Johannes 3:22-36

Johannes 3:22-36 AFR20

Hierna het Jesus en sy dissipels na die landstreek Judea gegaan en daar 'n rukkie saam met hulle vertoef, en mense laat doop. Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, omdat daar baie water daar was, en mense gekom het om hulle te laat doop. Johannes was immers nog nie in die tronk gegooi nie. Daar het toe 'n woordestryd tussen sommige van Johannes se dissipels en 'n Jood oor die seremoniële reiniging ontstaan. Hulle kom toe na Johannes en sê vir hom: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, die Een van wie u getuig het – kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.” Johannes het geantwoord: “'n Mens kan niks ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle kan self getuig dat ek gesê het dat ek nie die Christus is nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Die een wat die bruid het, is die bruidegom, maar die vriend van die bruidegom wat daar staan en na hom luister, is baie bly oor die stem van die bruidegom. Daarom is hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, en ek minder. “Die Een wat van bo af kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het plegtig bevestig dat God waaragtig is. Want Hy vir wie God gestuur het, spreek die woorde van God; God skenk immers die Gees nie in geringe mate nie. Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom. ”

Video vir Johannes 3:22-36