Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense. Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur. Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê: “Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?” Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai. Daarop het hulle Jesus van Kajafas af na die hoofkwartier van die Romeinse goewerneur gebring. Dit was vroegoggend. Self het hulle nie ingegaan na die hoofkwartier nie sodat hulle nie onrein sou word nie, met die oog daarop om die Paasfees te kan vier. Pilatus het buitentoe na hulle gestap en gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” Hulle antwoord was: “As hy nie ’n misdaad gepleeg het nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Neem hom en gaan oordeel hom volgens julle eie wet.” Die Jode het egter vir hom gesê: “Ons word nie toegelaat om enigiemand tereg te stel nie.” Dit het só plaasgevind sodat die woorde van Jesus vervul sou word toe Hy gesinspeel het op watter vorm van dood Hy sou sterf. Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?” “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.” “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus. “U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.” Pilatus sê toe vir Jesus: “Wat is waarheid?” Terwyl hy dit sê, gaan Pilatus weer buitentoe na die Jode en kondig aan: “Ek vind geen skuld in hom nie. Dit is egter die gebruik by julle dat ek iemand vir julle loslaat op die Paasfees. Wil julle dus hê dat ek vir julle die Koning van die Jode loslaat?” Hulle skree toe terug: “Nee, beslis nie daardie man nie, eerder vir Barabbas!” Barabbas was ’n misdadiger.
Lees JOHANNES 18
Luister na JOHANNES 18
Deel
Vergelyk alle weergawes: JOHANNES 18:19-40
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's