RIGTERS 7

7
Israel oorwin die Midianiete
1Jerubbaäl, dit is nou Gideon, en al sy manskappe by hom is vroeg die oggend op, en het gaan kamp opslaan by En-Garod#7:1a Of die fontein van Garod.. Die Midianiete se kamp was op die vlakte naby die Moré-koppie#7:1b Of Waarsêershoogte., noord van hulle.
2Toe sê die Here vir Gideon: “Jy het te veel soldate by jou. As Ek die Midianiete met soveel manskappe aan jou oorgee, sal die Israeliete teenoor My beweer dat hulle hulleself met hulle eie mag bevry het. 3Sê vir die manskappe elkeen wat bang is om te gaan veg, mag van die Gileadberg af wegdraai en teruggaan huis toe.”
Toe het 22 000 man teruggegaan. Daar het 10 000 oorgebly.
4Toe sê die Here vir Gideon: “Hulle is nog steeds te veel. Vat hulle af na die water toe. Ek sal daar vir jou uitsoek watter saam met jou moet gaan en watter nie.” 5Gideon is toe met die manskappe af na die water toe. Daar het die Here vir hom gesê: “Sit dié wat die water uit hulle hand soos ’n hond met hulle tonge opslurp, eenkant. Skei hulle van dié wat op hulle knieë gaan om die water te drink.” 6Daar was 300 wat die water met hulle hand geskep het om te drink. Al die ander het afgebuk om te drink. 7Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle met hierdie 300 man wat die water uit hulle hand gedrink het, bevry. Ek sal Midian aan jou onderwerp. Al die ander manskappe kan teruggaan na hulle huise toe.”
8Gideon het hulle proviand en die ramshorings wat hulle by hulle gehad het, gevat en hulle teruggestuur. Hy het net die 300 by hom oorgehou.
Die Midianitiese kamp was onder op die vlakte. 9Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op en gaan af na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle oor aan jou. 10As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan. 11Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.”
Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp. 12Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand. 13Gideon het toe nader gesluip. In die kamp was ’n man juis besig om vir sy makker te vertel wat hy gedroom het. “Ek het gedroom,” het hy vertel, “daar kom ’n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ’n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.”
14Sy maat het geantwoord: “Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon, die seun van Joas, nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.”
15Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank. Hy het teruggegaan na die Israeliete se kamp. Hy het sy manskappe opgeroep: “Staan op! Die Here gee die Midianiete oor aan julle.”
16Gideon het die 300 manskappe in drie afdelings verdeel. Hy het vir elke manskap ’n ramshoring in die hand gegee en ook ’n leë erdepot met ’n fakkel daarin. 17Toe sê hy vir sy manskappe: “Kyk mooi wat ek doen. Wanneer ek by die kamp kom, moet julle presies maak soos ek. 18Wanneer ek en almal by my op die ramshorings blaas, moet julle aan die ander kant van die kamp ook op julle ramshorings begin blaas. Skreeu dan: ‘Vir die Here en vir Gideon!’”
19Gideon en die 100 manskappe by hom het tot op die kant van die kamp gegaan. Dit was net na middernag. Die wagte vir die middelste nagwag het toe pas omgeruil. Hulle het toe op die ramshorings geblaas en die erdepotte stukkend geslaan. 20Al drie afdelings het op hulle ramshorings geblaas en die erdepotte gebreek. Hulle het die fakkels in hulle linkerhand gehou en die ramshorings in hulle regterhand. Hulle het begin skreeu: “’n Swaard vir die Here en vir Gideon!” 21Elkeen was op sy pos reg rondom die kamp. Hulle het gesien hoe die hele kamp vervaard rondskarrel en paniekerig skreeu. 22Toe die 300 Israeliete op hulle ramshorings blaas, het die Here veroorsaak dat die mense in die kamp mekaar aanval. Hulle het uit die kamp gevlug tot so ver as Bet-Sitta na Sereda se kant toe en tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.
23Gideon het elke man uit Naftali, Aser en die hele Manasse opgeroep. Hulle het die Midianiete agtervolg. 24Gideon het boodskappers uitgestuur na die heuwels van Efraim toe om te sê: “Kom af en val Midian aan. Sny hulle af by die driwwe van die Jordaan en by Bet-Bara.”
Hy het al die manskappe van Efraim opgeroep. Hulle het die driwwe by die Jordaan en Bet-Bara beset. 25Hulle het Oreb en Seëb, die aanvoerders van die Midianiete, gevang. Die Israeliete het Oreb by die Orebrots en Seëb in die Seëbparskuip doodgemaak. Hulle het die Midianiete verder agtervolg. Ná die tyd het hulle die koppe van Oreb en Seëb na Gideon toe gebring duskant die Jordaan.

Tans Gekies:

RIGTERS 7: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan