YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 38

38
Brandofferaltaar en waskom
1 Hy het die brandofferaltaar van doringhout gemaak, vyf el lank en vyf el breed; dit was vierkantig, en drie el hoog. 2Hy het die horings daarvan op die vier hoeke gemaak. Die horings was deel daarvan, en hy het die altaar met brons oorgetrek. 3Hy het al die toebehore van die altaar gemaak, die houers, skoppies, offerbakke, vurke en vuurpanne. Al die toebehore het hy van brons gemaak. 4Hy het vir die altaar 'n traliewerk gemaak, 'n maaswerk van brons, onder die rand, met die onderkant daarvan tot by die helfte van die altaar. 5Hy het vier ringe aan die vier hoeke van die bronstraliewerk gegiet as houers vir die draaghoute. 6Hy het die draaghoute van doringhout gemaak en dit met brons oorgetrek. 7Hy het die draaghoute deur die ringe aan die kante van die altaar gesteek om dit daarmee te dra. Hy het die altaar van planke gemaak, hol aan die binnekant.
8 Hy het die bronswaskom en sy bronsvoetstuk gemaak van die spieëls van die vroue wat aan diens was by die ingang van die •Tent van Ontmoeting.
Binneplein
9 Hy het ook die binneplein gemaak. Aan die suidekant was die behangsels vir die binneplein van fyn dubbeldraadlinne, 'n honderd el lank. 10Daar was twintig staanders met hulle twintig bronsvoetstukke, maar die hakies van die staanders en hulle hegplekke was van silwer. 11Aan die noordekant, oor 'n lengte van honderd el, was daar twintig staanders met hulle bronsvoetstukke, en die hakies en die hegplekke van die staanders was van silwer. 12Aan die westekant was daar vyftig el behangsels, tien staanders met hulle tien voetstukke en die hakies van die staanders, en hulle hegplekke was van silwer. 13Aan die oostekant was dit vyftig el wyd. 14Die behangsels langs die ingang was vyftien el, met drie staanders en hulle drie voetstukke – 15so ook langs die ander kant. So was daar aan elke kant van die ingang na die binneplein behangsels van vyftien el, met drie staanders en drie voetstukke. 16Al die behangsels rondom die binneplein was van fyn dubbeldraadlinne. 17Die voetstukke van die staanders was van brons, die hakies en hegplekke van die staanders was van silwer, die plaatwerk aan die bopunte was van silwer. Die staanders is van silwerhegplekke voorsien, al die staanders van die binneplein. 18Die gordyn by die ingang van die binneplein is van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne gemaak – met die kundigheid van 'n borduurder. Dit was twintig el lank en die hoogte oor die volle breedte was vyf el, in ooreenstemming met die behangsels van die binneplein. 19Die vier staanders en vier voetstukke was van brons. Hulle hakies was van silwer, en die plaatwerk aan die bopunte en hulle hegplekke was van silwer. 20Al die tentpenne rondom die •tabernakel en die binneplein was van brons.
Inventaris van metale vir die tabernakel
21Dít is die inventaris van die tabernakel – die tabernakel met die Getuienis – wat in opdrag van Moses opgestel is deur die Leviete onder leiding van Itamar, seun van Aäron, die priester. 22Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat die Here Moses beveel het. 23Saam met hom was Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan, 'n vakman en ontwerper, 'n borduurder van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad.
24Al die goud wat vir die werk gebruik is by al die werk aan die heiligdom – dit was die goud van die •gewyde gawes – was 29 kikkar en 730 sikkel, volgens die standaardgewig van die heiligdom.
25Die silwer van die geteldes van die volksvergadering was 100 kikkar en 1 775 sikkel, volgens die standaardgewig van die heiligdom. 26 Dit was 'n beka per kop, 'n halfsikkel volgens die standaardgewig van die heiligdom, vir elkeen vanaf twintig jaar en ouer wat getel is, altesaam 603 550 man. 27 Die 100 kikkar silwer was vir die giet van die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel – 100 voetstukke van die 100 kikkar, 'n kikkar per voetstuk. 28Van die 1 775 sikkel het hy hakies vir die staanders gemaak, hulle bopunte bedek en van hegplekke voorsien.
29Die brons van die gewyde gawes was 70 kikkar en 2 400 sikkel. 30Hy het daarmee die voetstukke vir die ingang van die Tent van Ontmoeting gemaak, die bronsaltaar met sy bronstraliewerk en al die toebehore van die altaar, 31die voetstukke rondom die binneplein en die voetstukke by die ingang van die binneplein, asook al die tentpenne van die tabernakel en al die tentpenne rondom die binneplein.

Currently Selected:

Eksodus 38: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in