EKSODUS 26

26
Aanwysings vir die tabernakel
1“Maak die tabernakel uit tien stukke materiaal. Daar moet blou, pers en bloedrooi draad in die materiaal ingeweef word. Daar moet ook gerubs daarop uitgeborduur word. 2Elke stuk materiaal moet veertien meter lank wees en twee meter breed. Al tien stukke moet ewe groot wees. 3Werk vyf stukke aan mekaar om een stel te vorm. Werk ook die vyf ander aan mekaar om ’n tweede stel te maak.
4“Werk blou lissies aan die kant van die buitenste stuk materiaal van elke stel. 5Elke stel moet 50 lissies hê wat presies op mekaar pas. 6Maak 50 goue hakies om die lissies van die twee stelle aan mekaar vas te maak. Dit vorm dan ’n eenheid wat bo-oor die tent kom.
7“Maak ook nog ’n tweede laag vir die tent. Dit moet van bokhaar wees. Daar moet elf stukke hiervan wees. 8Elkeen moet vyftien meter lank wees en twee meter breed. Al elf moet ewe groot wees. 9Werk vyf stukke aan mekaar om een stel te vorm. Werk die ander ses aan mekaar om ’n tweede stel te maak. Die sesde stuk word dubbel gevou. Dit kom by die ingang van die tent.
10“Werk 50 lissies aan die kant van die buitenste stuk van elke stel. 11Maak hiervoor 50 hakies van koper. Sit die twee stelle reg op mekaar en haak hulle aan mekaar vas om ’n eenheid te vorm. 12Die strook materiaal wat oorskiet, moet aan die agterkant van die tabernakel oorhang. 13Die 50 sentimeter wat weerskante in die lengte van die stroke oorskiet, moet dus weerskante van die sye van die tabernakel ’n oorhang wees om dit toe te maak.
14“Maak ’n derde laag van gebreide ramsvel. Sit ’n laag van gebreide vel bo-oor. Dit alles vorm die dak van die tabernakel.
15“Die raamwerk van die tabernakel bestaan uit panele wat van akasiahout gemaak is. 16Elke paneel is vyf meter hoog en 75 sentimeter breed. 17Daar moet aan elke paneel twee plekke wees waar dit met penne aan die volgende paneel verbind kan word. Al die panele moet so gemaak word. 18Maak twintig panele vir die suidelike muur van die tabernakel. 19Dit moet op 40 voetstukke van silwer pas. Onder elke paneel moet twee voetstukke kom. 20Aan die noordekant kom ook twintig panele. 21Vir hulle moet daar ook 40 voetstukke van silwer wees, twee onder elke paneel. 22Aan die westekant kom ses panele. 23Op die hoeke kom versterkte panele. 24Hierdie hoekpanele moet versterk word om bo en onder aan die ander muur vas te kom. 25Daar moet dus altesaam agt panele aan daardie kant van die tabernakel wees wat op sestien voetstukke van silwer staan, twee onder elke paneel.
26“Jy moet ook dwarsbalke van akasiahout maak om die panele aan mekaar vas te hou. Daar moet vyf balke vir die noordelike muur van die tabernakel wees. 27Vir die suidelike muur moet daar ook vyf balke wees. Net so moet daar vyf dwarsbalke vir die westelike muur wees. 28Die middelste dwarsbalk in die middel van die panele moet van een kant na die ander loop. 29Trek die panele met goud oor. Maak hake daaraan sodat die dwarsbalke daarin kan pas. Trek die dwarsbalke ook met goud oor.
30“Rig die tabernakel presies so op soos Ek vir jou op die berg gesê het.
31“Maak ’n gordyn om die tent in twee dele af te skort. Dit moet van linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is. Gerubs moet daarop uitgeborduur wees. 32Hang die gordyn in die tabernakel aan hake bo-aan vier regop balke. Hulle moet van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek word. Hulle moet elkeen op ’n voetstuk staan wat van silwer gemaak is. 33Nadat jy die gordyn gehang het, moet jy die ark van die verbond#26:33 Of ark van die getuienis. agter die gordyn kom neersit. Die heiligdom word met hierdie gordyn van die Allerheiligste deel van die tent afgeskort.
34“Sit die deksel – waar versoening gedoen word – op die ark daar in die Allerheiligste deel. 35Sit die tafel en die kandelaar reg teenoor mekaar in die Heilige deel voor die gordyn. Die kandelaar kom teen die suidelike muur. Die tafel kom oorkant by die noordelike muur.
36“Maak ’n gordyn van linne vir die ingang van die tent. Daar moet blou, pers en bloedrooi draad ingeweef word, met borduurwerk versier. 37Hang dit aan goue hake aan vyf regop balke. Die balke moet van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek word. Dit kom op vyf voetstukke wat van koper gemaak is.”

Tans Gekies:

EKSODUS 26: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan