YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 11

11
Rehabeam probeer die opstand onderdruk
1Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit die stamme van Juda en Benjamin opgeroep. Hy wou teen Israel gaan oorlog maak om sy koningskap oor hulle te herstel.
2Die Here het met Semaja, die man van God, gepraat: 3“Gaan sê vir Rehabeam, Salomo se seun en koning van Juda, asook vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: 4‘Hier is die Here se boodskap vir julle: Moenie teen julle familie gaan veg nie. Gaan huis toe, want wat gebeur het, het Ek laat gebeur.’” Hulle het na die Here se opdrag geluister en nie teen Jerobeam gaan oorlog maak nie.
Rehabeam versterk die stede van Juda
5Rehabeam het in Jerusalem bly woon. Hy het verskeie stede se mure sterker gebou om Juda te beveilig. 6Hy het die volgende stede in Juda en Benjamin tot vestingstede versterk: Betlehem, Etam, Tekoa, 7Bet-Sur, Soko, Adullam, 8Gat, Maresa, Sif, 9Adorajim, Lakis, Aseka, 10Sora, Ajalon en Hebron. 11Hy het die stede versterk en militêre bevelvoerders daar geplaas. By elkeen is daar ’n voorraad kos, olyfolie en wyn geplaas, 12asook skilde en spiese om die plekke verder te versterk. So het net Juda en Benjamin onder sy beheer gebly.
Die priesters en Leviete trek na Juda toe
13Al die priesters en Leviete wat tussen die noordelike stamme gewoon het, was aan Rehabeam se kant. 14Die Leviete het selfs hulle grond en besittings verlaat om na Juda en Jerusalem te trek. Dit was omdat Jerobeam en sy seuns hulle nie wou toelaat om priesters vir die Here te wees nie. 15Hy het sommer sy eie priesters aangestel vir die heiligdomme, afgode en kalwers wat hy gemaak het.
16Al die mense uit die noordelike stamme van Israel wat graag die Here, die God van Israel, wou dien, het die priesters en Leviete Jerusalem toe gevolg. Daar kon hulle aan die Here, die God van hulle voorouers, offers bring. 17Dit het die koninkryk van Juda versterk. Hulle het drie jaar lank vir Rehabeam, Salomo se seun, ondersteun. Hulle het toegewyd probeer om die Here te dien soos hulle dit in die tyd van Dawid en Salomo gedoen het.
Rehabeam se familie
18Rehabeam het met sy niggie Magalat getrou. Haar pa was Jerimot, een van Dawid se seuns, en haar ma was Abihajil, ’n dogter van Isai se seun Eliab. 19Hy en Magalat het drie seuns gehad. Hulle was Jeüs, Semarja en Saham. 20Later het Rehabeam ook met Maäka, Abisalom se dogter, getrou. Hulle twee het vier seuns gehad: Abia, Attai, Sisa en Selomit. 21Rehabeam was liewer vir Maäka as vir sy ander vroue en byvroue. Hy het altesaam agtien vroue en 60 byvroue gehad en was die pa van 28 seuns en 60 dogters. 22Rehabeam het Maäka se seun Abia leier onder die prinse gemaak om te wys dat hy die volgende koning sou word. 23Hy was ook wys genoeg om vir sy ander seuns verantwoordelikhede te gee. Hy het hulle in die versterkte stede van Juda en Benjamin geplaas. Daar het hy verseker dat hulle baie kosvoorrade ontvang. Hy het ook gesorg dat hulle baie vroue het om mee te trou.

Currently Selected:

2 Kronieke 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 2 Kronieke 11