2 PETRUS 2

2
Wees gereed vir die vals leraars met hulle eie agendas
1Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself. 2Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad.
3In hulle gejaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word. Ja, hulle vernietiging wag.
4Julle weet mos: God het selfs die engele nie gespaar toe hulle gesondig het nie. Hy het hulle na die onderwêreld toe gestuur#2:4a Sommige vertalings in die hel gestort. en hulle in donker tronkselle#2:4b Sommige manuskripte en hulle met boeie van duisternis gevange. laat hou vir die oordeel. 5Hy het ook die wêreld van lank gelede nie gespaar nie, maar slegs vir Noag en sy gesin van sewe bewaar. Noag het gepreek oor hoe mense reg voor God moet lewe#2:5 Of Noag het die geregtigheid van God verkondig. en oor hoe Hy regverdig straf. Toe het God die hele wêreld vol goddelose mense met ’n vloed vernietig. 6Later het Hy die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand en hulle totaal vernietig. Hy het hulle ’n voorbeeld gemaak van wat met goddelose mense gaan gebeur. 7En tog het God vir Lot gered, ’n man wat reg voor God gelewe het#2:7, 8 Of ’n regverdige man.. Lot was siek en sat van die wilde leefstyl van mense wat hulle aan geen wette steur nie. 8’n Mens kan jou dit indink: Vir iemand wat reg voor God gelewe het#2:7, 8 Of ’n regverdige man., moes dit ’n marteling wees om tussen hulle te bly en dag vir dag soveel van hulle gruweldade te aanskou en aan te hoor.
9Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei#2:9 Of die onregverdiges., te straf en vir die oordeelsdag te bêre. 10Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie.
Hierdie leraars is uitdagend en vermetel. Hulle huiwer selfs nie om glansryke wesens te beledig nie. 11Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger as die vals leraars is, maak nie in die Here se Naam lasterlike uitsprake teen hierdie wesens nie.
12Hierdie mense is soos wilde diere sonder verstand, gebore om net gevang en geslag te word. Hulle spot met dinge waarvan hulle niks verstaan nie, en soos wilde diere sal hulle ook uitgeroei word. 13Omdat hulle lewe voor God nie reg is nie, kry hulle presies dít wat hulle verdien. Vir hulle is die toppunt van plesier om helder oordag wilde partytjies te hou. As hulle by julle eet, is dit baie sleg vir julle naam, want terwyl hulle saam met julle feesvier, is dit vir hulle lekker om julle saam te vat op die paaie waarop hulle self verdwaal het. 14Hulle pleeg egbreuk met hulle oë, en van sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense, en is goed afgerigte geldwolwe – sulke vervloektes! 15Hulle het weggedraai van die reguit pad en verdwaal geraak. Hulle het die pad geloop van Bileam, seun van Beor#2:15 Sommige manuskripte Bosor., wat daarvan gehou het om vir geld verkeerde dinge te doen. 16Bileam is egter op die dwase koers wat hy ingeslaan het, voorgekeer toe ’n stom donkie in menstaal met hom geraas het.
17Hierdie mense is so min werd soos opgedroogte fonteine, of soos miswolke wat deur die wind weggewaai word: vol belofte, maar daar kom niks van nie. Vir hulle wag die donkerste donkerte alreeds. 18Hulle is bombasties en praat onsin. Hulle gebruik die losbandige luste van die mens se natuurlike drange as lokaas om die mense wat pas ontsnap het van dié wat op die verkeerde pad is, te verlei. 19Hulle belowe vryheid, maar is self slawe in diens van korrupsie. As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf. 20En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. 21Dit sou definitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid#2:21a Of van wat voor God reg is. nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif#2:21b Grondteks gebod. wat aan hulle oorgelewer is.
22Van hulle is dié spreekwoorde waar:
“’n Hond gaan terug
na sy braaksel toe.”#2:22 Spr 26:11.
en:
“’n Vark word gewas,
net om weer
in die modder te rol.”

Tans Gekies:

2 PETRUS 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan