ESEGIËL 18

18
Elkeen is vir homself verantwoordelik
1Ek het nog ’n boodskap van die Here gekry: 2“Hoekom gebruik julle dié spreekwoord in die land Israel:
“‘Die ouers eet groen druiwe,
en die kinders se tande
word stomp’?
3“So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, julle sal dit nie weer in Israel sê nie, 4want Ek oordeel alle mense – ouers en kinders. Ek oordeel volgens dié reël: Die mens wat sondig, sal sterf.
5“Veronderstel
iemand is regverdig:
hy doen wat goed en reg is;
6hy vier nie saam fees
voor die afgode van Israel,
en aanbid hulle nie.
Hy is nie ontrou aan sy eie vrou,
en slaap nie by ’n vrou
wat menstrueer nie.
7Hy verdruk nie mense nie
en gee goed terug
wat hy in pand geneem het.
Hy beroof niemand nie,
maar gee kos
vir honger mense
en klere vir behoeftiges.
8Hy leen nie geld op rente nie,
en eis nie woekerwins nie.
Hy weerhou hom van onreg
en laat reg geskied
tussen mense.
9Hy lewe
volgens my voorskrifte
en is getrou aan my bepalings.
So ’n persoon is regverdig.
Hy sal waarlik bly lewe,
sê die oppermagtige Here.
10“Sê nou hierdie man het ’n seun wat ’n rower of moordenaar word. Hy weier om te doen wat reg is. 11Hierdie seun doen al die bose dinge wat sy pa nooit sou doen nie:
“Hy aanbid afgode op die berge
en slaap by ander se vroue.
12Hy verdruk arm en hulpelose mense.
Hy beroof mense
en gee nie goed terug
wat hy in pand geneem het nie.
Hy soek hulp by afgode
en pleeg afskuwelike dade.
13Hy leen geld uit op rente
en eis woekerwins.
“Sal so ’n mens lewe? Nee, hy het afskuwelike dinge gedoen en hy moet doodgemaak word. Hy moet die volle blaam dra.
14“Veronderstel nou hierdie sondige seun het weer ’n seun wat sy pa se afskuwelike gedrag sien, maar besluit om nie so te lewe nie.
15“Hy weier om op die berge
afgode te aanbid
en soek nie hulp
by die afgode nie.
Hy slaap nie by die vrou
van ’n ander man nie.
16Hy verdruk nie arm mense nie
en vat niks in pand nie.
Hy beroof niemand nie,
maar gee van sy kos
vir mense wat honger is
en sy klere vir behoeftiges.
17Hy verdruk niemand nie
en vat nie rente
of woekerwins nie.
Hy is getrou aan my bepalings
en lewe
volgens my voorskrifte.
“Hy sal nie doodgemaak word vir sy pa se sondes nie. Nee, hy sal bly lewe. 18Die pa sal doodgemaak word oor die afskuwelike dade wat hy gepleeg het. Hy was wreed en het sy eie familie beroof. Hy het tussen sy mense slegte dinge gedoen.
19“Nou vra julle: ‘Waarom word die seun nie vir die pa se sondes verantwoordelik gehou nie?’ Die seun het dan gedoen wat reg en goed is en hy het my voorskrifte onderhou; daarom sal hy verseker lewe. 20Die een wat sonde doen, word doodgemaak. ’n Kind sal nie vir die ouer se sondes gestraf word nie. En ’n ouer sal nie vir die kind se sondes gestraf word nie. Regverdige mense sal beloon word vir die goeie wat hulle doen. En slegte mense sal gestraf word vir die slegte wat hulle doen.
21“Maar as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en my voorskrifte begin gehoorsaam en doen wat goed en reg is, sal hulle verseker lewe. Hulle sal nie doodgemaak word nie. 22Al die verkeerde dade van die verlede sal vergeet word. Hulle sal lewe omdat hulle doen wat goed en reg is.
23“Dink julle, vra die oppermagtige Here, dat Ek daarvan hou om slegte mense te sien doodgaan? Natuurlik nie! Wil Ek nie veel eerder sien dat hulle omdraai van hulle slegte paaie en lewe nie?
24“Maar as regverdige mense omdraai en op die verkeerde paaie gaan loop en slegte dinge begin doen nes ander sondaars, sal hulle toegelaat word om te bly lewe? Nee, natuurlik nie! Al die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal vergete wees. Hulle sal oor hulle ontrouheid doodgemaak word.
25“Tog sê julle: ‘Die Here is nie regverdig nie!’ Luister na My, mense van Israel. Is dit Ek wat onregverdig optree, of is dit julle? 26Wanneer regverdige mense van die goeie af wegdraai en slegte dinge begin doen, sal hulle daaroor doodgemaak word. Ja, hulle sal sterf oor hulle sondige dade. 27En as slegte mense van hulle slegte optrede wegdraai en doen wat die wet vereis en wat reg is, sal hulle hulle eie lewe red. 28Hulle sal lewe omdat hulle oor hulle lewe nagedink het en besluit het om van hulle sondes weg te draai. Sulke mense sal nie doodgaan nie.
29“En tog hou die mense van Israel#18:29 Grondteks huis van Israel. Ook in vers 30. aan om te sê: ‘Die Here is onregverdig!’ Mense van Israel, dit is julle wat onregverdig is, nie Ek nie!
30“Daarom, mense van Israel, sal Ek elkeen van julle oordeel ooreenkomstig wat julle doen, sê die oppermagtige Here. Draai om! Draai weg van julle sondes af! Moenie dat dit julle vernietig nie! 31Plaas al julle opstandigheid agter julle, en kry vir julleself ’n nuwe hart en ’n nuwe gees. Want hoekom wil julle sterf, mense van Israel? 32Ek wil nie dat julle doodgaan nie, sê die oppermagtige Here. Draai terug en lewe!”

Tans Gekies:

ESEGIËL 18: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan