YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 26

26
Uitleg van die tabernakel
1 “Die •tabernakel moet jy van tien tentdoeke fyn dubbeldraadlinne en pers, purperrooi en karmosynrooi wol maak, met gerubs daarop – met die kundigheid van 'n vakman. 2Die lengte van elke tentdoek moet agt-en-twintig el wees en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke moet dieselfde afmetings hê. 3Vyf van die tentdoeke moet aan mekaar vasgewerk word, en so ook die ander vyf tentdoeke. 4Jy moet lussies van pers wol op die soom van die een tentdoek aanbring – al langs die kant op die een stel. Op dieselfde manier moet jy ook lussies op die tweede stel aanbring op die soom van die buitenste tentdoek. 5Jy moet vyftig lussies op die een tentdoek aanbring, en vyftig lussies op die kant van die tentdoek aan die tweede stel. Die lussies moet regoor mekaar wees. 6Jy moet vyftig goue hakies maak en die tentdoeke met die hakies aan mekaar vasmaak, sodat die tabernakel een geheel vorm.
7“Jy moet tentdoeke van bokhaar maak om te dien as 'n tent oor die tabernakel. Elf van hierdie tentdoeke moet jy daarvoor maak. 8Elke tentdoek moet dertig el lank wees en vier el breed. Die elf tentdoeke moet dieselfde afmetings hê. 9Jy moet vyf tentdoeke aan mekaar vaswerk om 'n eenheid te vorm, en so ook die ander ses tentdoeke. Aan die voorkant van die tent moet jy die sesde tentdoek in die helfte terugvou. 10Jy moet vyftig lussies aanbring op die soom van die een buitenste tentdoek van die een stel en vyftig lussies op die soom van die tweede stel tentdoeke. 11Jy moet vyftig bronshakies maak en die hakies deur die lussies steek, en so die tent heg, sodat dit een geheel vorm. 12Die oortollige deel van die ekstra strook wat aan die tent se tentdoeke is, dit wil sê die helfte van die strook wat ekstra is, moet aan die agterkant van die tabernakel hang. 13 Die ekstra el aan albei kante op die lengte van die tent se tentdoeke, moet oor die sykante van die tabernakel hang, om die tabernakel aan weerskante te bedek.
14“Jy moet vir die tent 'n bedekking van rooi gekleurde ramsvelle maak en nog 'n bedekking van sagte leer bo-oor.
15“Jy moet vir die tabernakel planke van doringhout maak wat regop moet staan. 16Elke plank moet tien el lank wees, en een en 'n half el breed. 17Daar moet twee tappe wees in elke plank waarmee hulle teen mekaar geplaas kan word. Doen dit met al die planke van die tabernakel. 18Jy moet vir die suidekant van die tabernakel twintig planke maak. 19Veertig silwervoetstukke moet jy dan onder die twintig planke aanbring – twee voetstukke onder een plank vir sy twee tappe, en twee voetstukke onder die ander plank vir sy twee tappe. 20Vir die ander sykant, aan die noordekant van die tabernakel, moet daar ook twintig planke wees, 21met hulle veertig silwervoetstukke – twee voetstukke onder elk van die planke.
22“Vir die agterkant van die tabernakel, aan die westekant, moet jy ses planke maak. 23Dan moet jy twee planke maak vir elk van die twee agterste hoeke van die tabernakel. 24Hulle moet van onder af teen mekaar pas en 'n hegte eenheid vorm tot bo by die een ring. Dit is hoe al twee moet wees om die twee agterste hoeke te vorm. 25Daar moet agt sulke hoekplanke wees met hulle silwervoetstukke; dit is sestien voetstukke – twee voetstukke onder elk van die hoekplanke.
26“Jy moet ook dwarshoute van doringhout maak, vyf rye vir die planke aan die een sykant van die tabernakel, 27en vyf rye dwarshoute vir die planke aan die ander sykant van die tabernakel, asook vyf rye dwarshoute vir die planke aan die agterkant van die tabernakel, aan die westekant. 28Die middelste ry dwarshoute moet in die middel van die planke wees; dit moet deurloop van die een kant na die ander kant. 29Die planke moet jy met goud oortrek, en die ringe van die planke, wat die dwarshoute dra, moet jy van goud maak. Jy moet die dwarshoute ook met goud oortrek.
30“ Jy moet dan die tabernakel oprig volgens die model wat vir jou op die berg gewys is.
31“Jy moet 'n voorhangsel maak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne, met gerubs daarop – met die kundigheid van 'n vakman. 32Jy moet dit met goue hakies ophang aan vier staanders van doringhout wat met goud oorgetrek is en wat op vier silwervoetstukke staan. 33 Jy moet die voorhangsel aan die hakies, aan die onderkant, ophang. Neem dan die ark met die Getuienis daarheen, agter die voorhangsel in. Die voorhangsel moet vir julle die heilige deel van die tabernakel van die allerheiligste deel skei. 34 Jy moet die versoendeksel op die ark met die Getuienis in die Allerheiligste plaas. 35 Dan moet jy die tafel voor die voorhangsel neersit, en die menora aan die suidekant van die tabernakel, teenoor die tafel. Die tafel moet jy aan die noordekant plaas.
36 “Jy moet vir die ingang van die tent 'n gordyn maak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van 'n borduurder. 37Jy moet vir die gordyn vyf staanders van doringhout maak en dit met goud oortrek; hulle hakies moet ook van goud wees en jy moet vyf bronsvoetstukke daarvoor giet.”

Currently Selected:

Eksodus 26: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in