ROMEINE 8:1-39

ROMEINE 8:1-39 - Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.
Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape behandel word.”

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

ROMEINE 8:1-39