2 KRONIEKE 1
1
Salomo vra vir wysheid
1Salomo, seun van koning Dawid, het beheer oor sy koninkryk verkry, want die Here sy God was met hom en het hom baie magtig gemaak. 2Hy het die hele Israel bymekaargeroep, al die generaals en kapteins van die leër, die regters, en al die leiers en die familiehoofde. 3Salomo en die hele vergadering saam met hom het na die hoogte by Gibeon gegaan. God se tent van ontmoeting was daar. Moses, die dienaar van die Here, het dit nog in die woestyn gemaak. 4Dawid het reeds die ark van God verskuif vanaf die woning van Kirjat-Jearim na die tent wat hy daarvoor in Jerusalem opgeslaan het. 5Maar die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was voor die tabernakel van die Here. Salomo en die volk het gekom om die Here te raadpleeg. 6Salomo het opgegaan na die bronsaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting, en 1 000 brandoffers daar geoffer.
7Daardie nag het God in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: “Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!”
8Salomo het God geantwoord: “U het oorvloedige troue liefde aan my pa Dawid betoon, en my in sy plek koning gemaak. 9Nou, Here God, bevestig tog u belofte aan my pa Dawid, want U het my koning gemaak oor ’n volk wat so baie is soos die stof van die aarde! 10Gee my tog wysheid en kennis sodat ek hulle reg kan regeer, want wie kan oor hierdie groot volk van U regeer?”
11God sê toe vir Salomo: “Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ’n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer; 12sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor jou of na jou ooit sal hê nie.” 13Daarna het Salomo vanaf die tent van ontmoeting op die hoogte in Gibeon na Jerusalem toe teruggegaan. Hy het oor die hele Israel regeer.
14Salomo het ’n groot militêre mag opgebou. Dit het 1 400 strydwaens en 12 000 perde ingesluit. Hy het hulle in die stede geplaas, en sommige naby hom in Jerusalem. 15Hy het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak. Seders was so volop soos wildevyebome in die Laeveld. 16Salomo se perde is uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koning se handelaars het hulle in Kewé gekoop teen pryse waarop daar ooreengekom is. 17Destyds is strydwaens vir byna sewe kilogram silwer#1:17a Grondteks 600 stukke silwer. uit Egipte ingevoer, en ’n perd vir een en ’n driekwart kilogram#1:17b Grondteks 150 stukke silwer.. Baie hiervan is na die Hetitiese en Aramese konings uitgevoer.
Tans Gekies:
2 KRONIEKE 1: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011