HANDELINGE 1:1-11

HANDELINGE 1:1-11 NLV

Beste Teofilus In my eerste boek het ek jou vertel van alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag toe Hy opgeneem is. Voor sy hemelvaart het Hy deur die Heilige Gees aan die mans wat Hy as apostels uitgekies het, opdragte gegee. In die loop van 40 dae na sy lydenstyd het Hy by verskeie geleenthede aan die apostels verskyn, en op baie maniere aan hulle bewys dat Hy regtig lewe. Hy het telkens met hulle oor die koningsheerskappy van God gepraat. ’n Keer toe hulle so saam was, het Hy aan hulle dié opdrag gegee: “Moenie Jerusalem verlaat voordat julle van die Vader ontvang het wat Hy belowe het nie. Julle onthou mos dat Ek julle vroeër daarvan vertel het: Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het die apostels Jesus aanhou vra: “Here, is dit nou die tyd dat U Israel weer ’n onafhanklike volk met ’n eie koning gaan maak?” “Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie. Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.” Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn. Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”