ESEGIËL 10

10
Die Here se heerlikheid verlaat die tempel
1Terwyl ek nog kyk, sien ek iets wat lyk soos ’n troon van blou saffier en wat bokant die kristalkoepel verskyn. Dit was bokant die koppe van die gerubs. 2Toe sê die Here vir die man met klere van linne: “Gaan in tussen die wiele onder die gerubs en vat ’n hand vol van die gloeiende kole tussen die gerubs. Gaan strooi dit oor die stad!” Hy het toe so gemaak terwyl ek toekyk. 3Die gerubs het aan die suidekant van die tempel gestaan toe die man ingegaan het, en die wolk van heerlikheid het die hele voorhof gevul. 4Toe het die heerlikheid van die Here opgestyg van bokant die gerubs en na die drumpel van die tempel gegaan. Die tempel was gevul met hierdie wolk van heerlikheid, en die tempel het blink geskyn van die heerlikheid van die Here. 5Die vlerke van die gerubs wat beweeg het, het soos die stem van God die Almagtige geklink. Dit kon duidelik in die buitenste voorhof gehoor word.
6Die Here#10:6 Grondteks Hy. sê toe vir die man met die linneklere: “Gaan tussen die gerubs in en vat van die brandende kole tussen die wiele.” Die man het ingegaan en langs een van die wiele gaan staan. 7Een van die gerubs het sy hand uitgesteek en brandende kole gevat uit die vuur wat tussen hulle is. Hy sit toe die kole in die hande van die man met die linneklere. Die man het dit gevat en uitgegaan. 8Die gerubs het almal iets onder hulle vlerke gehad wat soos mense se hande gelyk het.
9Ek sien toe dat daar langs elkeen van die gerubs ’n wiel is. Die wiele het soos edelstene geblink. 10Die vier wiele het presies eenders gelyk. Binne-in elke wiel het ’n ander wiel dwars gedraai. 11Die gerubs kon beweeg in die rigting van enige van die vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. 12Die gerubs en die wiele was vol oë. Die gerubs het oë oor hulle hele lyf gehad, en ook op hulle hande en hulle rûe en hulle vlerke. 13Ek het gehoor iemand praat daarvan as “wiele”. 14Elkeen van die vier gerubs het vier gesigte gehad. Die eerste was die gesig van ’n bees#10:14 Grondteks gerub. Maar vgl 1:10.. Die tweede was die gesig van ’n mens. Die derde was die gesig van ’n leeu. En die vierde was die gesig van ’n arend.
15Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het. 16Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg. Wanneer hulle in die lug opgestyg het, het die wiele langs hulle gebly. 17Wanneer die gerubs stilgestaan het, het die wiele ook gaan staan, want die gees van die lewende wesens was in die wiele.
18Toe het die heerlikheid van die Here van die deur van die tempel af beweeg en oor die gerubs gehang. 19Terwyl ek gekyk het, het die gerubs met hulle wiele na die oostelike ingang van die Here se tempel gevlieg. En die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.
20Dit was dieselfde lewende wesens wat ek onder die God van Israel gesien het toe ek langs die Kebarrivier was. Ek het geweet hulle is gerubs, 21want elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en iets wat soos mensehande gelyk het, was onder hulle vlerke. 22Hulle gesigte het ook net soos die gesigte gelyk van die wesens wat ek langs die Kebar gesien het, en hulle het reguit vorentoe beweeg, net soos die ander gedoen het.

Tans Gekies:

ESEGIËL 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan