HEBREËRS 12:1-17

HEBREËRS 12:1-17 NLV

Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie. Julle het in die geveg teen die sonde nog nie tot die dood toe teenstand gebied nie. Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem.” Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie? As God julle nie dissiplineer soos Hy met al sy kinders doen nie, is julle nie regtig sy kinders nie, maar buite-egtelik. Ons aardse vaders het ons gedissiplineer, en ons het hulle daarvoor gerespekteer. Sal ons ons dan nie nog veel eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en só waarlik lewe nie? Ons vaders het ons vir ’n kort tydjie gedissiplineer soos hulle dit goedgevind het, maar God doen dit beslis tot ons beswil, met die doel om ons te laat deel in sy heiligheid. Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ’n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gedissiplineer is, ’n vredevolle oes oplewer van ’n lewe volgens die wil van God. Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieë wat knak, en maak julle hardloopbane reguit. Dan sal die lam ledemate nie ingee nie, maar eerder beter word. Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ’n toegewyde lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie. Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se genade verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ’n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie. Sorg dat niemand onder julle seksueel sondig of goddeloos optree soos Esau wat sy eersgeboortereg vir ’n skamele ete verkwansel het nie. Julle weet hoe hy later, toe hy die seën wou hê, weggewys is. Dit was te laat vir egte berou. Selfs sy trane kon dit nie meer moontlik maak nie.