ESEGIËL 33

33
Esegiël is Israel se wag
1Die Here het vir my gesê: 2“Mensekind, gaan sê vir jou mense: Wanneer Ek ’n leër teen ’n land stuur, kies die mense van die land iemand wat wagstaan. 3As hy die vyand sien aankom, maak hy alarm om die mense te waarsku. 4As die mense wat die alarm hoor, hulle nie daaraan steur nie, is dit hulle eie skuld as hulle doodgemaak word. 5Hulle het die waarskuwing gekry, maar wou nie luister nie. Hulle is verantwoordelik vir hulle eie dood. As hulle hulle aan die waarskuwing gesteur het, sou hulle hulself gered het. 6Maar as die wag die vyand sien aankom en nie alarm maak nie, is hy verantwoordelik as mense sterf. Hulle sal doodgemaak word oor hulle eie sondes, maar Ek hou die wag verantwoordelik.
7“Mensekind, Ek maak jou die wag vir die mense van Israel. Luister na wat Ek vir jou sê en waarsku hulle namens My. 8As Ek sê dat bose mense sal sterf en jy waarsku hulle nie oor hulle optrede nie, sal hulle sterf oor hulle sondes, maar Ek hou jou verantwoordelik vir hulle dood. 9Maar as jy hulle waarsku om om te draai en hulle weier om dit te doen, sal hulle doodgaan oor hulle sondes, maar jy sal nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie.”
Die wag se boodskap
10“Mensekind, sê vir die mense van Israel: Julle sê: ‘Ons oortredings en sondes rus swaar op ons. Ons vergaan! Hoe gaan ons oorleef?’ 11So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek wil nie hê skuldige mense moet doodgaan nie. Ek wil net hê hulle moet omdraai van hulle bose optrede sodat hulle kan lewe. Draai om! Draai weg van julle boosheid, mense van Israel! Hoekom wil julle doodgaan?
12“Mensekind, sê vir jou volksgenote: Die goeie dade van regverdige mense sal hulle nie red as hulle sonde doen nie. En die sondes van bose mense sal nie teen hulle tel as hulle hulle bekeer en wegdraai van hulle sonde nie. 13As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig. 14As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is, 15soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie. 16Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe.
17“Jou mense sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar dis julle wat nie regverdig optree nie! 18As mense wat regverdig is, wegdraai en die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word. 19En wanneer mense wat verkeerd doen, wegdraai en begin doen wat goed en reg is, sal hulle lewe. 20Mense van Israel, julle sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar Ek oordeel elkeen van julle volgens sy of haar dade.”
Verduideliking van Jerusalem se val
21Op 8 Januarie, in die twaalfde jaar van ons ballingskap#33:21 Grondteks Op die vyfde dag van die tiende maand van die twaalfde jaar, van die Hebreeuse kalender. Dit gebeur op 8 Januarie 585 vC., het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, na my toe gekom en gesê: “Die stad het geval!” 22Die vorige aand het die Here aan my verskyn en my mond oopgemaak sodat ek kon praat toe die man die volgende oggend by my kom.
23Toe het die Here vir my gesê: 24“Mensekind, die mense van Juda wat tussen die puinhope in die land Israel bly, sê: ‘Abraham was net een mens, en tog het hy die hele land gekry. Ons is baie. Die land behoort nou aan ons gegee te word!’ 25Sê vir die mense die oppermagtige Here sê: Julle eet vleis met bloed daarin, aanbid afgode en vermoor onskuldiges. 26Julle is moordenaars, afgodsdienaars en egbrekers! Behoort die land aan julle gegee te word?
27“Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: So seker as Ek leef, die mense wat tussen die puinhope leef, sal deur die swaard doodgemaak word. Dié wat in die oop veld bly, sal deur wilde diere doodgemaak word. Dié wat in forte en grotte wegkruip, sal van siekte doodgaan. 28Ek vernietig die land en die mense se trots. Hulle mag sal gebreek word. Israel se berge sal verlate lê. Niemand sal daaroor trek nie. 29Die dag as Ek die land verwoes het oor hulle walglike dade, sal hulle weet dat Ek die Here is.
30“Mensekind, jou mense praat agter jou rug. Hulle praat oor jou in hulle huise en by hulle deure. Hulle sê: ‘Kom, laat ons gekskeer! Kom ons gaan hoor wat die profeet ons vertel wat die Here sê!’ 31Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan. 32Jy vermaak hulle soos iemand wat liefdesliedjies met ’n mooi stem sing of goeie musiek maak. Hulle hoor wat jy sê, maar doen dit nie! 33Maar as al hierdie verskriklike dinge gebeur – en dit gaan gebeur! – sal hulle weet dat daar ’n profeet tussen hulle was.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 33: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan