YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 9

9
Die koningin van Skeba se besoek aan Salomo
1Die koningin van Skeba het gehoor van Salomo se goeie naam en van sy besondere wysheid. Daarop het sy besluit om Jerusalem toe te gaan om hom met moeilike vrae te toets. Sy het met ’n groot groep bediendes daar aangekom. Daar was ook ’n karavaan kamele wat gelaai was met speserye, baie goud en waardevolle edelstene. Nadat sy hom ontmoet het, het sy oor alles waaroor sy nagedink het, met hom gepraat. 2Salomo het antwoorde op al haar vrae gehad. Niks was vir hom te ingewikkeld om te verstaan nie.
3Salomo se wysheid en die paleis wat hy gebou het, 4het die koningin van Skeba se asem weggeslaan. Sy was ook verstom oor die kos op die tafels, die amptenare rondom hom, die tafelbediendes en skinkers en die klere wat hulle gedra het, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het.
5Sy het vir Salomo gesê: “Die gerugte wat ek by die huis oor u wysheid en prestasies gehoor het, is die waarheid! 6Ek het nie geglo wat ek gehoor het nie. Maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, besef ek dat die helfte my nooit vertel is nie! U wysheid is baie groter as wat ek ooit kon vermoed. 7Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister. 8Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.”
9Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.
10(Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring. 11Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.)
12Koning Salomo het op sy beurt vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy gevra het. Dit was selfs meer werd as die geskenke wat sy vir hom gegee het. Sy en al haar mense het toe vertrek en na haar land toe teruggekeer.
Salomo se rykdom en oorvloed
13Salomo het elke jaar omtrent 23 ton goud ontvang. 14Dit sluit nie eens die belasting in wat hy op die handelaars en reisigers gehef het nie. Daarby het al die Arabiese konings en die goewerneurs van gebiede ook vir Salomo goud en silwer ingebring.
15Koning Salomo het 200 groot en 300 klein goue skilde laat maak. Vir elke groot skild het hy byna sewe kilogram goud gebruik 16en vir elke klein skild omtrent drie en ’n half kilogram. Hy het al die skilde in die gebou, bekend as Woud van die Libanon, geplaas.
17Verder het die koning ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 18Die troon het ses trappe gehad. Daar was ook ’n goue voetrus aan die troon vasgeheg. Weerskante van die sitplek was daar armleunings met ’n leeu aan elke kant. 19Daar was ook twaalf leeus op die trappe, ses aan elke kant. Daar is nie nog só ’n koningstroon in ’n ander koninkryk te vind nie!
20Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. Dit was ook die geval met alles wat in die gebou met die naam Woud van die Libanon gebruik is. Silwer was in die tyd van Salomo so volop dat dit nie eintlik in tel was nie.
21Die koning het destyds ’n handelsvloot gehad wat beman is deur matrose wat deur Hiram beskikbaar gestel is. Hulle het een keer elke drie jaar teruggekom en dan was hulle skepe gelaai met goud, silwer, ivoor, ape en poue.
22Algaande het Salomo ryker en wyser geword as enige ander koning op aarde. 23Konings van oraloor het na hom toe gekom om na die wysheid te luister wat God vir hom gegee het. 24Elkeen wat hom besoek het, het ’n geskenk saamgebring. Die geskenke het goue en silwervoorwerpe, klere, wapens, speserye, perde en muile ingesluit.
25Salomo het staanplekke vir 4 000 perde en strydwaens en vir 12 000 kavallerie-perde gehad. Die meeste van hulle is in die strydwa-stede gestasioneer, maar ’n klompie was naby die koning, in Jerusalem.
26Hy was die opperheerser van al die konings van die Eufraatrivier in die noorde af tot by die land van die Filistyne en die Egiptiese grens. 27Verder het hy silwer so gewoon soos klippe in Jerusalem laat word en sederhout so gewoon soos die hout van die wildevyebome wat so volop in die laerliggende dele van die land groei. 28Salomo se perde is uit Egipte en verskeie ander lande ingevoer.
’n Opsomming van Salomo se regeringstyd
29Die res van Salomo se geskiedenis, van die begin af tot die einde, is opgeskryf in die Herinneringe van Natan, die Profeet, Die Profesieë van Agija van Silo en Die Gesigte van Jedi, die Siener, wat handel oor Jerobeam, Nebat se seun. 30Salomo het vir 40 jaar in Jerusalem oor die hele Israel regeer. 31Toe Salomo dood is, is hy in die Stad van Dawid, sy pa, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.

Currently Selected:

2 Kronieke 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 2 Kronieke 9