Johannes 18:19-40

Johannes 18:19-40 AFR20

Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die •sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom 'n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur. Simon •Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe, 'n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?” Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het 'n haan gekraai. Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie •onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. •Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. Pilatus het toe weer 'n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien 'n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het u gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” “Is u dan tog 'n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ” Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.” “Maar daar is 'n gebruik vir julle dat ek vir julle een persoon vrylaat gedurende die Pasga. Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hulle het toe weer geskreeu: “Beslis nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” Barabbas was 'n misdadiger.

Video vir Johannes 18:19-40