ESEGIËL 8
8
Afgodsdiens in die tempel
1Op 17 September#8:1 Grondteks op die vyfde dag van die sesde maand van die sesde jaar, van die Hebreeuse kalender. Dit het plaasgevind op 17 September 592 vC. Vergelyk ook die nota by 1:1., in die sesde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die leiers van Juda in my huis gesit. En die hand van die oppermagtige Here was op my. 2Ek het iemand gesien wat soos ’n mens lyk. Van die heupe af ondertoe het dit gelyk of hy van ’n brandende vlam gemaak is. En van sy heupe af boontoe het hy soos gloeiende metaal gelyk. 3Hy het wat na sy hand gelyk het, na my uitgesteek en my aan my hare gevat. Toe het die Gees my in die lug opgetel en Hy het my in ’n visioen wat van God af kom na Jerusalem toe gedra. Ek is na die hek aan die noordekant van die binnehof van die tempel geneem. Daar het ’n groot afgodsbeeld gestaan wat die Here baie kwaad gemaak het.#8:3 Grondteks Daar was die plek van die afgod wat soveel ywer en jaloesie veroorsaak het. 4Skielik was die heerlikheid van God daar, net soos ek dit die vorige keer in die vallei gesien het.
5Toe het die Here vir my gesê: “Mensekind, kyk na die noordekant.” Ek het gekyk. Daar langs die ingang aan die noordekant van die hek na die altaar het die beeld gestaan wat soveel goddelike woede veroorsaak het.
6“Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.” 7Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien. 8Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry.
9“Gaan in,” sê Hy vir my. “Gaan kyk na die afskuwelike dinge wat daar binnekant aangaan.” 10Ek het toe ingegaan. Ek het gesien dat die mure vol kruipende dinge en ander afskuwelike skepsels geteken was. Ek het ook die afgode van Israel gesien wat rondom teen die mure uitgekap is. 11Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang.
12Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die Here sien ons nie. Die Here is uit die land uit!’” 13Toe voeg Hy by: “Kom Ek wys jou nog afskuweliker sondes as dié.” 14Hy het my na die noordelike hek van die Here se heilige woning gebring waar ’n klomp vroue gesit het. Hulle het verlangend na die afgod Tammus geroep. 15“Het jy dit gesien?” het Hy gevra. “Maar Ek sal jou selfs nog groter sondes as hierdie wys!”
16Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die Here se woning. By die ingang, tussen die voorportaal en die altaar, het 25 mans met hulle rug na die Here se tempel toe gestaan. Hulle het na die oostekant gekyk en voor die son in die ooste neergebuig.
17“Het jy dit gesien, mensekind?” vra Hy my. “Is dit nie genoeg vir die volk van Israel dat hulle hierdie afskuwelike sondes doen nie? Moet hulle nou ook die land vol geweld maak, en my woede aanhoudend laat losbreek? Kyk hoe hulle nou in afvalligheid van My druiweranke voor hulle neuse rondswaai! 18Daarom gaan Ek hulle nou in my woede tref. Ek sal hulle nie jammer kry of hulle verskoon nie. En al pleit hulle vir genade, sal Ek nie luister nie.”
Tans Gekies:
ESEGIËL 8: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011