YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 17

17
Gelykenis van die arende
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, vra 'n raaisel, en vertel 'n gelykenis vir die huis van Israel. 3Sê, ‘So sê my Heer, die Here:
“'n Groot arend met groot vlerke,
lang penvere,
en vol veelkleurige vere,
het na die Libanon gekom.
Hy het die top van 'n seder geneem,
4die boonste van sy lote afgepluk.
Hy het dit na 'n land
van handelaars geneem;
in 'n stad van kooplui
het hy dit neergesit.
5Hy het 'n steggie
uit die land geneem,
dit in 'n saailand geplaas,
in 'n weiland by baie water;
soos 'n wilgerlat het hy dit ingelê.
6 Dit het uitgespruit
en 'n wingerdstok geword,
geil groeiend, laag oor die grond,
dat sy blare na die arend gedraai is,
en sy wortels onder die arend is.
So het dit 'n wingerdstok geword,
ranke gevorm en lote uitgestoot.
7“ ‘ “Daar was 'n ander groot arend,
met groot vlerke en baie vere.
En kyk, hierdie wingerdstok
buig toe sy wortels na hom,
sy blare stoot hy uit na hom,
uit die beddings waar hy geplant was,
sodat dié arend hom sou water gee.
8In 'n goeie stuk grond,
by baie water, was dit geplant,
sodat dit lootjies kon maak,
vrug kon dra,
'n edel wynstok kon word.” ’
9“Sê, ‘So sê my Heer, die Here:
“Sal dit gedy?
Sal die arend nie selfs sy wortels uitpluk,
sy vrugte afstroop,
sodat die wingerdstok verdor,
al sy nuwe lote verdroog nie?
'n Magtige arm en 'n groot leërmag
is nie nodig om hom
van sy wortels af uit te trek nie.
10 Kyk, dit is verplant.
Sal dit gedy?
Sal dit nie, as 'n oostewind dit tref,
heeltemal verdroog,
in die bedding waar dit groei,
verdor nie?” ’ ”
11Die woord van die Here het tot my gekom: 12“ Sê tog vir die rebelse huis, ‘Weet julle nie wat dit beteken nie?’ Sê, ‘Kyk, die koning van Babilonië het na Jerusalem gekom, haar koning en •hoë amptenare weggeneem en hulle na hom in Babel geneem. 13Hy het een uit die koninklike familie geneem, met hom 'n verdrag gesluit en hom onder 'n vervloeking geplaas. Die ander maghebbers van die land het hy weggeneem, 14sodat die koninkryk laag sou bly, homself nie sou verhef nie en sy verdrag moes nakom, ten einde so staande te bly.
15“ ‘ Maar die man het in opstand gekom teen die koning van Babilonië deur sy gesante na Egipte te stuur, sodat dié vir hom perde en 'n groot leërmag sou gee. Sal hy sukses behaal? Sal hy wat dit gedoen het, vrykom? Sal hy die verdrag verbreek en vrykom? 16“So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here: “in die plek van die koning wat hom koning gemaak het, wie se vervloeking hy geminag het en wie se verdrag hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterf. 17 Die farao sal hom nie met 'n groot leër en baie afdelings soldate bystaan in die oorlog wanneer 'n beleëringswal opgehoop en beleëringswerke opgerig word om baie lewens te vernietig nie. 18Hy het 'n vervloeking geminag deur 'n verdrag te verbreek. Kyk, hy het sy hand gegee, en tog al hierdie dinge gedoen. Hy sal nie vrykom nie.” 19Daarom, so sê my Heer, die Here: “So seker as wat Ek leef, dit is 'n vervloeking deur My wat hy geminag het, en my verdrag wat hy verbreek het. Ek sal dit op sy kop laat neerkom. 20 Ek sal my vangnet oor hom uitsprei; hy sal gevang word in my jagnet. Ek sal hom na Babel neem en hom daar voor die gereg daag oor sy troubreuk wat hy teen My gepleeg het. 21 Sy hele keurkorps onder al sy troepe – deur die swaard sal hulle val. Dié wat oorbly, sal in alle windrigtings versprei word. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, gepraat het.”
22“ ‘ So sê my Heer, die Here: “Ek sal self die boonste top van 'n seder neem en dit inlê. Van die bopunt van sy lote sal Ek 'n sagte deel afpluk, en Ek sal dit self plant op 'n hoë en verhewe berg. 23 Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal lote maak en vrug dra. Dit sal 'n luisterryke seder word, en al die voëls, al die gevleueldes, sal onder hom tuis wees. In die skadu van sy blare sal hulle 'n tuiste vind. 24 Dan sal al die bome in die veld besef dat Ek, die Here, die hoë boom laag maak, en die lae boom hoog. Ek laat groen bome verdroog en Ek laat droë bome bloei. Ek, die Here, het gepraat, en Ek sal dit doen.” ’ ”

Currently Selected:

Esegiël 17: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for Esegiël 17