JOB 15

15
Elifas praat ’n tweede keer
1Elifas die Temaniet
het geantwoord:
2“Jy is mos ’n wyse man
en tog praat jy
betekenislose woorde.
Jy is soos ’n sak vol wind!
3Dis verkeerd
om so dwaas te praat.
Sulke woorde bereik niks nie.
4Vrees jy God nie?
Het jy geen ontsag
vir Hom nie?
5Jou sondige gedagtes
vertel jou mond
wat om te sê.
Jou woorde is misleidend.
6Maar hoekom sou ek
jou veroordeel?
Jou eie mond doen dit!
Jou lippe getuig klaar
dat jy skuldig is.
7“Is jy die eerste mens
wat op aarde gebore is?
Is jy gebore
voor die berge gemaak is?
8Is jy lid van God se geheime raad?
Behoort wysheid aan jou alleen?
9Wat weet jy
wat ons nie weet nie?
Wat snap jy
wat ons nie ook verstaan nie?
10Tussen ons is daar ou manne
met grys koppe.
Party van ons is ouer as jou pa.
11Beteken dit vir jou so min
dat God jou bemoedig?
Is sy sagte woord
nie genoeg nie?
12Wat het jou verstand
gevange geneem?
Wat het jou uitsig verdof,
13dat jy teen God draai
met al hierdie bose dinge
wat jy sê?
14“Kan ’n sterfling suiwer wees,
iemand wat uit ’n vrou gebore is,
regverdig?
15My wêreld!
God vertrou nie eens
die engele nie!
Selfs die hemel
kan nie suiwer wees
in sy oë nie.
16Hoeveel minder suiwer
is ’n korrupte mens
vol sonde
met ’n dors na boosheid?
17“As jy maar net
na my wil luister,
sal ek jou leer.
Ek wil jou uit my ervaring
iets vertel.
18Wat ek beleef het,
was ook die ervaring
van alle ander wyse mense.
Ook hulle het hiervan gehoor
by hulle voorvaders.
19Dit kom al uit die tyd
toe die land
aan hulle gegee is,
nog voor daar vreemdelinge
tussen hulle gebly het:
20Bose mense
is lewenslank in pyn.
Jare se moeite word gebêre
vir die gewetenloses.
21Hulle word omring
deur verskrikking,
selfs in tye van vrede
vrees hulle ’n aanval
van die vernietiger.
22Hulle waag dit nie
in die donker nie.
Hulle is bang
om vermoor te word.
23Hulle dwaal rond vir brood
en sê: ‘Waar is dit?’
Hulle weet
die dag van hulle ondergang
is naby.
24Daardie donker dag
verskrik hulle,
dit oorweldig hulle
soos ’n koning wat regmaak
vir ’n aanval.
25Want hulle vuiste
is teen God gebal
om die Almagtige
uit te daag.
26Agter hulle sterk skilde
storm hulle uitdagend af
op Hom.
27“Hierdie bose mense
is vet en ryk.
Hulle lewe in oorvloed.
28Maar hulle woon in stede
wat verwoes sal word.
Hulle sal in verlate huise bly
wat wil inmekaarval.
29Hulle sal nie veel langer
ryk wees nie.
Hulle geld sal opraak
sodat hulle nie meer
oral in die land
besittings sal hê nie.
30Hulle sal die donkerte
nie kan ontsnap nie.
Vuur sal hulle verteer
en die asem van God
sal hulle vernietig.
31Laat hulle nie langer
op hulle skatte vertrou nie.
Hulle bedrieg hulleself,
want ydelheid
is hulle beloning.
32Hulle sal sterf
in die fleur van hulle lewe,
en hulle sal wees soos ’n tak
wat nooit weer groen sal word nie.
33Hulle is soos druiwestokke
wat hulle trosse afgooi
voor dit ryp is,
soos ’n olyfboom
wat sy bloeisels afgooi
voor dit vrugte kan vorm.
34Die goddelose lewe
is vrugteloos.
Hulle huise,
opgerig deur omkopery,
sal deur vuur verteer word.
35Hulle bedink moeilikheid
en kwaad.
Hulle harte bring bedrog voort.”

Tans Gekies:

JOB 15: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan