YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 25

25
Opdragte vir die bou van die tabernakel
1 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“Praat met die Israeliete, sodat hulle vir My 'n •wydingsgeskenk bring. Van elkeen wie se hart hom daartoe aanspoor, moet julle vir My 'n wydingsgeskenk aanvaar. 3Dit is die wydingsgeskenk wat julle van hulle moet aanvaar: goud, silwer en brons; 4 pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar; 5rooi gekleurde ramsvelle, sagte leer en doringhout; 6olie vir die ligte, speserye vir die salfolie en vir die geurige reukwerk; 7•oniksstene en edelstene as monterings vir die efod en die borstas.
8“Hulle moet vir my 'n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan vertoef. 9 Volgens alles wat Ek vir jou gaan wys – die voorbeeld van die •tabernakel en die voorbeeld van al sy toebehore – presies so moet julle dit maak.
10“ Hulle moet 'n ark van doringhout maak. Dit moet twee en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een en 'n half el hoog wees. 11Jy moet dit met suiwer goud oortrek, aan die binnekant en aan die buitekant moet jy dit oortrek. Dan moet jy aan die bokant, reg rondom, 'n goue rand aanbring. 12Jy moet vier goue ringe daarvoor giet en dit aan die vier pote heg – twee ringe aan die een kant en twee aan die ander kant. 13Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. 14 Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan die kante van die ark steek om die ark daarmee te dra. 15Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; dit mag nie daaruit verwyder word nie.
16“ Jy moet die Getuienis wat Ek vir jou sal gee, in die ark sit. 17Jy moet 'n versoendeksel van suiwer goud maak, twee en 'n half el lank en een en 'n half el breed. 18 Dan moet jy twee gerubs van goud maak, met pletwerk moet jy hulle op die twee punte van die versoendeksel maak. 19Maak een gerub op die een punt en een gerub op die ander punt. As 'n deel van die versoendeksel moet jy die gerubs op die twee punte maak. 20 Die gerubs moet so wees dat hulle, met hulle vlerke oopgesprei na bo, die versoendeksel beskut met hulle vlerke. Met hulle gesigte na mekaar moet die gerubs na die versoendeksel kyk. 21 Jy moet die versoendeksel bo-op die ark neersit, en in die ark moet jy die Getuienis plaas wat Ek jou sal gee. 22 Daar sal Ek jou ontmoet. Van bo die versoendeksel af, van tussen die twee gerubs wat op die ark met die Getuienis is, sal Ek met jou praat oor al die opdragte vir die Israeliete wat Ek jou gaan gee.
23 “Jy moet 'n tafel van doringhout maak, twee el lank, een el breed en een en 'n half el hoog. 24Jy moet dit met suiwer goud oortrek en reg rondom 'n goue rand vir die tafel maak: 25Maak reg rondom 'n strook van een handbreedte, en bring dan op die strook 'n goue randversiering aan. 26Jy moet vier goue ringe daarvoor maak, en die ringe dan aan die vier hoeke van die vier pote vassit. 27Die ringe moet naby die strook wees, as houers vir die draaghoute om die tafel mee te dra. 28Jy moet die draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek, sodat die tafel daarmee gedra kan word.
29“Jy moet skottels, bakke, bekers en komme, waarmee •drankoffers uitgegiet word, daarvoor maak. Van suiwer goud moet jy dit maak. 30 Jy moet dan die vertoonbrode op die tafel plaas sodat dit die hele tyd voor My sal wees.
31 “Jy moet 'n menora van suiwer goud maak. Met pletwerk moet jy die menora – dit is sy voetstuk en sy staander – maak. Die kelke, blomknoppe en blomme moet deel daarvan wees. 32Ses arms moet uit die kante vertak, drie arms van die menora uit die een kant en drie arms van die menora uit die ander kant. 33Daar moet drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op een arm wees; en drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op elke volgende arm. So moet dit wees aan die ses arms wat uit die menora vertak. 34Op die menora self moet daar vier kelke wees, gevorm soos amandelbloeisels met hulle blomknoppe en blomme. 35Vir die ses arms wat uit die menora vertak, moet daar 'n blomknop wees onder aan die eerste twee arms, 'n blomknop onder aan die tweede twee arms, en 'n blomknop onder aan die derde twee arms. 36Die blomknoppe en arms moet deel wees van die staander, die geheel daarvan geplet uit suiwer goud.
37“ Jy moet sewe lampe daarvoor maak. Jy moet sy lampe so plaas dat dit aan die voorkant lig verskaf. 38Die snuiters en bakkies daarvan moet van suiwer goud wees.
39“Van 'n kikkar suiwer goud moet jy dit maak – ook al hierdie toebehore. 40 Sorg dat jy dit maak volgens die voorbeelde wat aan jou op die berg gewys gaan word.”

Currently Selected:

Eksodus 25: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in