YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 39

39
Kleredrag van die priesters
1 Van die pers, purperrooi en karmosynrooi wol het hulle die geweefde klere gemaak vir dienswerk in die heiligdom. Hulle het die heilige klere vir Aäron gemaak, soos die Here Moses beveel het.
2Hy het die efod gemaak van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne. 3Hulle het die goud in dun plate uitgeklop en daarvan draadjies gesny om dit in die pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linne in te werk – met die kundigheid van 'n vakman. 4Hulle het vir die efod skouerbande gemaak wat daaraan vasgeheg is, en by die twee hoeke vasgewerk is, 5en ook sy versierde gordel wat daaroor kom, wat 'n deel daarvan is en op dieselfde manier as die efod gemaak is van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne, soos die Here Moses beveel het.
6Hulle het die •oniksstene vasgesit, omring met monterings van gouddraad, en gegraveer met die gravering van 'n seëlring daarop, ooreenkomstig die name van die seuns van Israel. 7Hy het dit op die skouerbande van die efod vasgesit as stene ter herinnering aan die seuns van Israel, soos die Here Moses beveel het.
8Hy het die borstas met gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne op dieselfde manier as die efod gemaak – met die kundigheid van 'n vakman. 9Vierkantig gevou het hulle die borstas gemaak. Dit was 'n span lank en 'n span breed gevou. 10Hulle het daarop vier rye edelstene gemonteer: 'n •karneool, 'n •topaas en 'n •smarag in die eerste ry; 11in die tweede ry 'n •malagiet, 'n •lasuursteen en 'n •akwamaryn; 12in die derde ry 'n •hiasint, 'n •agaat en 'n •ametis; 13en in die vierde ry 'n •chrisoliet, 'n •oniks en 'n •jaspis – omring met monterings van gouddraad toe dit vasgesit is. 14Die stene was gerangskik volgens die name van die seuns van Israel – twaalf, in ooreenstemming met hulle name. Met gravering soos op 'n seëlring het elke steen sy naam gekry, in ooreenstemming met die twaalf stamme. 15Hulle het aan die borstas kettinkies gesit van suiwer goud, gevleg op dieselfde wyse as touwerk. 16Hulle het twee goue monterings en twee goue ringe gemaak, en die twee goue ringe aan die twee hoeke van die borstas vasgeheg. 17Hulle het die twee goue koorde aan die twee ringe op die hoeke van die borstas vasgeheg, 18en die twee ander punte van die twee goue koorde het hulle aan die twee monterings vasgeheg. Hulle het dié dan aan die skouerbande van die efod, aan die voorkant, vasgeheg. 19Hulle het twee goue ringe gemaak en dit aan die twee ander hoeke van die borstas, aan die binnerand, teen die efod vasgeheg. 20Hulle het nog twee goue ringe gemaak en dit aan die onderkant van die twee skouerbande van die efod vasgeheg, aan die voorkant, naby die hegpunte van die skouerbande bo die band van die efod. 21Hulle het die borstas met sy ringe aan die efod se ringe met 'n draad pers wol vasgemaak, sodat dit aan die band van die efod kon bly en die borstas nie van die efod sou wegskuif nie, soos die Here Moses beveel het.
22Hy het die mantel van die efod geheel en al van pers wol gemaak – met die kundigheid van 'n wewer. 23Die opening van die mantel was in die middel daarvan, soos die opening in 'n gevegsmondering. Die opening het 'n soom rondom gehad, sodat dit nie kon skeur nie. 24Hulle het op die soomnate van die mantel granate geborduur met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en dubbeldraadlinnevesel. 25Hulle het klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granate op die soomnate van die mantel vasgeheg, reg rondom tussen die granate: 26'n klokkie en 'n granaat, 'n klokkie en 'n granaat; reg rondom op die soomnate van die mantel – met die oog op die dienswerk, soos die Here Moses beveel het.
27Hulle het die priesterrokke van fyn linne gemaak vir Aäron en sy seuns – met die kundigheid van 'n wewer. 28Hulle het die tulband van fyn linne, die versierde kopdoeke van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraadlinne gemaak, 29ook die lyfserpe van fyn dubbeldraadlinne, met pers, purperrooi en karmosynrooi wol – met die kundigheid van 'n borduurder – soos die Here Moses beveel het.
30Hulle het die roset, die heilige wydingsteken, van suiwer goud gemaak en daarop gegraveer soos wanneer 'n seëlring gegraveer word, “Heilig vir die Here.31Hulle het 'n draad pers wol daaraan vasgebind om dit aan die tulband, aan die bokant, vas te maak, soos die Here Moses beveel het.
Inspeksie van die voltooide werk
32So is al die werk aan die •tabernakel, die Tent van Ontmoeting, afgehandel. Die Israeliete het dit gemaak; net soos die Here Moses beveel het, so het hulle dit gemaak. 33 Hulle het toe die tabernakel na Moses geneem,
die tent met al sy toebehore, sy hakies, sy planke, sy dwarshoute, sy staanders en sy voetstukke;
34die bedekking van rooi gekleurde ramsvelle en die bedekking van sagte leer;
die voorhangsel wat dien as gordyn, 35die ark met die Getuienis, sy draaghoute en die versoendeksel;
36die tafel met al sy toebehore en die vertoonbrode;
37die menora van suiwer goud met sy lampe, die hele ry, al sy toebehore en die olie vir die kandelaar;
38die goue altaar, die salfolie, die geurige reukwerk en die gordyn vir die ingang van die tent;
39die bronsaltaar met sy traliewerk van brons, sy draaghoute en al sy toebehore, die waskom en sy voetstuk;
40die behangsels van die binneplein, die staanders en die voetstukke, die gordyn vir die ingang van die binneplein, die toue en tentpenne daarvan;
al die toebehore vir die diens in die tabernakel, die Tent van Ontmoeting;
41verder ook die geweefde klere om in die heiligdom dienswerk te doen, dit is die heilige klere van Aäron, die priester, en die klere van sy seuns vir die priesterdiens.
42Net soos die Here Moses beveel het, so het die Israeliete al die werk gedoen. 43Moses het al die werk nagegaan – en inderdaad, hulle het dit gedoen! Soos die Here opdrag gegee het, so het hulle dit gedoen. Toe het Moses hulle geseën.

Currently Selected:

Eksodus 39: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in