JEREMIA 35
35
Die Rekabiete
1Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die tyd toe Jojakim, seun van Josia, koning van Juda was. Hy het gesê: 2“Gaan na die plek waar die Rekabiete bly. Nooi hulle om saam met jou na die tempel van die Here te kom. Vat hulle na een van die vertrekke binne-in die tempel en bied vir hulle wyn aan om te drink.”
3Ek het toe vir Jaäsanja seun van Jeremia en kleinseun van Gabassinja gaan haal, en ook al sy broers en seuns en al die Rekabietefamilies. 4Ek het hulle na die tempel van die Here toe gebring. Ons het toe na ’n vertrek gegaan wat aan die seuns van Ganan seun van Jigdalja behoort het. Hy was bekend as ’n man van God. Hierdie kamer was langs die een wat die amptenare in die paleis gebruik het en reg bokant die kamer wat Maäseja seun van Sallum gebruik het. Maäseja was in beheer van die tempel se ingange. 5Ek het bekers met wyn en glase voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink.
6Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee: ‘Nie julle of julle nageslag mag ooit wyn drink nie. 7Julle mag ook nie huise bou of graan of wingerde plant nie. Julle moet altyd in tente bly. As julle hierdie voorskrifte volg, sal julle lank in die land bly waar julle soos bywoners leef.’ 8Ons was nog altyd gehoorsaam aan die opdrag van Jonadab seun van Rekab, ons vader. Ons het niks gedoen wat hy ons beveel het om nie te doen nie. Ons het nog nooit wyn gedrink nie, nie ons of ons vroue, seuns of dogters nie. 9Ons het ook nie huise gebou nie en ons besit geen wingerde, landerye of graan nie. 10Ons bly in tente en gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab, ons voorouer, vir ons gegee het. 11Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek, was ons bang vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou in Jerusalem.”
12Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee: 13“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Gaan na die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem en sê vir hulle: ‘Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees. 14Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie.
“‘Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle weier om na My te luister.
15“‘Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur om julle te waarsku om op te hou met julle verkeerde dade en om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede kon bly in hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Maar julle wou nie na My luister of My gehoorsaam nie.
16“‘Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het die bevele van hulle voorouers nagekom. Maar hierdie volk het geweier om na My te luister.’
17“Daarom sê die Here God, die Almagtige, die God van Israel: ‘Omdat julle nie na My wou luister nie, sal Ek al die rampe waarmee Ek gedreig het oor die mense van Juda en Jerusalem bring. Dit sal gebeur omdat julle julle nie aan My gesteur het toe Ek julle geroep het nie, en julle het My ook nie geantwoord nie.’”
18Maar aan die Rekabiete het Jeremia gesê: “Die Here die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle het julle voorvader Jonadab in alles wat hy gevra het, gehoorsaam. Julle het al sy voorskrifte nagekom en gedoen soos hy julle beveel het. 19Omdat julle dit gedoen het, sal daar altyd nakomelinge van Jonadab wees wat My sal dien. Dit belowe Ek, die Here, die Almagtige, die God van Israel!’”
Tans Gekies:
JEREMIA 35: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011