2 KONINGS 2
2
Elia word in die hemel opgeneem
1Die tyd het aangebreek dat die Here vir Elia in ’n stormwind na die hemel toe sou opneem. Elia en Elisa was op pad van Gilgal af. 2Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie!” Hulle het toe saam na Bet-El toe gegaan.
3’n Groep profete uit Bet-El het na Elisa toe gekom en vir hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”
“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy. “Bly net stil!”
4Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam in Jerigo aangekom.
5’n Groep profete uit Jerigo het Elisa tegemoetgekom en hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”
“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy weer. “Bly net stil!”
6Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.”
Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam verder gegaan.
7Uit die groep profete het 50 mans ook saamgegaan en op ’n afstand, teenoor die plek waar Elia en Elisa by die Jordaanrivier was, gaan staan. 8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het weerskante toe verdeel sodat die twee droogvoets deur die rivier kon gaan.
9Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?”
“Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang#2:9 Grondteks ’n dubbele deel van jou gees op my kom.,” antwoord Elisa.
10“Jy vra my ’n moeilike saak,” antwoord Elia. “As jy sien hoe ek van jou af weggeneem word, sal jy dit ontvang. As jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
11Terwyl hulle nog so aanstap en gesels, verskyn daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur. Dit het hulle van mekaar geskei. Elia is in ’n stormwind opgeneem na die hemel toe. 12Toe Elisa dit sien, roep hy uit: “My vader! My vader! Die strydwa en perderuiters van Israel!” Toe Elisa hom nie meer kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee geskeur.
13Maar Elia se mantel het afgeval en Elisa het dit opgetel. Toe gaan hy terug en gaan staan by die wal van die Jordaanrivier. 14Hy het Elia se mantel wat afgeval het, gevat, daarmee op die water geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, die God van Elia, ja, Hy?” Toe hy die water slaan, het dit weerskante toe verdeel sodat hy kon deurgaan.
15Die groep profete van Jerigo het oorkant gestaan en gesien wat gebeur het. Hulle sê toe: “Elisa is Elia se opvolger!”#2:15 Grondteks Die gees van Elia rus nou op Elisa. Hulle het hom tegemoetgegaan en voor hom gebuig.
16“Meneer,” sê hulle, “hier is 50 dapper manne onder ons. Laat hulle tog na u leermeester gaan soek. Miskien het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.”
“Nee,” sê Elisa, “moenie hulle stuur nie.” 17Hulle het egter aangehou sodat hy moes toegee: “Goed, stuur hulle maar.” Die 50 manne het drie dae lank gesoek, maar kon nie vir Elia opspoor nie. 18Elisa was nog in Jerigo toe hulle terugkom. “Het ek dan nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?” vra hy.
Die eerste wondertekens van Elisa
19Die inwoners van Jerigo het Elisa besoek en gesê: “Hierdie dorp is in ’n pragtige omgewing geleë, soos u self kan sien. Maar die water is onbruikbaar en die landerye is onvrugbaar.”
20Elisa sê: “Bring vir my ’n nuwe skottel met sout daarin.” Hulle het dit gedoen. 21Toe gaan hy na die fontein waar die dorp water vandaan gekry het en gooi die sout daarin. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Ek maak hierdie water bruikbaar. Dit sal nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.” 22Die water het tot vandag toe bruikbaar gebly, net soos Elisa gesê het.
23Elisa het daarna na Bet-El toe opgegaan. Terwyl hy in die pad loop, kom ’n groep klein seuntjies uit die dorp en begin hom spot. “Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep. “Gaan op, kaalkop!” 24Elisa het omgedraai, na hulle gekyk en hulle in die Naam van die Here vervloek. Toe kom daar twee bere uit die bos en verskeur 42 van hulle. 25Daarvandaan het Elisa na Karmelberg gegaan, en daarna terug na Samaria toe.
Tans Gekies:
2 KONINGS 2: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011