Op 17 Maart, in die twaalfde jaar, het ek nog ’n boodskap van die HERE gekry:
“Mensekind,
treur oor die mense
van Egipte,
want saam met sterk nasies
stuur Ek hulle
na die onderwêreld,
om in die graf te lê.
Sê vir hulle:
‘Egipte, is jy beter
as die ander nasies?
Gaan af en gaan lê
tussen die onbesnedenes!’
Hulle sal omkom
saam met ander
wat deur die swaard
gesneuwel het,
want die swaard
is reeds uitgetrek.
Laat Egipte en al sy menigtes
weggesleep word.
Vanuit die graf
spot die magtige leiers
vir Egipte en sy bondgenote:
‘Hulle het neergedaal
na die graf
en lê nou by die onbesnedenes,
by die slagoffers van die swaard!’
“Assirië lê daar,
omring met grafte van al sy mense,
almal slagoffers van die swaard.
Hulle grafte
is diep in die doderyk,
omring deur hulle bondgenote.
Lank tevore het hulle oral
angs in mense gewek,
maar nou het hulle vyande
hulle doodgemaak.
“Elam en al sy menigtes
is daar
met sy mense rondom sy graf,
almal deur die swaard getref.
Hulle wat onder die lewendes
paniek gesaai het,
het onbesnede
na die doderyk gegaan.
Hulle dra die vernedering
saam met dié wat in die graf is.
Hy lê tussen dié wat dood is,
tussen die grafte van sy krygers.
Almal is onbesnede,
omgebring deur die swaard.
Hulle het verskrikking gesaai
in die land van die lewendes,
maar lê nou verneder
in die graf
saam met dié wat omgekom het.
“Mesek en Tubal is daar,
omring deur die grafte
van hulle menigtes,
almal onbesnede slagoffers
van die swaard,
want hulle het paniek gesaai
onder lewendes in die land.
Hulle is nie met eer begrawe
soos helde
met hulle wapens nie –
met skilde
wat hulle liggame bedek
en swaarde
onder hulle koppe nie.
In die land van die lewendes
het hulle oral paniek gesaai.
“Ook jy, Egipte, sal verslaan lê
tussen die onbesnedenes,
almal slagoffers van die swaard.
“Edom is daar,
met konings en prinse.
Eens was hulle magtig,
maar nou het hulle ook gesneuwel
en lê in die graf
saam met onbesnedenes.
Al die leiers van die noorde,
ook die Sidoniërs is daar.
Hulle wat met hulle mag
verskrikking gesaai het,
lê nou by onbesnedenes
saam met dié wat gesneuwel het.
Hulle deel die vernedering
met dié wat reeds dood is.
“Wanneer die farao
daar aankom,
sal hy verlig wees om te sien
dis nie net sy leër
wat vernietig is nie,
sê die oppermagtige HERE.
Want Ek het paniek gebring
oor almal wat leef.
Die farao en al sy hordes
sal nou by onbesnedenes moet lê,
by hulle wat gesneuwel het.
Ek, die oppermagtige HERE, sê so.”