YouVersion Logo
Search Icon

ESRA 9

9
Esra en ondertrouery
1Nadat hierdie dinge afgehandel was, het die leiers na my toe gekom en gesê: “Baie van die Israeliete, selfs ook van die priesters en die Leviete, het hulle nie van die ander volke in die land afgesonder nie. Hulle het van die afstootlike praktyke van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en die Amoriete begin beoefen. 2Van die mans en hulle seuns het met van die vroue van die land getrou. Deur dit te doen, het hulle die heilige volk van God met die bevolking van die land vermeng. Om die kroon te span, was die amptenare en die leiers die eerstes om dit te doen.”
3Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur en my hare uit my kop en baard getrek. Ek het geskok bly sit. 4Almal wat bang was vir die woorde van die God van Israel, het oor die ontrouheid van die ballinge by my bymekaargekom. Ek het geskok daar bly sit tot die tyd van die aandoffer.
5Toe die tyd vir die aandoffer aangebreek het, het ek met geskeurde klere opgestaan en my verootmoedig daar waar ek gesit het. Ek het op my knieë geval en my hande na die Here my God opgesteek.
6Ek het gebid: “My God, ek is so skaam en verneder, ek kan nie na U kyk nie. Ons sondes is hoër as ons koppe en ons skuld reik tot aan die hemel. 7Van ons voorgeslagte af tot nou toe het ons ons al aan verskriklike oortredings skuldig gemaak. Dit is hoekom U ons, ons konings en ons priesters uitgelewer het aan die mag van die heidense konings van die land. Net soos dit nou die geval is, het hulle ons doodgemaak, gevange geneem, beroof en verneder.
8“Die Here ons God het nou vir ’n klein rukkie genade aan ons bewys deur toe te laat dat sommige van ons as ’n oorblyfsel oorleef het. Hy het in sy heilige plek vir ons ’n vaste plek gegee. So het God ons moed laat skep en ons vir ’n rukkie losgemaak van ons slawerny. 9Ons was slawe, maar ons God het ons in sy troue liefde nie in ons slawerny vergeet nie. Hy het toegesien dat die koning van Persië ons goed behandel. Hy het ons vrygelaat sodat ons die tempel van ons God kon herbou en die bouvalle kon herstel. Hy het vir ons in Juda en Jerusalem ’n muur gegee om ons te beskerm.
10“Wat kan ons nou hieroor sê, ons God? Ons het weer u bevele verontagsaam. 11U het ons deur u dienaars die profete duidelik beveel en gesê: ‘Die land wat julle sal inneem, sal onrein wees as gevolg van die verwerplike gewoontes van die inwoners van die land. Die land is van hoek tot kant gevul met hulle afskuwelike praktyke. 12Julle dogters mag nie met hulle seuns trou nie, en julle seuns nie met hulle dogters nie. Moenie hierdie volke se vrede en voorspoed bevorder nie. As julle onderneem om hierdie dinge nie te doen nie, sal julle ’n voorspoedige volk wees. Dit sal met julle goed gaan en julle sal ’n sterk volk wees. Julle sal die voorspoed wat die land oplewer, geniet en dit sal vir ewig julle nageslag se erfenis wees.’
13“Maar nou word ons gestraf vir die sonde wat ons gedoen het en vir ons groot skuld. Ons straf is eintlik baie minder as wat ons verdien, want U, ons God, het sommige van ons as ’n oorblyfsel laat oorleef. 14Maar ons verbreek al weer u bevele met ons ondertrouery met mense wat hierdie afstootlike dinge doen. U gaan ons sekerlik in u woede vernietig sodat selfs hierdie oorblyfsel dit nie sal oorleef nie. 15O Here, God van Israel, U is regverdig! Vandag is ons niks anders as ’n ontsnapte oorblyfsel wat voor U staan nie. Eintlik durf nie een van ons in u teenwoordigheid kom staan as gevolg van ons skuld nie.”

Currently Selected:

ESRA 9: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in