Drie van Job se vriende was Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het gehoor van die tragedies wat Job getref het. Toe het hulle mekaar ontmoet en saam na Job gekom om hom te troos en te bemoedig. Hulle het Job al van ’n afstand af gesien, maar hulle het hom nie eens herken nie. Toe het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof op hulle koppe gegooi, so hartseer was hulle oor Job se situasie. Daarna het hulle sewe dae en sewe nagte lank op die grond by Job gesit. Nie een kon ’n woord teenoor hom uitkry nie. Hulle kon sien dat Job se smart te groot is vir woorde.