HANDELINGE 10:36-42
HANDELINGE 10:36-42 Bybel vir almal (ABA)
Julle ken die boodskap wat God vir die Israeliete gestuur het. Jesus Christus het daardie goeie boodskap van vrede vir hulle gebring. En Hý, Jesus, is die Here van almal. Julle weet van die dinge wat gebeur het in die hele Joodse land. Dit het alles in die provinsie Galilea begin toe Johannes die Doper gepreek het oor die doop waarmee hy die mense doop. Julle weet dat God die Heilige Gees in Jesus van Nasaret laat kom het en dat God vir Hom krag gegee het. God was by Jesus, daarom het Jesus na baie plekke gegaan en Hy het goeie dinge gedoen: Hy het almal gesond gemaak wat baie swaar gekry het omdat die duiwel in hulle was. En ons is getuies van alles wat Jesus in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het vir Jesus aan 'n houtpaal gehang en so het hulle Hom doodgemaak. Maar God het vir Jesus op die derde dag weer laat lewe en God het Jesus vir ons gewys. God het Hom nie vir al die mense van die volk gewys nie, net vir ons, ons wat saam met Jesus geëet en gedrink het nadat Hy gesterf het en nadat God vir Jesus weer laat lewe het. God het ons voor daardie tyd gekies om getuies hiervan te wees. God het ook gesê dat ons vir die volk moet vertel en moet getuig dat God vir Jesus gekies en aangestel het om die Regter te wees. Die Regter moet oordeel oor die mense wat lewe en oor die mense wat klaar gesterf het.
HANDELINGE 10:36-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus — Hy is die Here van almal. Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.
HANDELINGE 10:36-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies.
HANDELINGE 10:36-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense. Julle weet wat dwarsdeur Judea gebeur het – dit het begin in Galilea, ná die doop wat Johannes verkondig het – hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Hy het die land deurreis, goed gedoen en almal wat onder die mag van die Duiwel was, genees, omdat God met Hom was. Ons is getuies van alles wat Hy in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Maar hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Vir Hom het God op die derde dag opgewek, en beskik dat Hy verskyn – nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat vroeër reeds deur God aangewys is – aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood opgestaan het. En Hy het ons beveel om aan die volk te verkondig en kragtig te getuig dat dit Hy is wat deur God aangewys is as Regter oor die lewendes en die dooies.
HANDELINGE 10:36-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord wat God aan die kinders van Israel gestuur het deur vrede te verkondig deur Jesus Christus: Hy is die Here van almal. Daardie woord, sê ek, weet julle, wat deur die hele Judéa bekend gemaak is en van Galilea begin het, ná die doop wat Johannes verkondig het; Hoe God Jesus van Nasaret gesalf het met die Heilige Gees en met krag, wat rondgegaan het om goed te doen en almal genees het wat deur die duiwel onderdruk was; want God was met hom. En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die land van die Jode sowel as in Jerusalem; wat hulle gedood en aan 'n boom opgehang het: Hom het God op die derde dag opgewek en Hom openlik getoon; Nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat voor God uitverkore is, ja, aan ons, wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En hy het ons beveel om vir die volk te preek en te getuig dat dit Hy is wat deur God aangestel is om die Regter van lewende en dode te wees.
HANDELINGE 10:36-42 Die Boodskap (DB)
“Ek het goeie nuus vir julle: God het onlangs ’n baie belangrike boodskap na Israel toe gestuur. Dit is ook vir julle bedoel. Die inhoud van hierdie goeie nuus is dat God met ons almal vrede kom maak het. Jesus Christus het hierdie boodskap persoonlik na ons toe gebring. Hy is die Here oor almal. “Dalk het julle ook gehoor wat ’n ruk gelede daar in Judea met Hom gebeur het. Dit het eintlik al in Galilea begin toe Johannes die Doper daar gepreek het dat mense hulle lewens moet verander en hulle moet laat doop. Daarna het Jesus van Nasaret op die toneel verskyn. God het die Heilige Gees oor Hom uitgestort. Jesus het toe begin om mense te help, bose magte uit hulle weg te jaag, en al wat siek mens is, te genees. Hy het dit alles gedoen met behulp van God se groot krag. “Ek het al hierdie dinge met my eie oë sien gebeur: van Galilea af tot in Jerusalem. Toe Jesus in Jerusalem aankom, het die mense Hom doodgemaak. Hulle het Hom aan ’n houtkruis opgehang. Op die derde dag na sy dood het God Hom weer lewendig gemaak. Hy het ook toegelaat dat Jesus vir ’n klompie mense kom wys dat Hy lewe, maar nie vir almal nie. God het vooraf sekere mense uitgesoek aan wie Jesus verskyn het. Ek en die ander apostels is daardie bevoorregte groepie. Ons paar het die voorreg gehad om saam met Jesus te eet en te drink nadat Hy weer lewendig geword het. “Jesus het ons beveel om hierdie nuus oral te gaan oorvertel. Ons moet vir almal gaan sê dat Hy deur God self aangestel is as Regter oor almal op die aarde, oor almal wat lewe en wat reeds dood is.
HANDELINGE 10:36-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig, maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn, nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.