Spreuke 22
22
Oppas vir rusie
1’n Goeie naam is beter as geld. Ander se liefde is kosbaarder as groot rykdom.
2Ryk en arm kan ook saamwoon. Die Here het hulle immers albei geskep.
3’n Slim mens weet wanneer gevaar dreig. Hy weet hoe om dit te vermy. ’n Dom mens ken nie die lewe nie. Hy sukkel maar net aan.
4Mense wat die Here liefhet en nederig lewe, geniet respek en die goeie dinge van die lewe.
5Verkeerde dinge lyk mooi, maar die uiteinde is bitter. ’n Wyse bly ver weg van sulke dinge af.
6Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef.
7’n Ryke heers oor die armes wat hom geld vra. ’n Lener is die slaaf van die een by wie hy leen.
8’n Regeerder wat heeltyd verkeerde dinge doen, sal nog die aaklige gevolge daarvan dra. Sy regering sal nie lank hou nie.
9Iemand wat mense se nood raaksien, ervaar blydskap. Hy wat vir armes gee, is ’n gelukkige mens.
10As ’n rusiemaker weggaan, is alles sommer rustiger en kalmer. Onderlinge rusie en spanning sal dadelik ophou.
11Die mens wat reg optree en reg praat, sal selfs die regeerder onder sy vriende tel.
12Die Here sien alles wat ’n wyse en ’n domme sê en doen. Hy help ’n mens om reg te leef. Hy vernietig bose planne.
13’n Luiaard oordryf altyd alles. As hy nie lus is vir werk nie, sê hy sommer ’n kwaai leeu wag daar buite. As hy sou uitgaan, sal die leeu hom opvreet.
14Pas op vir die praatjies van ’n los vrou. Dit is soos ’n put. Voordat jy jou kom kry, het jy daarin geval. So straf die Here ’n mens wat aan haar verleidings toegee.
15Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede.
16God help die armes! Veral as mense hulle uitbuit. Wie geld op rykes bestee, moet net gee en gee. Naderhand het hy niks meer oor nie.
Woorde van ’n wysheidsleraar
17Spits jou ore! Luister mooi na die wenke vir ’n wonderlike lewe. Maak alle inligting oor die regte manier van lewe jou eie. Dink daaroor na. 18As jy dit doen, sal jy gelukkig wees. Jy sal ook weet wat om op die regte oomblik te sê.
19Al die spreuke moet jou help om die Here nog beter te ken en te vertrou. Dit is waarom al hierdie woorde van wysheid neergeskryf is. 20Ja, alles is net vir jou geskryf. Goeie raad vir ’n gelukkige lewe! 21’n Groot hulp om tussen waarheid en leuens te onderskei. ’n Wonderlike hulpmiddel om ’n mens met integriteit te wees.
22Moenie ’n arm mens uitbuit omdat hy weerloos is nie. Moenie die behoeftiges wat om hulp roep, in die grond in trap nie. 23Onthou, die Here is aan hulle kant. Hy veg vir hulle. En Hy straf almal wat hulle verneder.
24Pas op vir mense met ’n slegte humeur. Bly uit die pad van ’n wraaksugtige mens. 25Moet tog nooit soos hulle word of in hulle aaklige strikke beland nie.
26Dink mooi voordat jy ’n kontrak sluit. Moenie vir ander se skuld borg staan nie. Jy kan in groot skuld beland. 27As jy nie geld het om te betaal nie, sal jy nog so lekker slaap, dan verkoop hulle jou bed onder jou uit.
28Moenie aan grensdrade torring nie. Plase se grense is deur die voorgeslagte bepaal. Ander se eiendom moet gerespekteer word.
29Ken jy ’n goeie vakman wat hard en getrou werk? Hy is by almal in aanvraag. Belangrike mense soek sy dienste. Hy sal dit nog ver bring in die lewe.
Currently Selected:
Spreuke 22: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.