2 KRONIEKE 11

11
Die profesie van Semaja
1Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel op te trek en die koningskap vir hom terug te wen. 2Maar die Here het vir Semaja, die man van God, gesê: 3“Sê vir Rehabeam seun van Salomo en koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin: 4‘Dit is wat die Here sê: Moenie teen julle bloedverwante optrek en veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en nie teen Jerobeam opgetrek nie.
Rehabeam versterk Juda
5Rehabeam het in Jerusalem gewoon en verskeie stede herbou om Juda te verdedig. 6Hy het die volgende plekke herbou: Betlehem, Etam, Tekoa, 7Bet-Sur, Soko, Adullam, 8Gad, Maresa, Sif, 9Adorajim, Lakis, Aseka, 10Sora, Ajalon en Hebron. 11Rehabeam het hulle verdediging versterk en vir hulle bevelvoerders aangestel. In elkeen van hulle het hy voorrade kos, olyfolie en wyn gebêre. 12Hy het ook skilde en spiese in hierdie stede geplaas om hulle te versterk. Hy het egter net oor Juda en Benjamin geheers.
13Al die priesters en Leviete wat in Israel was, het Rehabeam se kant gekies. 14Die Leviete het selfs hulle huise en eiendom verlaat en na Juda en Jerusalem verhuis omdat Jerobeam en sy seuns nie toegelaat het dat hulle as priesters die Here dien nie. 15Jerobeam het sy eie priesters aangestel vir die hoogtes en die heiligdomme en vir die bokgode en kalwerbeelde wat hy gemaak het. 16Van al die stamme van Israel het hulle wat die Here die God van Israel wou dien, die Leviete na Jerusalem toe gevolg. Daar kon hulle offers bring aan die Here die God van hulle voorouers. 17Dit het die koninkryk van Juda versterk en hulle het drie jaar lank Rehabeam seun van Salomo ondersteun. Hulle het met erns probeer om die Here te gehoorsaam soos dit gedoen is tydens die bewind van Dawid en Salomo.
Rehabeam se gesin
18Rehabeam het getrou met Magalat, die dogter van Dawid se seun Jerimot. Haar ma was Abihajil dogter van Eliab, seun van Isai. 19Magalat het drie seuns gehad: Jeüs, Semarja en Saham.
20Later het Rehabeam met Maäka die dogter van Absalom getrou. Maäka se seuns was: Abia, Attai, Sisa en Selomiet. 21Rehabeam was baie lief vir Maäka die dogter van Absalom, meer as enige van sy ander vroue of byvroue. Hy het altesaam agtien vroue en 60 byvroue gehad. Hy het 28 seuns en 60 dogters gehad. 22Rehabeam het Maäka se seun Abia die belangrikste een onder sy broers gemaak. So het hy aangedui wie sy opvolger sou wees. 23Rehabeam was wys genoeg om die ander seuns in versterkte stede, verspreid in verskillende streke in Juda en Benjamin, te plaas. Hy het hulle met oorvloedige voorrade voorsien en gesorg dat hulle baie vroue kry.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 11: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan