligheid nie; want Ek het al die mense die een teen die ander losgelaat. Maar nou sal Ek vir die oorblyfsel van hierdie volk nie wees soos in vroeër dae nie, spreek die HERE van die leërskare. Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe. En soos julle 'n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle 'n seën kan wees. Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees.

SAGARIA 8:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dít was die woord van die HERE, Heerser oor alle magte: “ So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Ek is besorg oor Sion, baie besorg. Ek is diep besorg oor haar.’ “ So sê die HERE, ‘Ek keer terug na Sion en sal in Jerusalem woon. Jerusalem sal “die getroue stad” genoem word en die berg van die HERE, Heerser oor alle magte, sal “heilige berg” genoem word.’ “ So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand van ouderdom. En die pleine van die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.’ “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘As dit in daardie dae onmoontlik gelyk het in die oë van hulle wat van hierdie volk oorgebly het, sal dit dan in My oë ook onmoontlik wees?’ ” Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “ So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die oostelike en westelike streke en hulle bring om in Jerusalem te woon. Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, in waarheid en geregtigheid.’ “ So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Hou moed, julle wat in hierdie dae dié woorde uit die mond van die profete gehoor het, julle wat teenwoordig was op die dag toe die fondament vir die herbou van die •tempel gelê is, die huis van die HERE, Heerser oor alle magte! Ja, voor dié dae was daar nie 'n beloning vir die werk van mense en diere nie. Vir wie uitgegaan of teruggekom het, was daar geen veiligheid nie, omdat daar teenstanders was – Ek het al die mense teen mekaar losgelaat. Maar nou sal Ek nie meer teenoor die oorblyfsel van hierdie volk wees soos in vroeër dae nie,’ is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Want die saad van voorspoed, die wingerd, sal sy vrug lewer, die land sal sy opbrengs lewer, en die hemel sal sy dou gee. Ek sal dit alles as erfenis gee aan die oorblyfsel van hierdie volk. Soos julle, huis van Juda en huis van Israel, 'n vervloeking was onder die nasies, so sal Ek julle daarvan verlos; en julle sal in 'n seënspreuk gebruik word. Moenie bang wees nie! Hou moed!’

SAGARIA 8:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Weer het die woord van die HERE van die leërskare tot my gekom en gesê: So sê die HERE van die leërskare: Ek was jaloers op Sion met groot ywer, en ek was jaloers op haar met groot grimmigheid. So sê die HERE; Ek het teruggekeer na Sion en sal in die middel van Jerusalem woon, en Jerusalem sal 'n stad van waarheid genoem word; en die berg van die HERE van die leërskare, die heilige berg. So sê die HERE van die leërskare: Daar sal nog ou manne en ou vroue woon op die strate van Jerusalem, en elkeen met sy staf in sy hand vir baie ouderdom. En die strate van die stad sal vol wees van seuns en meisies wat op die strate daarvan speel. So sê die HERE van die leërskare: As dit wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in hierdie dae, moet dit dan ook wonderlik wees in my oë? spreek die HERE van die leërskare. So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek sal my volk verlos uit die oostelike land en uit die westelike land; En Ek sal hulle bring, en hulle sal in die middel van Jerusalem woon; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees in trou en in geregtigheid. So sê die HERE van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae hierdie woorde hoor deur die mond van die profete, wat was op die dag toe die fondament van die huis van die HERE van die leërskare gelê is, sodat die tempel gebou kon word. Want voor hierdie dae was daar geen loon vir mense of enige loon vir diere nie; ook was daar geen vrede vir hom wat uit- of ingegaan het vanweë die ellende nie; want Ek het almal opgestel, elkeen teen sy naaste. Maar nou sal Ek nie vir die oorblyfsel van hierdie volk wees soos in die vorige dae nie, spreek die HERE van die leërskare. Want die saad sal voorspoedig wees; die wingerdstok sal sy vrugte gee, en die aarde sal sy opbrings gee, en die hemel sal hulle dou gee; en Ek sal die oorblyfsel van hierdie volk al hierdie dinge laat besit. En soos julle 'n vloek onder die nasies was, o huis van Juda en huis van Israel! so sal Ek julle red, en julle sal 'n seën wees; moenie vrees nie, maar laat julle hande sterk wees.

SAGARIA 8:1-13 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Sagaria gesê om weer met sy volk te praat. Hy het gesê: Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Jerusalem lê My baie na aan die hart. My liefde vir die plek is so groot dat Ek woedend word as iemand enigiets verkeerds teen die stad doen. Ek sal na Jerusalem toe terugkom en weer in die stad kom bly. Mense sal Jerusalem as die Stad van Waarheid ken. Die berg waarop die tempel van die Here staan, sal ’n spesiale plek wees om die Here op te aanbid. Verder het die Here ook gesê: Ou mense met baie kennis van die lewe, mans en vroue, sal ook weer in die strate van Jerusalem met hulle kieries loop. Daar sal ook baie seuns en meisies wees wat in die strate speel.” Die Here sê: “’n Groepie van Juda se mense het oorgebly nadat hulle ’n klompie jare terug na Babel toe weggevat is. Miskien is dit nou vir hierdie mense moeilik om te glo dat die dinge gaan gebeur wat Ek gesê het Ek gaan doen. Sê My, dink julle dit is vir My onmoontlik om hierdie dinge te doen net omdat hulle dink Ek kan nie? Ek is tog die Here wat sterker as alles en almal is! Luister ’n bietjie na wat die Here sê: Ek gaan my mense red uit die lande in die ooste en die weste. Ek sal hulle na Jerusalem toe terugbring sodat hulle weer daar kan bly. Soos vroeër sal hulle my volk wees en Ek hulle God. Ek sal lojaal aan hulle wees en regverdig.” Die Here sê ook: “Skep moed, spring aan die werk en bou die tempel klaar! Die beloftes wat julle nou hoor, is lank gelede alreeds deur die profete gemaak toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Toe hulle met die werk aan die tempel begin het, was daar nie geld om die mense te betaal nie. Daar was ook nie geld om diere vir die werk te huur nie. Dit was toe so onveilig in die land dat niemand dit kon waag om van die een plek na ’n ander een te gaan nie. Ek het gemaak dat mense mekaar se vyande was. Maar dinge het verander. Ek sal nie meer met die klompie mense wat oor is, maak soos Ek vroeër met hulle gemaak het nie. Dit sal van nou af goed met hulle gaan. Daar sal vrede wees. Die wingerde sal druiwe dra. Verder sal die mense goeie oeste van die lande af inbring. Die hemel sal sorg vir die dou op die aarde. Ek sal dit alles doen vir hierdie klompie mense van Juda wat oorgebly het. As mense van ander volke mekaar sleg wou sê, het hulle altyd Juda en Israel as voorbeelde gebruik. Hulle het iets gesê soos: ‘Mag die slegte goed wat Juda en Israel oorgekom het, ook met julle gebeur.’ Maar dit gaan nou end kry! Ek sal julle red. Van nou af sal hulle aan julle dink as mense met wie dit baie goed gaan. Moet daarom nie bang wees nie, maar wys dat julle moed het en pak die bouwerk van die tempel aan!”

SAGARIA 8:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar was nog ’n boodskap van die HERE, die Almagtige, aan my. Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “My liefde vir Sion is baie sterk. Ek is passievol oor Jerusalem.” So sê die HERE: “Ek keer terug na Sion, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, die berg van die HERE, die Almagtige, sal genoem word Heilige Berg.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Ou mans en vroue sal weer op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie omdat hulle so oud is. Die strate van die stad sal weer vol seuns en dogters wees wat daar speel.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Al hierdie dinge lyk dalk vandag vir julle, ’n klein en mismoedige oorblyfsel van God se volk, onmoontlik. Maar dink julle dit is onmoontlik vir My, die HERE, die Almagtige?” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Julle kan daarvan seker wees dat Ek my volk gaan red van die nasies in die ooste en die weste. Ek gaan hulle weer tuis laat kom en veilig in Jerusalem laat woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal in trou en regverdigheid hulle God wees.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Wees sterk! Julle het gehoor wat die profete destyds oor die bou van die tempel van die HERE, die Almagtige, gesê het, die dag dat die fondamente gelê is. Voor die werk aan die tempel begin het, was daar nie werk nie en ook nie lone nie, nie vir mense nie en ook nie vir diere nie. Geen reisiger was veilig teen vyande nie omdat daar van alle kante vyande was. Ek het al die mense teen mekaar laat draai. Nou sal Ek die oorblyfsel van my volk nie behandel soos wat Ek hulle vroeër behandel het nie,” sê die HERE, die Almagtige. “Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer. Ek sal weer ’n keer die oorblyfsel van Juda en Israel die erfgename van hierdie seëninge maak. Juda en Israel het onder die nasies simbole geword van wat dit beteken om vervloek te wees. Maar nie langer nie! Nou sal Ek julle red en julle ’n simbool en ’n bron van seën maak. Moenie bang of mismoedig wees nie. Wees sterk!”