1 PETRUS 3:2-7

1 PETRUS 3:2-7 NLV

Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe. Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie. Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar. Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar. Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie. En julle, mans, behandel julle vroue met respek. Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee. As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.