YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 16

16
Jerusalem as ontroue vrou
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, maak aan Jerusalem haar afstootlike dade bekend 3en sê, ‘So sê my Heer, die Here, vir Jerusalem: “Jou oorspronge, jou afkoms lê in die land van die Kanaäniete. Jou vader was 'n Amoriet, jou moeder 'n Hetiet. 4 Wat jou geboorte betref: Die dag toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie; met water is jy nie gewas om jou skoon te maak nie; met sout is jy nie ingevryf nie, en jy is glad nie toegedraai nie. 5Niemand het 'n traan oor jou gestort en uit deernis met jou enigiets hiervan vir jou gedoen nie. Jy is met minagting vir jou lewe weggegooi in die veld die dag toe jy gebore is.
6“ ‘ “Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef!’ Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef 7en groei!’ Soos plante in die veld het Ek jou gemaak. Jy het gegroei, grootgeword, die mooiste juweel geword. Jou twee borste het ferm geword, jy het skaamhare gekry. Maar jy was ontbloot en nakend.
8“ ‘ “Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou 'n eed afgelê, My in 'n verbond met jou begewe, ” is die uitspraak van my Heer, die Here: “en jy het Myne geword.
9“ ‘ “Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. 10 Ek het jou geklee in veelkleurig geweefde klere, vir jou sandale aangetrek van sagte leer, jou in linne gedrapeer en jou met sy bedek. 11Ek het jou met juwele versier, armbande om jou polse gesit, 'n halssnoer om jou nek. 12Ek het 'n ring in jou neus gesit, oorringe aan jou ore en 'n sierlike kroon op jou kop.
13“ ‘ “Jy het jouself versier met goud en silwer; jou klere was van linne, van sy en veelkleurig geweefde materiaal. Gesifte meel, heuning en olyfolie het jy geëet. Jy het buitengewoon mooi geword. Jy sou deug as 'n koningin. 14 Jy het onder die nasies roem verwerf met jou skoonheid; want dit was volmaak, danksy die versierings wat Ek aan jou gehang het.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
15“ ‘ “ Maar toe het jy op jou skoonheid staatgemaak en het jy gehoereer, omdat jy beroemd was. Jy het jou hoerery uitgestort op elke verbyganger; aan hom het jou skoonheid behoort. 16Jy het van jou klere gevat, vir jou veelkleurige kussings gemaak en daarop gehoereer. Dit was nie daarvoor bedoel nie, en dit moes nie gebeur nie. 17 Jy het van jou versiersels gevat, van die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het. Jy het vir jou afgodsbeelde van mans gemaak en so jou hoerery voortgesit. 18Jy het jou veelkleurig geweefde klere gevat, die beelde daarmee bedek, en my olie en reukwerk voor hulle neergesit. 19 Die voedsel wat Ek vir jou gegee het – ja, gesifte meel, olyfolie en heuning het Ek jou laat eet – jy het dit voor hulle neergesit as 'n geurige offer. Dit is wat gebeur het!” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
20“ ‘ “ Toe het jy jou seuns en dogters gevat, dié wat jy vir My in die wêreld gebring het, en jy het hulle aan die beelde geoffer as voedsel. Was jou owerspel nie genoeg nie, 21dat jy my kinders moes slag, hulle moes oorlewer deur hulle aan die beelde toe te wy? 22 By al jou afstootlike dade en owerspel het jy nie jou kindertyd onthou toe jy ontbloot en nakend, spartelend in jou bloed was nie.
23“ ‘ “En toe, ná al jou boosheid – wee jou, ja, wee jou!” is die uitspraak van my Heer, die Here24“ het jy vir jou plekke vir hoerery gebou. Jy het vir jou offerhoogtes ingerig op elke oop plek. 25By elke kruispad het jy jou offerhoogtes gebou, en sodoende jou skoonheid iets afstootliks gemaak. Jy het jou bene oopgesprei vir elke verbyganger en jou dade van owerspel vermeerder. 26 Jy het met die Egiptenare gehoereer, jou goedbedeelde bure. Jy het jou owerspel vermeerder en My uitgetart. 27Kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek; Ek het jou onderhoud ingekort. Ek het jou oorgegee aan die willekeur van hulle wat jou haat, aan die Filistynse vroue wat hulle skaam vir jou skandelike gedrag. 28 Jy het gehoereer met die Assiriërs, sonder dat jy bevredig is. Ja, jy het met hulle gehoereer, en nog erger, jy is nie bevredig nie. 29 Jy het jou owerspel vermeerder in die land van die handelaars, die Galdeërs, maar selfs daardeur is jy nie bevredig nie.
30“ ‘ “Hoe vurig is jou hartstog,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “wanneer jy al hierdie dinge doen – die werk van 'n brutale hoervrou!
31“ ‘ “Met die bou van jou plekke vir hoerery by elke kruispad, met jou offerhoogtes wat jy ingerig het op elke oop plek, was jy nie soos 'n gewone prostituut nie – jy het fooie versmaai! 32Jou egbreekster! In plaas van haar man, ontvang sy vreemdes! 33 Aan alle prostitute word vergoeding betaal, maar jy het jou prys aan al jou minnaars betaal; jy het hulle omgekoop om na jou te kom, van oraloor, vir jou dade van owerspel. 34By jou is dit andersom as by ander vroue wanneer dit by jou dade van owerspel kom: Jy word nie genader vir omgang nie, en terwyl jy 'n fooi betaal, word 'n fooi nie aan jou betaal nie. Met jou is dit net andersom.”
35“ ‘Daarom, jou hoer, hoor die woord van die Here! 36So sê my Heer, die Here: “Omdat jou koper so vermors is, jou naaktheid ontbloot is deur jou dade van owerspel by jou minnaars – ja, oor al jou afstootlike afgodsbeelde en oor die bloed van jou kinders wat jy aan hulle oorgelewer het – 37 daarom, kyk, Ek gaan al jou minnaars byeenbring, hulle aan wie jy genot verskaf het, elkeen vir wie jy lief was, sowel as elkeen wat jy gehaat het. Ek bring hulle teen jou byeen, van oraloor. Ek gaan jou kaal uittrek voor hulle. Hulle sal jou in al jou naaktheid sien. 38 Ek gaan aan jou die vonnisse voltrek van vroue wat egbreuk pleeg en bloed vergiet. Ek sal jou onderwerp aan die bloedwraak van woede en heilige jaloesie. 39 Ek gaan jou in hulle hand oorgee. Hulle sal jou plekke van hoerery opbreek en jou offerhoogtes afbreek. Hulle sal jou klere uittrek en jou versierings vat. Hulle sal jou ontbloot en nakend agterlaat. 40 Hulle sal 'n horde teen jou laat optrek, en dié sal jou met klippe doodgooi, jou opkap met hulle swaarde. 41 Hulle sal jou huise afbrand en oordele aan jou voltrek ten aanskoue van baie vroue. Ek sal 'n einde maak aan jou hoerery; ook fooie sal jy nie meer kan betaal nie. 42So sal Ek my toorn teen jou tot bedaring bring, en dan sal my heilige jaloesie van jou afgewend word. Ek sal kalm word en My nie meer vererg nie.
43“ ‘ “Omdat jy nie gedink het aan jou kindertyd nie en My ontstel het met al hierdie dinge, tree Ek op my beurt op: Kyk, op jou kop laat Ek jou dade neerkom,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Het jy dan nie die skandelike dade gepleeg bo en behalwe al jou afstootlike optrede nie?
44“ ‘ “Kyk, elkeen wat oor jou 'n spreekwoord wil maak, sal sê, ‘Soos die moeder is, so is die dogter.’ 45 Jy is jou moeder se dogter, sy wat 'n afkeer gehad het van haar man en haar kinders. Jy is jou susters se suster, hulle wat 'n afkeer gehad het van hulle mans en kinders. Julle moeder was 'n Hetiet en julle vader 'n Amoriet. 46Jou ouer suster is Samaria, dit is sy en haar dogters wat noord van jou woon. Jou suster jonger as jy, sy wat suid van jou woon, is Sodom met haar dogters. 47Maar jy het nie net in hulle spore gevolg en hulle afstootlike dade nagedoen nie – binne 'n kort rukkie het jy in alles wat jy doen, jou meer wangedra as hulle. 48So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “jou suster Sodom, sy en haar dogters, het beslis nie gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. 49Kyk, dít was die sondeskuld van jou suster Sodom – hoogmoed, 'n oormaat kos en sorgelose rustigheid was haar en haar dogters se deel, maar hulle het die hand van magteloses en behoeftiges nie versterk nie. 50Hulle was hovaardig en het afstootlike dinge in my teenwoordigheid gedoen. Ek het hulle verwyder toe Ek dit sien. 51 Samaria, sy het nie die helfte van jou sondes gepleeg nie. Jy het baie meer afstootlike dinge gedoen as hulle. Jy het jou suster regverdig laat lyk met al die afstootlike dade wat jy aangerig het. 52Dra jy dan ook jou vernedering, want jy het met jou sondes aan jou susters regverdiging verskaf vir hulle dade. Omdat jy meer afstootlik opgetree het as hulle, lyk hulle regverdiger as jy. Skaam jou dan ook en dra jou vernedering, omdat jy jou susters regverdig laat lyk het.
53“ ‘ “Ek gaan egter hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters, en die lot van Samaria en haar dogters. Dan sal Ek jou lot daar tussen hulle verander. 54Die doel daarvan is dat jy eers jou vernedering moet dra en jou moet skaam vir alles wat jy gedoen het waardeur jy hulle gerusgestel het. 55Wat jou susters betref, Sodom en haar dogters sal terugkeer na wat hulle vroeër was, en Samaria en haar dogters sal terugkeer na wat hulle vroeër was; en dan sal jy en jou dogters terugkeer na wat julle vroeër was. 56Jou suster Sodom was in die tyd van jou hoogmoed nie eens 'n berig uit jou mond werd nie, 57in die tyd voordat jou boosheid onthul is. Tans is dit die tyd vir bespotting deur die vroue van Aram en almal daar rondom, ook die Filistynse vroue, hulle wat jou minag van alle kante af. 58Jou skandelike gedrag, jou afstootlike dade, dié dra jy nou self.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here.
59“ ‘ Ja, so sê my Heer, die Here: “Ek maak met jou soos jy gemaak het: Jy het die vervloeking geminag, om so die verbond te verbreek.
60“ ‘ “ Maar Ek self onthou steeds my verbond met jou in jou jong dae, en Ek sal 'n ewige verbond met jou oprig. 61 Dan sal jy jou dade onthou, en jy sal jou skaam wanneer Ek jou susters neem, die een wat ouer is as jy en die een wat jonger is as jy, en wanneer Ek hulle aan jou gee as jou dogters, al is dit nie deel van die verbond met jou nie. 62Ek self sal my verbond met jou vestig, en jy sal besef dat Ek die Here is, 63sodat jy kan onthou en skaam wees. Jy sal nie weer jou mond oopmaak nie vanweë jou skaamte, wanneer Ek aan jou versoening skenk vir alles wat jy gedoen het. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”

Currently Selected:

Esegiël 16: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for Esegiël 16