YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 10

10
Die skeuring van die ryk
1Rehabeam het na Sigem toe gegaan, waar die hele Israel bymekaar was om hom koning te maak. 2Toe Jerobeam, Nebat se seun, hoor dat Salomo dood is, het hy van Egipte af na Israel toe teruggekom. Hy was in Egipte omdat hy vir Salomo gevlug het. 3Die leiers van Israel het Jerobeam laat haal. Hy en die hele Israel het met Rehabeam gaan praat. 4“Jou pa het ons baie swaar laat kry,” het hulle vir Rehabeam gesê. “As jy die dwangarbeid wat hy ons laat doen en die belastingplig verlig, sal ons lojaal bly en jou as ons koning aanvaar.”
5Rehabeam antwoord toe: “Kom oor drie dae terug, dan sal ek julle antwoord.” Hulle is toe daar weg.
6Rehabeam het die saak met die ouer raadgewers, wat ook vir sy pa, Salomo, raad gegee het, gaan bespreek. “Wat dink julle?” het hy gevra. “Hoe moet ek op hulle versoek reageer?”
7Hulle het gesê: “As jy mooi werk met dié mense en goed is vir hulle, en as jy moeite doen om hulle tegemoet te kom, sal hulle vir altyd jou getroue onderdane bly.”
8Rehabeam het hulle raad egter verwerp en die saak met die jonger manne wat saam met hom grootgeword het, gaan bespreek. 9Hy het vir hulle gevra: “Wat dink julle moet ek die mense antwoord wat vir my gevra het om die las wat my pa hulle opgelê het, ligter te maak?”
10Die jongmanne het gesê: “Jy moet die klomp wat kla só antwoord: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf! As julle dink hy het julle swaar laat kry, wag maar tot julle sien wat ek kan doen! 11My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!’”
12Drie dae later het Jerobeam en al die ander mense teruggekom soos Rehabeam versoek het. Hulle wou graag hoor wat die koning besluit het. 13Rehabeam het toe baie lelik met hulle gepraat omdat hy die raad van die ouer raadgewers verwerp het 14en na die jongmanne geluister het. Hy het gesê: “My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!” 15Die koning het glad nie geluister na die mense se versoek nie. Dit was soos God beplan het. So het die profesie van die Here waar geword wat die profeet Agija van Silo teenoor Jerobeam uitgespreek het.
16Toe die hele Israel besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle hom toegesnou: “Dawid is niks van ons nie! Ons het geen saak met Isai se seun nie! Laat ons almal teruggaan huis toe, Israel! Kyk nou maar na jou eie huis, Dawid!”
Hulle is toe almal terug huis toe.
17Rehabeam het slegs koning gebly oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.
18Koning Rehabeam het daarna vir Hadoram, sy bevelvoerder oor die dwangarbeid, gestuur om die orde te herstel. Die Israeliete het hom aangeval en met klippe doodgegooi. Toe dié nuus koning Rehabeam bereik, het hy blitsvinnig op sy strydwa gespring en Jerusalem toe gevlug. 19Die noordelike stamme van Israel het van toe af geweier om deur ’n afstammeling van Dawid regeer te word. Dit is vandag nog so.

Currently Selected:

2 Kronieke 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 2 Kronieke 10