JEREMIA 37

37
Sedekia soek raad by Jeremia
1Sedekia was ’n seun van Josia. Koning Nebukadnesar van Babel het hom as koning oor Juda aangestel in die plek van Jojagin seun van Jojakim. 2Nie Sedekia, sy amptenare of die gewone mense van die land het hulle gesteur aan wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het nie.
3Tog het koning Sedekia vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia gestuur om te vra: “Bid namens ons tot die Here ons God.”
4Jeremia was in dié tyd nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense. 5Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek teen die Babiloniese leër wat Jerusalem omsingel het. Toe hulle hoor van die Egiptiese opmars, het die Babiloniërs van Jerusalem af teruggetrek.
6Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee: 7“Die Here, die God van Israel, sê: Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om uit te vind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help. 8Dan sal die Babiloniërs terugkom en weer teen hierdie stad kom veg. Hulle sal die stad inneem en afbrand.
9“Die Here sê: Moenie julleself bedrieg en sê: ‘Die Babiloniërs sal ons uitlos’ nie. Hulle sal nie! 10Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, sal dit niks help nie. Hulle sal uit hulle tente strompel en hierdie stad aan die brand kom steek.”
Jeremia word opgesluit
11Nadat die Babiloniese leër teruggetrek het van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was, 12het Jeremia van Jerusalem af weggegaan na die grondgebied van Benjamin. Hy wou die eiendom wat hy gekoop het, gaan besigtig. 13Maar toe hy by die Benjaminpoort wou uitgaan, het ’n kaptein van die wagte met die naam Jirija hom gearresteer en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.
14Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie die waarheid nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die amptenare toe gebring.
15Die amptenare was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Hulle het sy huis in ’n tronk verander.
16Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit waar hy ’n baie lang tyd gebly het. 17Later het koning Sedekia Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou van hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my?”
Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het! U sal in die mag van die koning van Babel beland.” 18Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het? 19Waar is julle profete nou wat geprofeteer het dat die koning van Babel nie teen julle of hierdie land sal optrek nie? 20Meneer, ek smeek u: Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.” 21Koning Sedekia het opdrag gegee dat hulle Jeremia na die gedeelte van die paleis moes neem waar die wagte bly. Hulle moes ook elke dag vir Jeremia ’n brood gee wat van die bakkery af kom solank daar nog brood in die stad te kry was. So het Jeremia dan in die wagte se kwartiere gebly.

Tans Gekies:

JEREMIA 37: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan