YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 16

16
Die eerste vier bakke: God laat sy straf uitgiet
1Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.”
2Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het.
3Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood.
4Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander. 5Die engel wat vir water moes sorg, sê toe: “U straf hierdie mense regverdig. Want U was altyd daar en is nog daar. U is die Gans Andere. Niemand is soos U nie! Hierdie slegte mense het die mense wat aan U behoort, doodgemaak. 6Hulle het die bloed laat vloei van mense wat ander van U vertel het. Daarom gee U juis vir hulle bloed om te drink - dit is hulle verdiende loon!”
7Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.”
8Die vierde engel gooi toe sy bak op die son uit. Skielik het lang vuurtonge van die son die mense verskroei. Dit was geweldig warm. 9Die mense het gevloek en God uitgeskel. Hy is mos die een wat hierdie dinge laat gebeur. Tog het hulle God nie begin dien nie. Hulle wou nie erken dat Hy regtig die belangrikste van almal is nie.
Met die oordeel van God moet ’n mens nie speel nie
10Toe kom die vyfde engel aan die beurt. Die inhoud van sy bak het op die troon van die dier beland. Oral waar hy invloed uitgeoefen het, het dit so donker geword dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Buite hulleself van pyn het die mense wat Satan dien hulle tonge gekou. 11Hulle het die God van die hemel gevloek en sleggesê oor hulle pyn en hulle sere. Tog wou hulle nie ophou om verkeerde dinge te doen nie. Hulle wou nie reg begin lewe soos God dit wil hê nie.
12Toe slaan die sesde engel toe. Sy bak se inhoud beland op die Eufraatrivier. Dit was ’n groot, magtige rivier, maar elke druppel water het opgedroog. Nou kon die konings uit die ooste sonder moeite deur die rivier kom. 13Toe sien ek die duiwel, die draak, staan saam met die dier en dié een wat voorgee om almal van God te vertel, maar die hele tyd lieg. Hulle maak hulle monde oop, en daar kruip drie bose geeste uit. Hulle het net soos paddas gelyk. 14Hierdie geeste het reguit van die duiwel af gekom en vir hom gewerk. Hulle het allerhande dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hulle is na al die leiers en konings toe. Hulle het nie een oorgeslaan nie, maar almal omgepraat om saam met hulle te kom oorlog maak teen God. Maar dié dag wanneer hulle God gaan aandurf, sal in die geskiedenis uitstaan as ’n geweldig belangrike dag. Dit gaan God se dag wees, want Hy is sterker as almal saam.
15(Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ’n dief s’n - as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”) 16Die duiwel en sy helpers het al die leiers van die wêreld saamgetrek by ’n plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.
Die sewende bak: dit is verby
17Net toe strooi die sewende engel sy bak in die lug uit. Uit die rigting van die troon in God se woonplek, sy tempel, hoor ek toe ’n harde geskree: “Alles is klaar; dit is verby!” 18Toe begin die hele aarde ruk en bewe soos nooit tevore nie. Die blitse het geslaan en die dreuning van die donder was verskriklik. 19Met die groot aardbewing is die belangrikste stad, Babilon, met al die bose mense in stukke geruk. Dit het in drie gebreek. Van die stede en mense wat God nie gedien het nie, het niks oorgebly nie. Ja, so sal dit gaan. God vergeet nie wat die klomp slegte mense van Babilon alles teen Hom gedoen het nie. Hulle sal moet betaal, daarvoor sal God sorg. Elke stukkie van God se straf en woede sal Babilon tref. 20So verskriklik sal dit wees dat eilande sal verdwyn en berge sal platval. 21Hael so groot soos rotse sal uit die hemel op die mense neerreën. Wat ’n verskriklike ramp gaan dit nie wees nie! Mense gaan God daaroor beledig en vloek.

Currently Selected:

Openbaring 16: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in