Openbaring 17
17
Sonde is skrikwekkend en maak mense lelik
1Een van die sewe engele met die bakke kom praat toe met my: “Kom saam. Ek wil jou gaan wys hoe God die groot en belangrike stad Babilon met haar bose inwoners gaan straf. Ek praat van die stad wat haar rug vir God gedraai het soos ’n onsedelike vrou haar rug vir haar man draai. Dit is die stad wat oor baie water gebou is. In plaas daarvan om aan God getrou te wees, 2het die stad na die belangrike leiers van die wêreld gevry. Dit het die mense oor die hele wêreld so bedwelm soos te veel wyn ’n mens bedwelm. Net soos die stad het hierdie mense ook nie belanggestel om God te dien nie. Hulle het eerder gedoen wat die stad wou hê.”
3Die engel vat my toe die woestyn in. Ek was baie bewus van die Heilige Gees by my. Daar in die woestyn sien ek toe ’n beeld van die stad wat lyk soos ’n vrou. Sy het op ’n bloedrooi dier gesit. Die dier was oortrek met die vieslikste vloekwoorde wat God baie lelik beledig het. Die dier het sewe koppe gehad en tien horings. Hy het nogal in die oë van mense baie sterk gelyk. 4Die vrou was in pers en rooi klere uitgedos. Sy het ook pragtige juwele gedra: dit was alles van goud, pêrels en ander duur edelstene. Geld en rykdom was al wat vir haar belangrik was. In haar hand het sy ’n goue beker vasgehou. Die beker was propvol van haar vieslikhede en vuil onsedelikheid. Vir God was dit walglik. 5Sy het ook ’n naam gehad wat op haar voorkop geskryf was. Dit het ’n geheime betekenis gehad. Daar het gestaan: “Babilon, die groot en beroemde stad. Die moeder van alle mense wat hulle rug vir God draai en hulle met die vieslikhede van hierdie wêreld besig hou.” 6Ek het mooi gekyk en gesien dat die vrou dronk was. Ja, sy was dronk van al die bloed van God se mense en die mense wat doodgemaak is omdat hulle Jesus Christus gedien het. My mond het oopgehang toe ek haar sien. Ek kon my oë nie glo nie!
7Die engel sê toe vir my: “Hoekom is jy so verbaas? Ek sal die geheim vertel van die vrou en die dier met die sewe koppe en tien horings wat haar dra. 8Dit was in die verlede belangrik, maar nou is dit weg. In die toekoms sal dit weer uit die onderaardse diepte uitkom, net om totaal vernietig te word. Mense sal vreeslik beïndruk wees as hulle die dier sien, omdat hy in die verlede daar was, toe verdwyn het, maar skielik weer in die toekoms te voorskyn sal kom. Maar dit is nie waar van alle mense nie. Dit is net waar van mense wie se naam nie van die begin af in die boek van die ewige lewe geskrywe is nie.
9“Om al hierdie dinge te verstaan moet ’n mens mooi dink. Kophou is die antwoord. Die sewe koppe van die dier stel die sewe heuwels voor waarop die vrou sit, met ander woorde, waarop die stad gebou is. Daar was ook sewe regeerders. 10Vyf van hulle was al klaar daar. Die sesde een regeer nou. Die sewende een is nog op pad. Hy sal nie lank regeer nie. 11Dan is daar die dier wat in die verlede daar was, maar nou van die toneel verdwyn het. Hy is deel van sy sewe voorgangers, maar is tegelyk die agtste regeerder. Hy is op pad om sy moses teë te kom. Hy gaan vernietig word.
12“Die tien horings wat jy gesien het, is die tien regeerders wat nog nie begin regeer het nie. Hulle sal saam met die dier ’n uur lank soos konings kan regeer. 13Al tien het net een doel voor oë: hulle wil al hulle mag en invloed vir die dier gee. 14Hulle sal saam oorlog maak teen die Lam, maar die Lam sal hulle ’n goeie pak slae gee. Die Lam is die regeerder van al die regeerders. Al sy mense kan weet dat Hy hulle spesiaal na Hom toe geroep het. Hulle is spesiaal gekies en het aan Hom getrou gebly.”
15Die engel sê toe verder: “Die baie water wat jy gesien het, waaroor die slegte vrou sit, moet vergelyk word met al die mense van die wêreld. Dit maak nie saak waar hulle vandaan kom, hoe hulle lyk of watter taal hulle praat nie. 16Die tien horings (dit is mos die tien regeerders) wat jy gesien het en die rooi dier sal niks vir die slegte vrou voel nie. Hulle sal haar molesteer en sonder ’n draad klere aan laat lê. Dan sal hulle haar met hulle tande uitmekaarskeur en opeet. Wat oorbly, sal hulle met vuur verbrand. 17God self het daarvoor gesorg dat die regeerders op die idee gekom het om hulle mag vir die dier te gee. Hulle het presies gedoen wat God wou gehad het. So sal dit aangaan tot alles wat God gesê het, presies gebeur het. 18Die vrou wat jy gesien het, is die groot en belangrike stad wat oor al die heersers van die wêreld getroon en geheers het.”
Currently Selected:
Openbaring 17: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.