JOHANNES 3:22-36

JOHANNES 3:22-36 NLV

Hierna het Jesus en sy dissipels na die Judea-gebied vertrek. Hy het daar saam met die dissipels oorgebly en mense gedoop. Johannes was ook besig om by Enon, in die omgewing van Salim, te doop omdat daar genoeg water was. Die mense het daarheen gestroom en is gedoop. Op daardie tydstip was Johannes nog nie in die tronk gegooi nie. Daar het toe ’n meningsverskil oor reinigingsgebruike ontstaan tussen Johannes se dissipels en ’n Joodse man. Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, die man wat aan die oorkant van die Jordaanrivier saam met u was, oor wie u getuig het, Hy doop ook en almal stroom na Hom toe.” Johannes het daarop reageer: “’n Mens is nie in staat om iets te ontvang as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee is nie. Julle self is my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Messias nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’ Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort; die vriend van die bruidegom gaan staan en luister of hy kom, en hy is sommer baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom loop ek nou oor van blydskap. Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem. “Hy wat van bo kom, troon bo almal uit. Hy wat uit die aarde ontspring het, is deel van die aarde en praat as deel van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, troon bo almal uit. Wat Hy gesien en gehoor het, daaroor getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur verseël dat God regtig God is. Hóm het God gestuur om die woorde van God mee te deel, want God gee Hom sy Gees sonder om dit af te meet. Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee. Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.”

Video vir JOHANNES 3:22-36