HANDELINGE 10:36-42

HANDELINGE 10:36-42 NLV

Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig, maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn, nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.