JOHANNES 2:13-22

JOHANNES 2:13-22 NLV

Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan. In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels. Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer. En vir die smouse wat die duiwe verkoop het, het Jesus gesê: “Vat hierdie goed dadelik weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie!” Jesus se dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die ywer vir u huis brand in my binneste.” Die Jode het daarop reageer: “Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.” Die Jode kap toe heftig terug: “Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?” Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat. Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het.

Video vir JOHANNES 2:13-22

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 2:13-22