YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 25

25
Die mense van Juda sal vir die koning van Babel moet werk, 70 jaar lank
1Jeremia het gehoor die Here praat met hom oor al die mense van Juda. Dit was in die vierde jaar nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het. Dit was ook die eerste jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het. 2Die Here het met Jeremia gepraat oor al die mense van Juda en oor almal wat in Jerusalem gewoon het. 3Jeremia het gesê: “Ek het 23 jaar lank gehoor wat die Here vir my gesê het. Dit het begin in die dertiende jaar nadat Josia seun van Amon koning van Juda geword het. Ek het aangehou om met julle te praat, maar julle het nie geluister nie. 4En die Here het al sy dienaars, die profete, na julle toe gestuur. Hy het aangehou om dit te doen, maar julle het nie geluister nie, julle was ongehoorsaam. 5Die Here het gesê: ‘Julle moet asseblief terugkom na My toe. Julle moet ophou om sleg te lewe en verkeerde dinge te doen. Dan sal julle altyd woon in die land wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het. 6Julle moenie ander gode dien en aanbid nie. Julle moenie vir My kwaad maak met beelde wat julle self gemaak het nie. As julle gehoorsaam is, dan sal Ek julle nie laat swaarkry nie. 7Maar julle het nie geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle self gemaak het, en daarom kry julle swaar.’
8“Die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Omdat julle dit gedoen het, omdat julle nie gehoorsaam was aan My nie, 9daarom stuur Ek nou 'n boodskap na al die volke in die noorde, en na my dienaar Nebukadnesar, koning van Babel. Ek sal daardie mense bring teen hierdie land en teen almal wat hier woon en ook teen die volke rondom hierdie land. Hulle sal julle aanval en so sal Ek hierdie mense doodmaak. Ek sal julle land verwoes, mense sal skrik as hulle die land sien en hulle sal loop en fluit. Die stede sal hope klippe word wat altyd hier sal lê. 10Niemand sal hier feesvier nie en niemand sal trou nie, niemand sal in die oggend koring maal en niemand sal in die aand 'n lamp opsteek nie. 11Die hele land sal vol hope klippe lê en niemand sal hier woon nie. Die mense wat hier was, sal vir die koning van Babel moet werk, 70 jaar lank. 12Maar wanneer die 70 jaar verby is, dan sal Ek die koning van Babel en sy mense in Galdeër-land straf oor wat hulle gedoen het. Dan sal daar nie meer mense in daardie land woon nie. 13Ek sal met daardie land alles doen wat Ek gesê het, alles wat Jeremia oor al daardie volke gesê het en wat in hierdie boek geskryf is. 14Ook die Galdeërs sal vir baie volke en vir groot konings moet werk. Ek sal hulle straf oor wat hulle gedoen het.’ ”
Die beker met die giftige wyn
15Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Ek gee vir jou hierdie beker met die giftige wyn. Ek stuur jou na verskillende volke toe, en jy moet hulle almal laat drink van die wyn. 16Hulle sal drink en hulle bene sal bewe. Hulle sal soos mal mense word, omdat Ek mense stuur om oorlog te maak teen hulle.”
17Ek het die beker geneem wat die Here vir my gegee het. Ek het na al daardie volke toe gegaan en ek het die mense laat drink. 18Ek het eerste na Jerusalem en die stede van Juda gegaan, en ek het hulle konings en amptenare laat drink. Die stede het hope klippe geword, en daar het toe niemand gewoon nie. Mense het daar geloop en fluit. Die Here het die land vervloek, daarom lyk die land vandag so sleg. 19Toe het die farao, die koning van Egipte, gedrink, en sy amptenare en sy hele volk en al die mense wat naby Egipte woon en wat vir die farao moet werk. 20En daarna het ek al hierdie mense laat drink: die konings van die land Us, en al die konings van Filistyne-land en die mense van die stede Askelon, Gasa en Ekron, en die mense in Asdod wat nog lewe, 21en die mense van Edom en Moab, en die Ammoniete, 22en al die konings van Tirus en Sidon, en die konings van die land anderkant die see, 23en die stede Dedan en Tema en Bus, en almal wat die kante van hulle koppe kaal skeer, 24en al die konings van Arabië, en al die konings van die mense wat in die woestyn woon, 25en al die konings van Simri, en al die konings van Elam en al die konings van die Mediërs, 26en al die konings in die noorde, ver van mekaar of naby mekaar. Al die konings van die aarde wat op die aarde woon, moes uit die beker drink. En ná hulle moes die koning van Babel drink. 27Die Here het gesê ek moet vir hulle sê: “Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle moet drink en dronk word en opbring en val en nie weer opstaan nie, want Ek stuur mense om oorlog te maak teen julle. 28En as hulle nie van jou die beker wil neem en wil drink nie, dan moet jy vir hulle sê: Die Here wat oor alles regeer, sê: Julle sal móét drink. 29Ek begin eerste by die stad wat aan My behoort en Ek laat hulle swaarkry, maar julle moenie dink Ek sal nie vir júlle straf nie. Nee, Ek sal júlle ook straf, want Ek bring mense om oorlog te maak teen almal wat op die aarde woon.”
Dit sê die Here wat oor alles regeer. 30Die Here sê ook: “En jy, Jeremia, jy moet hierdie boodskap vir hulle bring, jy moet al hierdie woorde vir hulle sê:
“Die Here sal hard skree,
soos 'n leeu wat brul,
Hy sal praat uit die hemel,
uit sy gewyde woonplek.
Hy sal skree soos die mense
wat druiwe trap
en Hy sal praat met almal
wat op die aarde woon.
31Al die mense op die aarde sal dit hoor,
want die Here is die Regter oor die volke,
Hy sal almal oordeel, almal wat lewe,
En Hy sal die mense wat skuldig is,
in oorlog laat sterf.”
Dit sê die Here. 32Die Here wat oor alles regeer, sê:
“Julle moet kyk, dit sal sleg gaan
met al die volke,
met die een volk ná die ander volk.
Daar kom 'n groot stormwind
van die verste plekke op die aarde.”
33Die Here sal daardie dag
baie mense laat sterf.
Hulle liggame sal oral in die hele wêreld lê.
Niemand sal oor hulle rou nie,
en niemand sal hulle bymekaarmaak
en hulle begrawe nie.
Hulle sal soos hope mis op die grond lê.
34 Herders, julle moet huil en vra
dat iemand julle moet help.
Julle wat oor mense regeer,
julle moet in die as rol,
want die tyd het nou gekom,
die vyande sal julle slag.
Vyande sal julle na al die kante toe jaag,
en julle sal stukkend breek soos 'n kleipot.
35Die herders sal nie 'n plek hê
waarnatoe hulle kan vlug nie,
die leiers sal nie kan weghardloop nie.
36Luister hoe skree die herders,
hulle vra iemand moet hulle help.
Luister hoe huil die leiers,
want die Here verwoes hulle lande.
37Die Here is kwaad, Hy verwoes die lande
waar hulle in vrede gewoon het.
38Die Here is soos 'n leeu wat uit sy lêplek kom.
Die Here het kwaad geword en vyande gestuur
om die lande te oorwin en die mense weg te vat.

Currently Selected:

Jeremia 25: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Jeremia 25