Josua 13
13
Verdeling van die land
1Toe Josua oud en gevorderd in jare was, het die Here vir hom gesê: “Jy is oud en gevorderd in jare en 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word, is nog oor. 2 Die volgende is die gebied wat nog oorbly: al die distrikte van die Filistyne en die hele gebied van die mense van Gesur; 3van die Sigor af wat langs Egipte lê, noordwaarts tot by die gebied van Ekron. Dit word as Kanaänitiese gebied gereken, naamlik die gebied van die vyf Filistynse regeerders van Gasa, Asdod, Askelon, Gat, en Ekron, en van die Awwiete. 4Vanaf die suide is dit die hele land van die Kanaäniete, en vanaf Ara, wat aan die Sidoniërs behoort, strek dit tot by Afek, by die grens van die Amoriete. 5 Verder is daar die gebied van die mense van Gebal, en die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad af onder aan die voet van die berg Hermon tot by Lebo-Hamat. 6Al die inwoners van die bergland, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs – Ek self sal hulle voor die Israeliete verdryf. Laat dit in elk geval as erfdeel aan Israel toeval, soos Ek jou beveel het. 7Verdeel dan nou hierdie land as erfdeel vir die nege stamme en die halwe stam van Manasse.”
Verdeling van die land oos van die Jordaan
8 Saam met die ander halwe stam van Manasse het die stamme van Ruben en Gad hulle erfdeel wat Moses aan hulle gegee het oorkant die Jordaan, aan die oostekant, ontvang, net soos Moses, die dienskneg van die Here, dit aan hulle gegee het:
9Van Aroër af, wat op die rand van die Arnondal lê, ja, vanaf die stad wat in die dal is, dan die hele plato, van Medeba tot Dibon, 10 en al die dorpe van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het, tot by die grens van die Ammoniete; 11 ook Gilead en die gebiede van die mense van Gesur en Maäga; die hele berg Hermon en die hele Basan tot by Salga – 12die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï regeer het. Hy was die laaste wat oorgebly het van die Refaïete.
Moses het hulle verslaan en hulle uitgedryf. 13Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäga verdryf nie. Die mense van Gesur en Maäga woon onder die Israeliete; dit is vandag nog so. 14 Net aan die stam van Levi is geen erfdeel gegee nie. Die offergawes van die Here, die God van Israel, dit is hulle erfdeel, soos die Here vir hulle gesê het.
Stamgebied van Ruben
15 Moses het aan die stam van die nageslag van Ruben, ooreenkomstig hulle familiegroepe, die volgende gegee, 16en dit het aan hulle behoort:
die gebied van Aroër af wat op die rand van die Arnondal lê; ja, vanaf die stad wat in die dal is, en die hele plato by Medeba; 17Gesbon en al sy dorpe wat op die plato is; ook Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, 18Jahas, Kedemot, Mefaät, 19Kirjatajim, Sibma, Seret-Hassagar op die heuwel in die vallei, 20Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot. 21Dit was al die dorpe op die plato en die hele koninkryk van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het.
Moses het hom en die Midianitiese leiers, Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde van Sihon wat in die land gewoon het, verslaan. 22 Saam met hulle gesneuweldes was ook die waarsêer Bileam, seun van Beor, wat deur die Israeliete met die swaard om die lewe gebring is.
23Die grens van die nageslag van Ruben was die Jordaan en oewergebied.
Dit was die erfdeel van die nageslag van Ruben, ooreenkomstig hulle familiegroepe – die dorpe met hulle gehuggies.
Stamgebied van Gad
24 Moses het aan die stam van Gad, die nageslag van Gad, ooreenkomstig hulle familiegroepe, die volgende gegee, 25en dié gebied het aan hulle behoort:
Jaser, al die dorpe in Gilead en die helfte van die land van die Ammoniete tot by Aroër wat langs Rabba lê; 26van Gesbon tot by Ramat-Mispe en Betonim; van Maganajim tot by die gebied van Debir; 27in die Jordaanvallei was dit Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon; die res van die koninkryk van Sihon, die koning van Gesbon – die Jordaan en oewergebied tot by die punt van die See van Gennesaret oorkant die Jordaan aan die oostekant.
28Dit is die erfdeel van die nageslag van Gad, ooreenkomstig hulle familiegroepe – die dorpe met hulle gehuggies.
Stamgebied van die halwe stam van Manasse
29 Moses het aan die halwe stam van Manasse die volgende gegee; dit het behoort aan die halwe stam van die nageslag van Manasse, ooreenkomstig hulle familiegroepe:
30Hulle gebied was van Maganajim af, die hele Basan, die hele koninkryk van Og, die koning van Basan en die hele Gawwoot-Jaïr wat in Basan is – sestig dorpe altesaam. 31Die helfte van Gilead, asook Astarot en Edreï, die dorpe van die koninkryk van Og in Basan, is aan die nageslag van Magir, seun van Manasse, gegee, aan die helfte van die nageslag van Magir, ooreenkomstig hulle familiegroepe.
32Dit is die gebiede wat Moses nog in die vlaktes van Moab, oorkant die Jordaan, aan die oostekant, teenoor Jerigo, as erfdeel aan hulle toegewys het. 33 Maar aan die stam van Levi het Moses nie 'n erfdeel gegee nie. Die Here, die God van Israel, Hy is hulle erfdeel, soos Hy vir hulle gesê het.
Currently Selected:
Josua 13: AFR20
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.